Jy blaai in die argief vir 2021 Junie.

by crito

Veg voort

Junie 30, 2021 in Uncategorized

Verre sy dit van my om ’n unieke dialektiek te postuleer, julle weet, maar ek voel nou só deur diepe dankbaarheid oorweldig dat ek my moet keer of ek begin klink soos FC Hamman op Instagram. Dit is tyd om op die trompette en ramshorings te blaas, en die gemeste kalf ter slagting te bring. Ons het rede om fees te vier.

Die main man wat nie kan tel nie gaan hom vyftien maande lank self-isoleer saam met die Kreti en Pleti by Nkandla. En tensy hy skielik binne die volgende vier dae in Dubai of Moskou of Havana gehospitaliseer word met lewensgevaarlike simptome van akute gemoedsbekakking, kan ’n mens net aanneem dat hy nou minder geredelik gaan chat as Marlene van Niekerk se Agaat.

O festina! O lente!

So, kom ons bekou die onderwerp van ons land se mees vernuftige Pilates-beoefenaar as afgehandel. Kom ons kry die aandag terug na boekresensies.

Ek is diep bekommerd daaroor. Ek meen, het julle die afgelope drie weke gekyk hoeveel resensies daar oor nuwe Afrikaanse publikasies verskyn het? Al skryf Emile Joubert in Afrikaans in Rapport oor Schalk Burger se wonderwaaragtigheid en sy agting-inbesoemende menschheid, kan mens nie ignoreer dat dit ’n Engelse boek is nie.

En wat anders is daar? As ek nog ’n resensie oor ’n skitterende krimi moet lees, gaan ek begin wonder of ek nie die punt heeltemal mis nie. Is dit nie dalk ’n geval dat hierdie genre eintlik ’n soort selfhelp-kursus is nie? Leer hoe om reeksmoordenaar te wees in tagtig maklik leesbare romans, elkeen wonderlik spannend en geskryf deur opwindende nuwe skryftalente wat James Patterson na ’n verloopte kopieskrywer in die reklamewêreld laat lyk.

Of digbundels. Nou, daar is ’n wilde soort plesier om iets soos Johan Myburg se snetter oor Marlise Joubert se Disteltyd by Boeke24 te lees. Dit is duidelik dat dit ’n substansiële bundel is, en Myburg se waardering daarvoor is oortuigend. Ek wens ek kon ’n bundel se inhoud só na vore bring – enigiemand wat al ooit ’n digbundel probeer resenseer het, sal weet hoeveel ure (dae?) se werk dit Myburg moes geneem het.

Tog kon ek nie help om twee lekker stukkies humor daarin te vind nie.

Die eerste is hoe mooi hy sy woordspel met die bundeltitel ingemessel het in sy betoog. Dis teltyd, inderdaad!

Die tweede is sy aanhaling uit Umberto Eco “On the Disadvantages and Advantages of Death”, naamlik dat die enigste manier waarop mens jou kan voorberei op die dood is om jouself te oortuig dat almal om jou volslae idiote is. Moet dit net nie té vroeg in jou lewe doen nie.

Ek bewonder die vernuf waarmee Myburg die Eco-aanhaling benut om Joubert te takseer, hoe hy sy reaksie op die verse daarmee verryk. Dit het my laat smile.

Ek het onlangs op ’n wonderlike uitspraak van Steve Martin afgekom: “Despite a lack of natural ability, I did have the one element necessary to all early creativity: naïveté, that fabulous quality that keeps you from knowing just how unsuited you are for what you are about to do.” (Born Standing Up)

Wens net ek kon dit so vernuftig soos Johan Myburg benut, korporaal.

Die probleem met besprekings van poësie op die oomblik is dat mens in die staat van Covid-beleg gemengde gevoelens het oor die introspeksie wat digkuns vereis. Ek kon myself nie keer om te wonder of Myburg se Eco-aanhaling nie ook sinspeel op die debat rondom die inenting-jabs nie. Hè?

Darem was daar ook Riete Rust se bespreking van Pieter van Zyl se Verhale van hoop: Só help jy jou geliefde en jouself (Rapport). Oor geestesversteurings soos depressie, angs en so meer, ernstig bedoel en ernstig geressenseer. Sy is ’n beter mens as ekke, wat die boek vrolik sou aanbeveel het vir Carl Niehaus en sy geliefde Zuma. Niehaus se eie boekie het ook mos oor hoop gegaan, as ek reg onthou.

