by

Skinner, verdigsel en die GJ

Mei 19, 2021 in Uncategorized

Dis nie vir my moeilik om te praat oor die literêre figure wat ek aantreklik gevind het nie. Ek hou van die belese manne. Maningi. Ek was nog maar altyd ’n meisie wat kans gesien het, maar my kuisheidsgraad is ’n geheim wat ek net onder die regte omstandighede verklap.

Desondanks en nieteenstaande wil ek onthul dat die gedagte aan Etienne Leroux in steampunk-donkerbrille en met daai baard netjies getrim vir my die windows op groot plesier open. Maar dít net tersyde.

Chris van der Merwe is my idee van aantreklik. Dis ongelukkig my geluk dat hy ’n Kapenaar is en nie hier in Gauteng gebly het nie. Daai kuiltjies as hy glimlag, en sy blou oë wat so in my siel in kyk. Kom verby Doris Day. ’n Kortkop agter hom is Daniel Hugo, wie se stem nou stil is oor die radio, maar wat ek vir ewig in my geheue hoor galm. Galm is eintlik nie die juiste woord nie. Hugo se stem is vir my audible erotiek. Maar hy was ook in die Kaap, hoewel ek ’n herinnering het dat ek hom eens op ‘n studentebyeenkoms in Bloemfontein ontmoet het. Maar toe was ek nog ’n Raukie en skaam en hy was getroud.

Chani Nicholas sê hierdie is ’n tyd van convergence, en sy’s reg. Chris van der Merwe en Daniel Hugo is albei deelnemers aan die groot debat van die week: Dominique Malherbe se boek Saartjie: Langenhoven se geheime liefde. Die man met die blou oë by wyse van resensie vir Netwerk24, en die man met die goue stem by wyse van kommentaar by Wium van Zyl se akademies-ressensie-essay op LitNet oor hierdie publikasie. Hugo se kommentaar is bondig, oor die opportunistiese uitgewer, maar ek kon hom dit hoor sê, asof hy dit spesiaal in my ore fluister. Kyk hoe kry ek hoendervel!

Kan dit toeval wees dat ek in dieselfde dae uiteindelik lees wat Sidney Gillroy in Vrye Weekblad skryf oor Erla Diedericks se Dominique? “Ek glo nie in grade van jagsheid nie. Daar is nie ’n grys gebied nie. Jy is tans jags of jy was jags. En as jy nie is nie, is die kanse goed dat iemand jou lus onlangs vir jou geblus het.”

Waarna Gillroy hier verwys, is natuurlik die Groot Jeukerigheid. Kom ons noem dit die GJ. Nou, die GJ is verwant aan die onbetrokke ouerskap styl, en dit hang soos ’n gevoelentheid oor die manier waarop daar na Sarah Goldblatt se rol in Sagmoedige Neelsie se lewe verwys word. Sarah Goldblatt moenie verwar word met die Duchess Goldblatt nie, al laat sy die GJ uit Langenhoven se pen sypel wanneer hy aan haar briewe skryf.
Ná sy dood het die GJ by Saartjie oorgegaan in een van die newe-effekte van taalstryders se aktiwiteite, naamlik uitmergelende bemoeisiekheid. (Bevestiging vir laasgenoemde kry ek van ’n vriend van ’n vriend van my stiefbroer, wat dit een aand by ’n biker in die Boulevard Hotel gehoor het. Die biker beweer dat die GJ verkeerdelik deur ’n Kaapse dokter by Saartjie gediagnoseer is as meno-P, want Alwyn Grové en WEG Louw het een swoel aand in 1974 by die Kunsvereniging se gallery in Pretora vir hom vertel Saartjie was “uitmergelend bemoeisiek”, maar dit klink vir my vergesog.)

Wag, ek dwaal af. Kom ons aanvaar dit as ’n feit dat die sarsie resensies en essays en soete invalle uit die geledere van die Langenhoven Gedenkfonds die boekegesprek in overdrive gesit het. Ek het dit baie geniet. Dit het werk van hoogstaande dog diverse gehalte gelewer. Penmanskap van Wium van Zyl, Chris van der Merwe, Jean Meiring, met ’n skitterende nadraai deur Willemien Brümmer, in gesprek met Izak de Vries. (Van Izak gepraat, weet julle tussen hakies hoe lekker dit is om ’n man se voete te masseer met laventelolie?)

