by

Geprikkel

Maart 17, 2021 in Uncategorized

Ek wil ’n wekroep uitstuur oor hierdie land van ons. Waar is vandag se Fij van Rensburg? Waar is Aksie Morele Standaarde? Moet ons hierdie somber toekoms inwaggel met geprikkelde lendene sonder dat enigiemand ons polse piets?

Ek weet dat baie van julle g’n snars snap van die geestigheid waarmee Fij van Rensburg, eens hoogleraar in onse letterkunde aan die RAU die besiging van “die mooi woord” aangestig het nie, en as ek heeltemal eerlik moet wees, ek het ook nie altyd nie. Hy kon fuzzy wees, seg, en dit sonder madjat.

Maar sy definisie van pornografie lui steeds, hoor. “Wesenlik is dit goedkeurende beelding van ontmenslikte seks.” En op hul dag het die bewakers van die volkssedes, Aksie Morele Standaarde, hom daarvoor geapploudiseer.

Ontmenslikte seks laat my so dink aan die geïmpliseerde subteks van CM van den Heever se romans, maar dis ongelukkig ook oom Fij se spesialiteitsgebied. So zip die lippe, Crito.

Op ’n ou traktaatjie van AMS haal hulle Fij aan waar hy oreer dat “pornografie is nie net die ongedekte nie, dis ook die te swaar gedekte.” Kom glo uit Standpunte, wat beteken dis die absolute heilige waarheid.

Hoekom dit so swoel in die Crito-skedel gaan, is oor daardie resensie wat Annelise Erasmus pasende Maandag in Boeke24 geplaas het oor Lyfskap, ’n bundel erotiese kortverhale wat deur Sophia Kapp en Leonie van Rensburg saamgestel is.

Ja ja ja, selfs ek weet dat daar ’n verskil is tussen pornografie en erotiek, maar my paradigma is oom Fij en die gesuiwerde tantes van AMS (van alle geslagte). Gun my ’n bietjie breedte. Die klankgang van hierdie blog is nie legato nie, as ek my aan oom Fij se oeuvre van twaktaal mag vergryp.

“Die een se erotiese verhaal is die ander se pornografie,” postuleer Erasmus. Dan verduidelik sy die saak op ’n manier wat oom Fij in die jare toet beskryf het as “oopgedek”. Ek gaan haar nie nou uitvoerig aanhaal nie, julle moet dit eenvoudig self gaan lees by https://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/liplekker-diep-donker-met-genoeg-variasie-20210314
Dis briljant. Sy verduidelik alles van moraliteitskaal en seksuele skaal, en die maniere waarop lesers erotiek ervaar. Ek sien die mooi sensuele lyn van ’n boud raak, jy gru vir die sellulietriffels. Om iets eroties te ervaar, moet jy seksueel gestimuleer word.

Dis die ding. Wat stimuleer mense? Annelise Erasmus het ’n probleem met Lyfskap. Baie daarvan is seksskryf eerder as erotiek – omdat die skrywers nie altyd die lesers neem na die plekke waar hulle nog nie was nie. Want erotiek “skep iets nuuts”, dit “oortree”.

Miskien is dit die dinge wat oom Fij en die AMS-anties geweet het maar te skaam was om te erken: Die plesier wat mens kry uit die lees van erotiek is dat jy die terrein van hoë risiko betree. Jy ontdek dinge wat jou stimuleer, dinge waarvan jy nie vantevore bewus was nie. Oom Fij en die AMS-bende was bang die seuns en dogters van die volk ontdek die dinge waarvan hulle eintlik hou.

Ek sal ’n stertjie las by Erasmus se wonderlike uiteensetting: Soms laat die erotiek jou voel jy moet eintlik kaal wees wanneer jy dit lees. Die laaste keer wat ek daardie gevoel gekry het, was toe Duane Vermeulen die Engelse met brute krag van die lyn af gehou het in 2019 in Japan. Rugby eroties? Natuurlik, is dit nie hoekom mens daarna kyk nie?

