by

Veg voort

Junie 30, 2021 in Uncategorized

Verre sy dit van my om ’n unieke dialektiek te postuleer, julle weet, maar ek voel nou só deur diepe dankbaarheid oorweldig dat ek my moet keer of ek begin klink soos FC Hamman op Instagram. Dit is tyd om op die trompette en ramshorings te blaas, en die gemeste kalf ter slagting te bring. Ons het rede om fees te vier.

Die main man wat nie kan tel nie gaan hom vyftien maande lank self-isoleer saam met die Kreti en Pleti by Nkandla. En tensy hy skielik binne die volgende vier dae in Dubai of Moskou of Havana gehospitaliseer word met lewensgevaarlike simptome van akute gemoedsbekakking, kan ’n mens net aanneem dat hy nou minder geredelik gaan chat as Marlene van Niekerk se Agaat.

O festina! O lente!

So, kom ons bekou die onderwerp van ons land se mees vernuftige Pilates-beoefenaar as afgehandel. Kom ons kry die aandag terug na boekresensies.

Ek is diep bekommerd daaroor. Ek meen, het julle die afgelope drie weke gekyk hoeveel resensies daar oor nuwe Afrikaanse publikasies verskyn het? Al skryf Emile Joubert in Afrikaans in Rapport oor Schalk Burger se wonderwaaragtigheid en sy agting-inbesoemende menschheid, kan mens nie ignoreer dat dit ’n Engelse boek is nie.

En wat anders is daar? As ek nog ’n resensie oor ’n skitterende krimi moet lees, gaan ek begin wonder of ek nie die punt heeltemal mis nie. Is dit nie dalk ’n geval dat hierdie genre eintlik ’n soort selfhelp-kursus is nie? Leer hoe om reeksmoordenaar te wees in tagtig maklik leesbare romans, elkeen wonderlik spannend en geskryf deur opwindende nuwe skryftalente wat James Patterson na ’n verloopte kopieskrywer in die reklamewêreld laat lyk.

Of digbundels. Nou, daar is ’n wilde soort plesier om iets soos Johan Myburg se snetter oor Marlise Joubert se Disteltyd by Boeke24 te lees. Dit is duidelik dat dit ’n substansiële bundel is, en Myburg se waardering daarvoor is oortuigend. Ek wens ek kon ’n bundel se inhoud só na vore bring – enigiemand wat al ooit ’n digbundel probeer resenseer het, sal weet hoeveel ure (dae?) se werk dit Myburg moes geneem het.

Tog kon ek nie help om twee lekker stukkies humor daarin te vind nie.

Die eerste is hoe mooi hy sy woordspel met die bundeltitel ingemessel het in sy betoog. Dis teltyd, inderdaad!

Die tweede is sy aanhaling uit Umberto Eco “On the Disadvantages and Advantages of Death”, naamlik dat die enigste manier waarop mens jou kan voorberei op die dood is om jouself te oortuig dat almal om jou volslae idiote is. Moet dit net nie té vroeg in jou lewe doen nie.

Ek bewonder die vernuf waarmee Myburg die Eco-aanhaling benut om Joubert te takseer, hoe hy sy reaksie op die verse daarmee verryk. Dit het my laat smile.

Ek het onlangs op ’n wonderlike uitspraak van Steve Martin afgekom: “Despite a lack of natural ability, I did have the one element necessary to all early creativity: naïveté, that fabulous quality that keeps you from knowing just how unsuited you are for what you are about to do.” (Born Standing Up)

Wens net ek kon dit so vernuftig soos Johan Myburg benut, korporaal.

Die probleem met besprekings van poësie op die oomblik is dat mens in die staat van Covid-beleg gemengde gevoelens het oor die introspeksie wat digkuns vereis. Ek kon myself nie keer om te wonder of Myburg se Eco-aanhaling nie ook sinspeel op die debat rondom die inenting-jabs nie. Hè?

Darem was daar ook Riete Rust se bespreking van Pieter van Zyl se Verhale van hoop: Só help jy jou geliefde en jouself (Rapport). Oor geestesversteurings soos depressie, angs en so meer, ernstig bedoel en ernstig geressenseer. Sy is ’n beter mens as ekke, wat die boek vrolik sou aanbeveel het vir Carl Niehaus en sy geliefde Zuma. Niehaus se eie boekie het ook mos oor hoop gegaan, as ek reg onthou.

Ek reageer soms impulsief. Ek weet dis ’n fout, maar ek kan myself nie help nie. So ’n ruk gelede het ek Maryke Roberts se resensie op LitNet gelees oor Bettina Wyngaard se boek Onverskrokke vroue. Uitdagings en oorwinnings vanaf Bybelse tye tot vandag.

Besiel deur die resensie, het ek dadelik die boek by Amazon gekoop en op my Kindle begin lees. En op die moeilike manier agtergekom dat Roberts op ’n sagte manier wou sê dat die boek se titel misleidend is. Ek het haar frase “Die boek is egter meer ’n samevatting van die onderdrukte vrou deur die eeue” nie goed genoeg gesnap nie. Of dalk was dit net té subtiel verwoord.

Dit laat my dink aan ’n ou Bob Hope-movie, Paleface. Daar is ’n toneel waarin ’n klomp mense, denkend dat Bob Hope ’n heldedaad verrig het (verkeerdelik, natuurlik), hom op hul skouers tel en by die saloon indra. Waarop Hope met daardie kenmerkende gryns van hom vra: “Ek wonder wat doen die lafaards nóú?”

Nou onthou ek. Om te veg vir hoop. Dít is die titel van Carl Niehaus se boek.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.