Ek reageer soms impulsief. Ek weet dis ’n fout, maar ek kan myself nie help nie. So ’n ruk gelede het ek Maryke Roberts se resensie op LitNet gelees oor Bettina Wyngaard se boek Onverskrokke vroue. Uitdagings en oorwinnings vanaf Bybelse tye tot vandag.

Besiel deur die resensie, het ek dadelik die boek by Amazon gekoop en op my Kindle begin lees. En op die moeilike manier agtergekom dat Roberts op ’n sagte manier wou sê dat die boek se titel misleidend is. Ek het haar frase “Die boek is egter meer ’n samevatting van die onderdrukte vrou deur die eeue” nie goed genoeg gesnap nie. Of dalk was dit net té subtiel verwoord.

Dit laat my dink aan ’n ou Bob Hope-movie, Paleface. Daar is ’n toneel waarin ’n klomp mense, denkend dat Bob Hope ’n heldedaad verrig het (verkeerdelik, natuurlik), hom op hul skouers tel en by die saloon indra. Waarop Hope met daardie kenmerkende gryns van hom vra: “Ek wonder wat doen die lafaards nóú?”

Nou onthou ek. Om te veg vir hoop. Dít is die titel van Carl Niehaus se boek.

by crito

Die dieptes in

Junie 10, 2021 in Uncategorized

Die groot Chinese krygsfilosoof Lao-Tzu het geskryf dat as mens net ligweg betrokke raak by ’n oorlog, jy die gevaar loop om al jou skatte te verloor. Hy het dit nie geweet nie, hoe kon hy, dat dit ook van toepassing is op Afrikaanse boekresensies.

Julle moet geduldig lees hierdie keer, want hierdie problematiek het Baie Diepte.

Oud-regter Johann Kriegler het voor een van die heel grootste toetse van sy illustere loopbaan te staan gekom toe hy gevra is om Ebbe Dommisse se Fortuine vir Rapport te bespreek. Ek kan my goed voorstel dat hy die boek in sy hande geneem het, en homself aldus geestelik gerig het op die taak voor hom:

So, die “kontrak” beduie die volgende: Jy word gevra om ’n resensie oor ’n boek te skryf. Die koerant wil hê dat jy vir sy lesers moet vertel wat jy van die boek dink. Jy skryf wat jy gedink het, en almal is gelukkig. Die kontrak is nagekom.

Of is dit?

Vir eers steur hy hom nie aan die vreesaanjaende omslag-illustrasie nie:

Vader ons! Twee vleiende foto’s van Johann Rupert en Whitey Basson, ’n aksiefoto van Christo Wiese, een vanYum-Yum in Gilbert & Sullivan se The Mikado in die middel, en tussen Wiese en Yum-Yum pryk iemand wat moontlik GT Ferreira is, of dalk Boedie in Ingrid Winterbach se Voorouer. Pelgrim. Berg.

Had Dommisse en sy uitgewer ’n bietjie moeite gedoen, kon hulle iets veel meer gedistingeerd geskep het en met veel minder sigbare dubbelkenne bygesê, in hierdie trant:

So, Kriegler lees toe Fortuine, en hy tel ’n skrik op groter as dié van een van Dana Snyman se tepletterde kroeg-kennisse. Dis omtrent ’n mission om te besluit wat Kriegler regtig van die boek dink. Hy mik hierdie kant toe en hy gooi daardie kant toe, en dan tref hy die insig der insigte, baie soos die haaslip-vrou in Ingrid Winterbach se Vlakwater, ’n heilige ene. Fortuine is ’n boek wat mens bietjies-bietjies op die leerstoel van die lewe, die toilet, moet lees.

Nou, ek lees self baie op daardie gevierde leerstoel. En wat ek as nuuskierige connoiseur van resensies wil weet, is of dit hom twee weke, een week, of net ’n paar dae geneem het om Fortuine te lees. En kyk ons agbare resensent goed na sy eetpatrone? Die antwoorde op hierdie vrae sal help om die afloop van sy resensie te verstaan.

Soos wat hy geëet het voordat hy hierdie uitstekende formulering gemaak het: “Ons is maar al te bewus van die owerheid se klaaglike mislukkings en hoef regtig nie ’n hele hoofstuk lank suur water op mekaar se onvergenoegde Boeremeulens te wees nie.”

