Jy blaai in die argief vir 2021 September.

by crito

Om te doleer of nie

September 16, 2021 in Uncategorized

Die nuwe woord wat ons vandag leer, liewe broers en susters, is doleer.

Dis ’n woord wat só diep in die grein van onse mense vas is, dat ek my heel buite weste skrik elke keer dat ek dit sien of hoor. Mensig! Wat weet die mense van my? Ek, Afrikanervrou in merg en gespeente – my hele wese voel blootgelê.

Presies soos die mense van Luthuli-Huis voel wanneer Carl Niehaus hulle vertel van die verskil tussen IRT3 en IRP5.

Maar dis ’n ander hartseer, daai. Laat ek liewer preek oor die dinge waarvan ek weet. Nie dat ek al baie lank op hierdie podium staan nie, nè? Diegene onder julle, broeders en susters, wat al meer as twee dekades geëmansipeer is, sal weet dat daar dekades lank broeders was wat baie sterk gedoleer het oor emansipasie.

Dit was ’n felle stryd, vra maar vir my vriendin Christina. Maar dis gewen.

En nou doleer daar weer ’n klomp broeders. Terwyl die lewe by hulle verby- en aangaan. Laat ons nie leedvermakerig wees en sê dat die agterosse ook in die kraal kom nie. Want ons weet mos dat die agterosse, soos wafferse anti-vaccers, dit nie altyd by die ICU van die geesteslewe verbymaak nie.

Mag ek, geagte gemeente, vir julle van my persoonlike ondervinding vertel?

Die afgelope paar weke het ek in relatiewe afsondering gaan mediteer op ’n Bosveldplaas anderkant Klaserie. Ek moes my geestelik gaan herbewapen nadat my seun my in die sterkste moontlike taal aangespreek het oor my mees onlangse skrywe.

Ek het besluit dat die gewoontes van die mondaine nie meer by ’n vrou van my ouderdom wenslik is nie. Saans het ek voor die kaggel gaan sit en tog te lekker gelees aan die boeke wat wyle die eienaar van die plaas versamel het. Ek het ’n eksemplaar gevind van Abr. H. Jonker se kortverhaalbundel Leiers en my verstom oor die waagmoed van die Afrikaanse Pers-Boekhandel om sulke loutere snert in 1948 uit te gee en boonop verkoop te kry in groot getalle. G’n wonder Ingrid Jonker het haar vir haar pa geskaam nie.

En toe vra ek myself af watse dolering dan nou hier besig is om in my gemoed te voltrek? Dit was egter só lekker daar voor die kaggel, dat ek verder lees, en by die kortverhaal “Die keuse” afkom op ’n plekhouertjie waarop lesers aangemoedig word om al die Rooi Jan-boeke te lees sodat hulle kan deelneem aan ’n kompetisie om £100 te wen. Al die titels word gelys – van Rooi Jan – Die Skrik van K•••••land tot by Rooi Jan – Jagters van die Withart – en as mens hulle almal gelees het, sal jy die vrae wat Casper H. Marais self opgestel het, kan antwoord en daardie groot bedrag geld wen.

En dít was die presiese oomblik waarop ek besef het dat ek nie gedoleer het nie. Ek meen, ek het al Brian Fredericks se As die Cape Flats kon praat gelees. Toe ek gelouter terugkeer huis-toe by dorpe verby wat in 1948 nog Witbank en Middelburg genoem is, was ek diep onder die indruk van hoe bly mens kan wees dis nie meer 1948 nie. Sommige dolerings neem 40 jaar om deur te spoel deur die niere van die groot gemeentelike liggaam. Maar dit doen, om my seun se mees geliefkoosde uitdrukking aan te haal.

Hoor my aan, liewe broeders en susters. Kan ek julle aanmoedig om Abr. H. Jonker se Leiers te gaan soek, en “Die keuse” te lees. Die man mag totaal humorloos gewees het, maar hy het geweet van dolering. “Die keuse” is dié groot Afrikaanse doleringsverhaal. Die stryd tussen ds. Cornelius Verhaegen en die dolerende gemeentelid Izak Meyer.

Ek het dit tog so geniet om terug te reis na my huis en gemeente. RSG geluister, liewe vriende, en toe Amoré Bekker op ’n slag sê “Laat dit juig,” het ek uitgeroep van lewensvreugde.

