by

Die leeservaring as plons

Mei 13, 2021 in Uncategorized

Nee herder, die ondenkbare het somehow gebeur. My ghoeroe, my toorts deur die kosmiese debris van die moderne literêre lewe, het my soos in heeltemal verloor. Dis nie dat ek dink Jean Meiring is die kluts kwyt nie, nie in enigiemand se wildste drome nie. Maar hier het nou in Rapport ’n geval gepresenteer waar ek actually dink to each his own.

Dít is seker hoe dinge anyway moet wees in die hoër, kouer sfeer van die resepsiologie. Die wetenskap van resensies, vir diegene wat genonplus is deur terme. Maar in my verwarring, en die suiwer wéét dat mens soos ’n volwassene kan verskil met ’n meningsvormer soos Meiring, lê ook actually ’n glimmering van hoop dat die Afrikaanse teater op die punt staan om uit sy grendelslaap op te staan, en soos die Voortrekkers Groot Te Gaan.

En dít is vir jou nuus, ongeveer op dieselfde niveau as wanneer regter Zondo skielik sou hoor Lucky Montana was Ton Vosloo se buurman in Kaapstad.

Meiring skryf oor Versamelde dramas: N.P. van Wyk Louw dat dit ’n boek is vir flenters lees. Wat überhaupt by my beelde opwerp van Clark Kent en die X-Men, die klas manne wat boeke aan stukke kán lees. Hy sê ook dat mens die dramas en hoorspele en dinge kan geniet sonder om dit te probeer doen aan die hand van Chris van der Merwe se inleidende essay.

“Trouens, dít mag die suiwer leeservaring – as plons – inkort.”

Daardie plons, nè?

Hy bedoel seker indip op goeie Afrikaans.

Dis waar hy my verloor. My hart gaan ook uit na Chris van der Merwe.

Ek het al baie soort leeservarings gehad. Dit het geboogy van vlugtig, skiem, sukkel en steun tot by geniet, laggend, meegesleur, gekieteleer, agternagetrek en verruk. En ek ken plons baie goed, maar ek praat nie uit die bad- en binnekamer nie.

So in my stilligheid het ek nog altyd gedink die grootste guns wat uitgewers ons doen is om dramatekste nie voor te hou as iets wat die algemene leespubliek hulself gaan laat oorgee aan ’n swelgende plonsery in die borrelbad van die literêre lewe nie. Dis vir die aficionado’s, en mense wat graag daardie tekste sien lewe kry op die verhoog, oor die draadloos (’n pragtige argaïsme wat Meiring ook gebruik) of deur televisie.

Og, ongelukkig lewe ons in ’n tyd waarin die teater meer afwesig is as die Cabbage Patch Kids in Joan Hambidge se digbundels. En as ek vir ’n verandering heeltemal eerlik moet wees, dan kan ek nie onthou of N.P. van Wyk Louw se dramatiese pogings ooit ’n reaksie by teatergehore uitgelok het wat naastenby vergelyk kan word met die bruisende geesdrif waarmee Beeld en Die Burger destyds oor PW Botha se eerste termyn tekere gegaan het nie.

Louw ís een van ons heel grootste digters, maar Kit Marlowe is hy nie. Jean Meiring raak heel tereg opgewonde oor Die dieper reg, Dias en Germanicus. Maar ek onthou met hoeveel sigbare gebrek aan geesdrif JC Kannemeyer in sy Literatuurgeskiedenis skryf oor Die pluimsaad waai ver, Dagboek van ’n soldaat, Die vonnis et al. Mens kan hom omtrent hoor gaap terwyl hy soek na iets om te sê oor Kruger breek die pad oop, Die val van ’n regvaardige man, Berei in die woestyn, Koning-Eenoog of Nie vir geleerdes, en selfs die hupse Asterion

As mens Meiring se reaksie mooi lees, merk jy dat hy opgaan in wát Louw plek-plek sê, en hoe hy dit sê, maar nie actually die werke se toneelmatigheid bewonder nie. Verstandigheid is in Suid-Afrikaanse politiek nie ’n algemene kenmerk nie, maar op literêre gebied is daar realisme te bespeur. Ook by ons Afrikaanses. Ons besef dat as RSG môre toemaak, is dit toedeloo aan Louw se hoorspele.

Dit bring my by die ligpunt. Vra ek myself af, soos mens maar doen, wat die kanse is dat Protea iets weet wat ons nog nie weet nie? Hoor my lied, daar moet ’n rede wees hoekom dié uitgewery so skielik al N.P. van Wyk Louw se dramas in een bundel versamel het. Nadat uitgewers deur die jare oor hul voete geval het om dit nie te doen nie.

Ek fantaseer nou wild, maar ek wonder of ’n hele seisoen van Van Wyk Louw-dramas dalk op die derduisende Afrikaanse toneelliefhebbers dwarsoor die land wag? Ek sien in my geestesoog hoe Afriforum ’n Louw-feesseisoen in die Atterbury-Teater borg. En ek onthou dat ek Piet Croucamp al heel diepsinnig op ’n openbare verhoog hoor praat het oor Van Wyk Louw – wie beter om Louw verstaanbaar te maak met ’n waardetoevoegende inleiding voor elke opvoering?

Miskien het Protea ook opnames van die hoorspele gekry wat hulle as podcasts gaan lanseer, en verfilmings van Truk en Kruik se opvoerings van Louw-dramas wat hulle op DVD gaan verkoop saam met die boeke by elke opvoering in die Atterbury-Teater?

Ek sien, met ’n diepe dankbaarheid, ook hoe stapels en stapels van Versamelde dramas by Graffiti opgeraap word, en N.P. van Wyk Louw die onmoontlike regkry en Deon Meyer ’n paar weke lank uit die topposisie van Graffiti se verkooplys stamp …

Maar genoeg van die dagdrome. Gee my eerder die wonderlike suggestiewe drama van N.P. van Wyk Louw se digkuns:

Kléín-niggie Ovarium
sing ’n soet cantarium
vir ’n kattepoot
in die ná-gerig
word daar saag-erig
héélwat goed vergroot

Und zo weiter.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.