Kriegler wys die skatte en die leemtes in die boek uit en, sekerlik met gestadigde maag, sluit af met ’n paragraaf wat sekerlik sy plek sal neem in die lang ry van skitterende Kriegler-slotparagrawe. Ek haal dit aan:

“Dit is en bly verspot dat ons kan lekkerkry as ’n landgenoot (maar eintlik ’n Afrikaner) êrens in die wêreld tog net bietjie naam maak, waarvoor ook al. Fortuine bied die leser ruimskoots geleentheid om rustig in besonderse mense se sonlig te vertoef.”

Wat!?!?

Ek het laas met Van Wyk Louw se Tristia so lank en diep nagedink oor twee sinne. En my slotsom is dat ’n mens die leerstoel van die lewe nooit moet onderskat nie, veral nie wanneer die denker daarop volledig betrokke is by die oorlog van die sinne, om uiteindelik die kleindorpsheid in die Afrikanergemoed raak te sien nie.

Joan Hambidge het ’n ander stoel, naamlik die Hofmeyr-leerstoel in Afrikaans aan die Universieit van Kaapstad. Ek was onder die indruk dat die BLM-vegters die koloniale stoele des moeders gestuur het, maar Hambidge bly sit en lewer klinkende werk.

Haar resensie van Ingrid Winterbach se Voorouer. Pelgrim. Berg. neem nou wel glad nie kennis van Max du Preez se wyd aangehaalde Water. Eend. Rug. nie – ek vermoed dis ’n geval van de minimis non curat Hambidge – maar dit sal wel ook aangeprys kan word vir die wyse waarop sy die stereotipe Hambidge de-aktiveer en nooit suur water gooi nie.

Ag, daar is ’n paar ontsporinkies, soos die paragraaf waarin sy na Anne Carson se Plainwater verwys. Dit het my ook al oorgekom dat ek ’n aantekening vir myself in ’n artikel oor iets anders vergeet het.

Maar in die geheel het ons die hoogleraar in die Hofmeyr-gestoelte op haar heel, heel beste. Sy sprei al die teksture en dinge van Voorouer. Pelgrim. Berg. voor ons oop en sluit met kenmerkende Hambidge-flair af met ’n thumbnail-paragraaf waarin oordeel, reaksie en ’n talmende vraag die hele bag of tricks alles saamvat. Sy het haar “kontrak” met die boekredakteur van Boeke24 afgedoen.

Nou kan nagraadse studente – en ander resensente! – gaan en probeer om die betekenis en strekking van die roman onder woorde te bring. Hambidge se resensie is net die wegspringplek vir die toekomsgesprek oor Voorouer. Pelgrim. Berg. Wat meer wil ’n mens hê?

Dank jou die duiwel.

by crito

Af en op

Junie 3, 2021 in Uncategorized

Vandag se mymering, liewe broeders en susters, begin op ’n lae noot, bou dan op tot ’n majeure gevoelsontlading, en verstil dan in ons alger se gemoedere. Luister nou mooi.

Werkloosheid in ons land staan op 32%. Die dag kan nie vêr wees dat transitorowers broodlorries begin stop nie. Nuwe groeipunte vir die polieste is in sig. Ons main man wat count begin al dink om regter Zondo af te tree en ’n Waarheids- en Versoeningskommissie in sy plek aan te stel sodat die kaders kan askies sê en aangaan met hul lewens. Soos sake nou staan, kan die agbare kabinetslede maar hul plekke by regter Zondo bespreek die dag wanneer hulle in hul poste aangestel word.

Vanwaar die grimmigheid, hoor ek julle prewel. Nee, dis nie Neels Jackson se artikel oor sy Drie dekades van verandering in Rapport waarmee ek nou uiteindelik opgevang het nie. Daai is nice, julle weet, so nice as mens maar kan wees oor die kerk wie se skranderste predikante André Barlett wou verguis, dieselfde instansie wat destyds geweier het om Abraham Luckoff te ligitimeer. Wat ’n mensch was Koot Vorster nie, nè? Inderdaad, ek het sterk opgevang met nuwe publikasies.

Nee, die suur gemoed het my vroeg hierdie week gepak toe ek Barend van der Merwe se bespreking op LitNet lees oor Stephan Joubert se Emigreer of bly: Is die gras werklik groener aan die ander kant? Vir ’n oomblik het ek gevoel soos iemand wat Saarkie se drummer die eerste keer in aksie gesien het.

Ek het Van der Merwe uit sy boekwaarderings leer ken as ’n sagmoedige mens. Iemand wat die binnevet van die boud geredelik aangee. Maar het hy onder Stephan Joubert ingevlieg! Toe ek klaargelees het, het my kop gevoel soos Pearly Sweetcake s’n moes gevoel het na ’n lang trek van die Deadly Pugaroo.