Maar laat ons eerlik wees, ek staan hier voor julle met ’n sware gemoed. As ek ds. Verhaegen se wyse woorde in “Die keuse” kan aanhaal: “Broeders, ons moet sowel vir die stoflike as vir die geestelike welvaart van ons gemeentelede sorg.” Onthou, in 1948 was ons susters nog nie deelnemend nie.

En toe ek by die huis is en op datum kom met my werk, is dit asof dit só bestem is dat my oog heel eerste val op suster Ingrid Winterbach se besinning oor Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal Deel XVI, en wel op die bladsye van Beeld, en vir mense verder weg op die webwerf van Netwerk24.

As ek haar woorde mag eggo, wat is lekkerder, in ’n tyd van onbehae, inperking en bowenal taalverdorring en -verwarring, ja, ’n tyd waarin dolering die wagwoord van soveel soekende siele is – nou vra ek by herhaling, wat is dan lekkerder as om ’n taalmeester en een van die skranderste geeste van ons era se resensie oor die nuwe band van die WAT te lees?

Niks nie! Ek kan aan niks dink wat my meer vreugde verskaf as suster Winterbach wat ’n woordeboek resenseer soos dit behoort gedoen te word nie. Ander resensente kry die maklike opdragte, maar die WAT is ’n opdrag wat aan luttele resensente hoofbrekens sal besorg.

Onse suster bekyk die WAT XVI uit elke moontlike hoek. Sy skryf met soveel gesublimeerde geesdrif dat selfs haar enumerasie van nuwe woorde en hul betekenis ’n mens gefassineerd en met opgehoue asem laat lees.

Maar ja, daar sluip wel ’n enkele foutjie deur, wat ek met groot vrymoedigheid voor die deur van die koerant se subredakteurs lê. Op een plek verwys sy na “f*l” wat seer sekerlik ’n tikfout moet wees. Sou dit wees dat sy fǿl wou skryf, wat ’n vreemde manier is om “foël” te skryf, maar met woordeboeke loop ’n mens mos dikwels fonetiese dingetjies raak. En spel ’n mens daardie vloekwoord nie in elke geval met ’n v nie?

Natuurlik kan dit wees dat sy eintlik wou verwys na die woord wat Johan Combrink beskou het as een van die interessantste, kleurvolste woorde in Afrikaans, “fok”, maar julle het my dit nie hoor sê nie en veral nie hier nie, ek haal net Johann Combrink aan.

Maar hoe dit ook mag wees, geagte broeders en susters, in daardie resensie (ek benoem dit nou al vir volgende jaar se kykNet-Rapport-resensiepryse) is daar een ding wat my ernstig verontrus het, en eintlik die spilpunt is van vandag se preek.

Ek haal suster Winterbach aan: “Aangesien die gedrukte weergawe van die WAT gaandeweg verouderd raak, en in die lig van die groot drukkoste en dalende verkope, is besluit dat vanaf die letter T die WAT slegs aanlyn beskikbaar sal wees.” Tot sover suster Winterbach.

My eksegese van hierdie aanhaling betrek twee sake.

Die eerste is dat die WAT in tred met die eise van ons tyd nou saampraat met die groot woordeboeke soos Van Dale en die Oxford, wat elektronies beskikbaar is. Dis goed, en dit is reg so.

Die tweede is dat onse Afrikaanse broeders en susters as kopers van die woordeboeke wat ons taal help verstaanbaar hou, besig is om in groter wordende getalle te doleer. Dít is onheilspellend. Want doleer beteken dat die broeders en susters nie meer deelneem nie. Hulle wys hul afkeer. Hulle gee nie meer om nie. Dit traak hulle nie. Hulle voel vere.

Is die dood in die pot vir Afrikaans?

Wat sal julle doen as ek vir julle sê dat die ander ou staatmaker, die HAT, ook so stilweg deur sy uitgewer na die begraafplaas van woordeboeke gestuur is?

Ja, ek voel ook só. Te pletter.

Laat ek afsluit deur suster Winterbach te bedank daarvoor dat sy vir ons stof tot vreugde én nadenke gegee het.

Kom, laat ons sing.