Ewentwel, Annelise Erasmus sê uiteindelik Lyfskap is seer prettig, maar net vyf van die verhale is vir haar diep eroties. Verhale deur Johan de Nysschen, Maya Fowler, Leon van Nierop en Fanie Viljoen. Maak ’n aantekening, gaan lees, en dink net hoe pris oom Fij en die gang sou gewees het as hulle vandag nog met ons was en agtergekom het dat iemand weer die plesier teruggesit het in boeke lees.

Dit het tyd geword dat seksskrywers en seksstorie-uitgewers weer die grense van erotiek verskuif, sluit Erasmus haar betoog af. Gewis bepleit sy die skemerverskynsels wat oom Fij in sy meesterwerk Pornografie (Butterworths, 1985) voorsien het, maar ek is gesus deur oom Fij se woorde aan Koos Prinsloo in ’n onderhoud: “Dis ’n natuurlike verskynsel.”

’n Bondeltjie teenstrydighede, dié oom Fij tog. Lank reeds ter siele, maar ek verlang na hom, na sy blink gekamde kuif. Sou wat wou gee om vandag saam met hom in die ou Devonshire te kon gaan sit en te hoor of hy dink die menslike natuur het verander.

3 antwoorde op Geprikkel

  1. Dis als in die E

    Is dit nou nie ‘n mooi onskuldige sinnetjie nie! Ondersteunend. Onderskragend.

    Hier staan dit onder Crito se vorige rubriek: “Knap artikel, Elmari! Doe zo voort! Bly dat jy die rubriek oorgeneem het.”

    Hoe mooi tog, ja, dat in die ongenaakbare wêreld van die Afrikaanse resensiekunde, daar kollegiale toegeneentheid is, dat die een die ander nie afgunstig afloer nie.

    Juis is dit ‘n stertriem onder die hart dat dit die onlangs verguisde Crito is wat lof toegeswaai word. Dat daar waardering is vir hul (is dit hy of is dit sy?) weeklikse arbeid om resensente – self die rondswaaiers van swaarde – in die bek te ruk.

    Maar wag? Wat staan hier?

    Die lofmantel word nie om Crito se skouers gelê nie, maar om dié van ene Elmari. Elmari sonder ‘n e. ‘n Nuwerwetse tipe Elmarie.
    Maar hoe bring ‘n mens die kloutjie by die oor?

    Wil dit blyk dat die briefskrywer opsetlik Crito se sluier wil lig? Dat die gelukwensig eintlik ironies is? Dat die skrywer eintlik iets anders wil sê: “Geluk met niks, Crito, ek’t ontdek wie jy is.”

    Ahem.

    “Crito verwissel al om die ander halfjaar of so, en toe ‘n nuwe stem weke gelede uit die coulisse opklink, het ek jou kenmerkende styl bespeur. Vandaar die uitroep van jou naam: Elmari. Elmari. Elmari!”

    ‘n Ligte kuggie.

    “En om stuitig te wees gebruik ek self ook ‘n pseudoniem – die lae van ‘n ui en die trane wat die afskil laat voortbiggel! – en my naam is so Frans as wat kan kom: Jean-Pierre Labuschagné …

    “En om vir die e te vergoed wat aan die einde van Elmari ontbreek, sit ek een agteraan my gekose agternaam – en plaas sommer vir die swierigheid daarvan ‘n akuut daarop.

    “Labuschagné …”

    Hoor jy die magtige trilling?

    Nou wie kan Elmari tog wees?

    Sal die ware Crito asseblief opstaan?

    Estelle Venter

  2. Elmari het gesê op Maart 30, 2021

    A jinne, mense, so graag soos wat ek ‘n juweel sou wou pleeg soos Crito se onlangse “Jeyes Fluid-luggie deur ‘n zef kroeg”, wat ek moet erken my hardop laat skater het, moet ek ongelukkig bieg die regte Crito moet maar steeds opstaan. En, Estelle, my naam kom van my Malmesbury-ouma se stoere Elizabeth Maria – daarom die geen “e” aan die einde nie.

  3. Watter Elmari is jy, Elmari? Ek dag Jean-Pierre sinspeel op Elmari Notnagel, tesouriere van ons boekklub hier op Paternoster. Ons noem onsself Die Leesguriges. (Maar haar naam is onder die e omdat haar ma nie kan spel nie.)

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.