Meiring se reaksie het my onwillekeurig laat dink aan CJL se opmerking dat dit net so moeilik is om maklikheid in die ou wêreld te kry as wat dit maklik is om moeilikheid te kry. Meiring is baie positief oor die boek, en verwoord sy kritiek met omsigtigheid. Vir my gevoel is dit net ’n beleefde manier om te sê dat hy die skinner geniet het, maar dat dit foutvoos is.

Laat ek nie verlei word deur Meiring se goeie maniere nie. Wat ek wegneem uit hierdie literêre episode, is hoe skinderstories aanleiding kan gee tot wilde dinge. Kyk, ons almal wonder sedert J.C. Kannemeyer se afsterwe watse groot skinderstories hy nooit vertel het nie – wat het hy in sy boonste laai weggesteek? Wat het hy geweeg en besluit om te verswyg, dit as ’t ware saam met sy sweet op die vloere van stoombaddens agtergelaat? Sou hy die verhale kon vertel van Tuks se Quasimodo? Van die digteres met die liefde vir die eksistensialisme? Van die skrywer met die mollesterende ouboet? Van die kleptomaan van Sunnyside? Van die nagmusiek by die gildeberade en die vuisgeveg op die strand? Van die slaapsak en die ondankbare digter? Van die jaloerse vrou wat die literêre reus se muse weggedrink het? Van die goeie huisarts se helde- en wandade?

Kannemeyer het, soos net hy kon, die storie oor Saartjie en Langenhoven en hul beweerde liefdeskind getakseer en te lig gevind, maar Dominique Malherbe het gedink die aflosstokkie is haar ticket to ride. Niks meer 400 meter vir haar nie pappie, sy takel die maraton. En van al die reaksies daarop is daar een stukkie wat in die annale opgeteken sal word as die mees subtiele, vernietigende paragraaf in ’n Afrikaanse resensie ooit.

Dit is Chris van der Merwe, my Chris, s’n: “Dikwels kan sy haar afleidings slegs op familiegerugte grond. So is daar ’n gerug dat die kind van Sarah en Langenhoven ’n dokter Van der Merwe is. En dan hoor sy wie die dokter is wat vir Sarah in Kaapstad versorg het (bl. 202): ‘Eienaardig genoeg het ek juis vandag in Kannemeyer gelees dat die huisdokter wat Sarah versorg het net voordat sy na die inrigting in Oranjezicht gegaan het, dr. C. van der Merwe was. Toeval?’ Ek weet ‘toevallig’ dat dié huisdokter my broer, C.P. van der Merwe, is. Hy is gebore vier jaar ná Langenhoven se dood; beslis nie Sarah se kind nie!”

Die reaksies op Saartjie: Langenhoven se geheime liefde gaan uiteindelik oor werksmetode en substansie; as mens op skinderstories wil reageer, moet jy jou storie ken. Wium van Zyl en Chris van der Merwe wys dit uit, Willemien Brümmer vertel aan Izak de Vries presies hoekom Malherbe op dryfsand trippel. (Kan mens dit oorvertel? Brümmer waarsku Malherbe dat haar vader met demensie gediagnoseer is, maar Malherbe besoek hom nogtans verskeie male en gebruik hom as bron …)

Wium van Zyl sluit sy essay af met die opmerking dat Saartjie: Langenhoven se geheime liefde ’n verlore geleentheid is. Dit is baie sagkens gestel, maar sekerlik die volle waarheid.

Nou sal ons nooit weet nie of die modeste Saartjie ooit as bron erken sal kan word van die frivole opmerking “Daar was niks sags by Neelsie nie.”

Laat ek ten slotte net my belange verklaar: Ek is nie lid van die Langenhoven Gedenkfonds nie en in my fleurige dae van die GJ het ek soms my voete aan weerskante van die tou gevind. ’n Broek maak altyd ’n plan.

Bron:

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.