by

Af en op

Junie 3, 2021 in Uncategorized

Vandag se mymering, liewe broeders en susters, begin op ’n lae noot, bou dan op tot ’n majeure gevoelsontlading, en verstil dan in ons alger se gemoedere. Luister nou mooi.

Werkloosheid in ons land staan op 32%. Die dag kan nie vêr wees dat transitorowers broodlorries begin stop nie. Nuwe groeipunte vir die polieste is in sig. Ons main man wat count begin al dink om regter Zondo af te tree en ’n Waarheids- en Versoeningskommissie in sy plek aan te stel sodat die kaders kan askies sê en aangaan met hul lewens. Soos sake nou staan, kan die agbare kabinetslede maar hul plekke by regter Zondo bespreek die dag wanneer hulle in hul poste aangestel word.

Vanwaar die grimmigheid, hoor ek julle prewel. Nee, dis nie Neels Jackson se artikel oor sy Drie dekades van verandering in Rapport waarmee ek nou uiteindelik opgevang het nie. Daai is nice, julle weet, so nice as mens maar kan wees oor die kerk wie se skranderste predikante André Barlett wou verguis, dieselfde instansie wat destyds geweier het om Abraham Luckoff te ligitimeer. Wat ’n mensch was Koot Vorster nie, nè? Inderdaad, ek het sterk opgevang met nuwe publikasies.

Nee, die suur gemoed het my vroeg hierdie week gepak toe ek Barend van der Merwe se bespreking op LitNet lees oor Stephan Joubert se Emigreer of bly: Is die gras werklik groener aan die ander kant? Vir ’n oomblik het ek gevoel soos iemand wat Saarkie se drummer die eerste keer in aksie gesien het.

Ek het Van der Merwe uit sy boekwaarderings leer ken as ’n sagmoedige mens. Iemand wat die binnevet van die boud geredelik aangee. Maar het hy onder Stephan Joubert ingevlieg! Toe ek klaargelees het, het my kop gevoel soos Pearly Sweetcake s’n moes gevoel het na ’n lang trek van die Deadly Pugaroo.

As daar nou een onderwerp is wat my die horries gee, is dit die ene oor die voor- en nadele van emigrasie. Dis soos ’n Rorschach-toets waarvan die ink begin skif terwyl jy daarna kyk.

Die vet weet, is dit moontlik dat iemand op Bybelse gronde ’n saak probeer maak vir mense om in Suid-Afrika aan te bly? Ek het dadelik die resensie onder my broer se aandag gebring. Ek dog hy rand my aan. Sy seun het nou al in Kenia, Dubai, Pakistan en Irak gewerk, as siviele ingenieur, omdat hy nie plaaslik werk kan kry in ’n mark waarin daar ’n tekort aan opgeleide ingenieurs is nie. Julle weet hoekom.

Maar laat ek net noem, terwyl ek my hartslag weer tot bedaring laat kom, dat ek baie hou van resensies soos dié wat Barend van der Merwe hier geskryf het. Hy reageer soos iemand wat nie ’n GIF afgeskakel kry op Facebook nie. Ergerlik. Wat meer kan ’n skrywer verwag? ’n Agumenterende antwoord is tog soveel meer aanvaarbaar as ’n vergoelikende, onkritiese “resensie”.

Elke Afrikaanssprekende emigrant is in my oë een leser van Afrikaanse boeke minder. Een siel wat nooit weer enige erg sal hê aan Afrikaanse boekbesprekings nie, wat nie Afrikaanse koerante en tydskrifte lees nie. Om maar net ’n paar dinge te noem wat deel vorm van die groter fenomeen van ’n sterwende Afrikaanse kultuur.

Maar Barend van der Merwe roep hom uit en hy roep hom sterk. Almal weet ons land is in die moeilikheid. Daar is baie redes om te wil gly, sê Van der Merwe. En baie om te bly. Maar om soos Stephan Joubert die bly-argument aan die Bybel te wil hak, is baie soos om aan te dring om die Jokers in te sluit in die pak kaarte vir brug. En dis ek wat so sê, nie Barend van der Merwe nie. Hy is baie meer subtiel.

Met die gemoed gekalmeer lees ek toe volgende Willie Burger se resensie van PP Fourie se ’n Hart is so groot soos ’n vuis. Ook op LitNet. En ek besef dit so helder soos ’n meisie in ’n Alexander Strachan-roman: Die Literêre Kommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het ’n baie groot probleem ophande.

Sien, ’n Hart is so groot soos ’n vuis is een van die boeke onder my ingehaalde leeswerk van die afgelope weke. Alles wat Jean Meiring en die ander resensent daaroor geskryf het, kan as stelreëls vir hierdie werk aanvaar word. Willie Burger se bespreking, daarteenoor, is monumentaal. Die kategismus. Dis nie alleen ’n werklik insiggewende analise van ’n Hart is so groot soos ’n vuis nie, maar dit gee ’n uitstekende teoretiese aansluiting by sowel die ego-dokumentasie, wat Hennie Aucamp so fluks bedryf het, as die verskynsel van die outeur wat die fiktiewe gegewe betree en deel word van die roman.

’n Hart is so groot soos ’n vuis gaan aanstaande jaar in aanmerking kom vir die Hertzogprys. En as daar enige regverdigheid in die Afrikaanse letterkunde oor is, sal een van sy mededingers Frederik de Jager se Man op ’n fiets êrens heen wees.

Nou, wanneer die Literêre Kommissie aanstaande jaar gaan sit, weet ek nou al voor my onheilige siel dat iemand gaan sê dis darem jammer vir ’n Hart is so groot soos ’n vuis, want dis’n vertaling. En iemand anders sal aan haar vape suig en verklaar dat dit so ’n goue jaar vir herinneringskuns was, maar tog jammer dat Man op ’n fiets êrens heen eintlik ’n bloemlesing is van tydskrif-essays.

Maak ’n plan, mense. Ek onthou iets wat oud-uitgewer Hettie Scholtz jare gelede by ’n leeskring-byeenkoms op Welkom gesê het. Uitgewers hou nie daarvan om boeke uit te gee wat net soos ander boeke is nie. Hulle soek boeke wat vars is, nuut is.

Bekroon ’n slag varsheid.

En nou die punt waar jul gemoedere kan verstil. Gaan kyk op LitNet na Erla Diedericks se gewiekste resensie van Die vyfde slag deur Johann Grobbelaar. Ek het gedink ek weet alles oor seks wat nodig is om te weet.

O nee …

3 antwoorde op Af en op

  1. Hierdie rubriek is sommer baie meer leesbaar nadat Sonja Loots dit oorgeneem het. Dit lees net so lekker soos Vra vir Janie in Rapport. Doen so voort!

  2. Nie seker waarom mense wat immigreer kwansuis minder Afrikaans lees nie. Ek is ‘n immigrant en lees meer Afrikaans as meeste Afrikaners in SA. Want ek is lief vir my taal. Almal stuur vir my boeke. My kinders praat na jare steeds Afrikaans soos julle en ons – dis ons huistaal. My Kiwi kleinkinders sing Afrikaanse liedjies met oorgawe en veel meer. Ek glo dat mens se Moedertaal is in jou hart – vir altyd.

  3. Sandra Prinsloo, jy praat nou met stoute binnekennis … Plaas jou getuienis op die daad te berde.

Los ’n antwoord vir Sandra Prinsloo. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.