As daar nou een onderwerp is wat my die horries gee, is dit die ene oor die voor- en nadele van emigrasie. Dis soos ’n Rorschach-toets waarvan die ink begin skif terwyl jy daarna kyk.

Die vet weet, is dit moontlik dat iemand op Bybelse gronde ’n saak probeer maak vir mense om in Suid-Afrika aan te bly? Ek het dadelik die resensie onder my broer se aandag gebring. Ek dog hy rand my aan. Sy seun het nou al in Kenia, Dubai, Pakistan en Irak gewerk, as siviele ingenieur, omdat hy nie plaaslik werk kan kry in ’n mark waarin daar ’n tekort aan opgeleide ingenieurs is nie. Julle weet hoekom.

Maar laat ek net noem, terwyl ek my hartslag weer tot bedaring laat kom, dat ek baie hou van resensies soos dié wat Barend van der Merwe hier geskryf het. Hy reageer soos iemand wat nie ’n GIF afgeskakel kry op Facebook nie. Ergerlik. Wat meer kan ’n skrywer verwag? ’n Agumenterende antwoord is tog soveel meer aanvaarbaar as ’n vergoelikende, onkritiese “resensie”.

Elke Afrikaanssprekende emigrant is in my oë een leser van Afrikaanse boeke minder. Een siel wat nooit weer enige erg sal hê aan Afrikaanse boekbesprekings nie, wat nie Afrikaanse koerante en tydskrifte lees nie. Om maar net ’n paar dinge te noem wat deel vorm van die groter fenomeen van ’n sterwende Afrikaanse kultuur.

Maar Barend van der Merwe roep hom uit en hy roep hom sterk. Almal weet ons land is in die moeilikheid. Daar is baie redes om te wil gly, sê Van der Merwe. En baie om te bly. Maar om soos Stephan Joubert die bly-argument aan die Bybel te wil hak, is baie soos om aan te dring om die Jokers in te sluit in die pak kaarte vir brug. En dis ek wat so sê, nie Barend van der Merwe nie. Hy is baie meer subtiel.

Met die gemoed gekalmeer lees ek toe volgende Willie Burger se resensie van PP Fourie se ’n Hart is so groot soos ’n vuis. Ook op LitNet. En ek besef dit so helder soos ’n meisie in ’n Alexander Strachan-roman: Die Literêre Kommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het ’n baie groot probleem ophande.

Sien, ’n Hart is so groot soos ’n vuis is een van die boeke onder my ingehaalde leeswerk van die afgelope weke. Alles wat Jean Meiring en die ander resensent daaroor geskryf het, kan as stelreëls vir hierdie werk aanvaar word. Willie Burger se bespreking, daarteenoor, is monumentaal. Die kategismus. Dis nie alleen ’n werklik insiggewende analise van ’n Hart is so groot soos ’n vuis nie, maar dit gee ’n uitstekende teoretiese aansluiting by sowel die ego-dokumentasie, wat Hennie Aucamp so fluks bedryf het, as die verskynsel van die outeur wat die fiktiewe gegewe betree en deel word van die roman.

’n Hart is so groot soos ’n vuis gaan aanstaande jaar in aanmerking kom vir die Hertzogprys. En as daar enige regverdigheid in die Afrikaanse letterkunde oor is, sal een van sy mededingers Frederik de Jager se Man op ’n fiets êrens heen wees.

Nou, wanneer die Literêre Kommissie aanstaande jaar gaan sit, weet ek nou al voor my onheilige siel dat iemand gaan sê dis darem jammer vir ’n Hart is so groot soos ’n vuis, want dis’n vertaling. En iemand anders sal aan haar vape suig en verklaar dat dit so ’n goue jaar vir herinneringskuns was, maar tog jammer dat Man op ’n fiets êrens heen eintlik ’n bloemlesing is van tydskrif-essays.

Maak ’n plan, mense. Ek onthou iets wat oud-uitgewer Hettie Scholtz jare gelede by ’n leeskring-byeenkoms op Welkom gesê het. Uitgewers hou nie daarvan om boeke uit te gee wat net soos ander boeke is nie. Hulle soek boeke wat vars is, nuut is.

Bekroon ’n slag varsheid.

En nou die punt waar jul gemoedere kan verstil. Gaan kyk op LitNet na Erla Diedericks se gewiekste resensie van Die vyfde slag deur Johann Grobbelaar. Ek het gedink ek weet alles oor seks wat nodig is om te weet.

O nee …