by

Quid agis, dude!

Maart 2, 2021 in Uncategorized

Die gode sy gedank vir die juriste. Terwyl ons skrander verteenwoordigers in die parlement besin oor die vlindergedagtes van die openbare beskermer – en ons voor ons siele weet dat die parlementariërs non loqui sed facere jaar na jaar uitleef – gee twee juriste vir ons, die liefhebbers en beskermers van die ewigdurende kultuur van die boek, genadiglik ’n oomblik van hoop. In Suid-Afrika, weet ons mos, leef ons sola fide.

Die een is die legendariese Johann Kriegler, wat in Rapport Boeke afgelope naweek geskryf het oor Albert Grundlingh se boek oor Van Zyl Slabbert. Omdat dit ’n boek in Engels is, kan Crito alleen kennis neem – met ’n woord van bewondering vir Kriegler se analitiese vermoë en sy besonderse manier om alle drogbeelde weg te skil en lex parsimoniae te laat geld.

Aan die ander kant van die vou in Weekliks was juris Jean Meiring aan die woord oor P.P. Fourie se ’n Hart so groot soos ’n vuis (in Afrikaans vertaal deur Marius Swart). Ja, Crito vermy ook normaalweg vertalings soos die pestilentius, maar mens moet ook so nou en dan ’n uitsondering maak en vir Meiring kan sê quid agis, dude!

En in elk geval, de minimis non curat Crito, nè?

As ek Julius Malema se tydlose woorde oor die Richterskaal kan aanpas, wil ek erkenning gee aan Crito Merk What-what wat al gewys het het op Meiring se merkwaardige vermoë om Afrikaans te laat vonkel en strek in sy resensies. Ek is nec temere nec timide – ek wil dit pront sê dat Jean Meiring op die oomblik as stilis en formuleerder nie sy gelyke het onder Afrikaanse resensente nie. Vir my is hy die resensent consummatus – hy gee agtergrond, hy vat inhoud saam, hy bring jou op hoogte én hy laat net genoeg weg dat jy geen keuse het as om die boek self te gaan lees om al sy suggesties en verwysings op te volg nie. En jy weet, hierdie is geen voorlopige rapport nie. Dis eenvoudig té goed geskryf.

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Dit is nie ’n geval van intelligenti pauca nie. Meiring se resensies is nie bo die gemiddelde koerantleser se vuurmaakplek nie. Hy laat mens wel stadiger lees, en as jy hoegenaamd ’n semantiese aanvoeling het, of ’n sin vir die etimologie, gaan hy jou telkens oomblikke van intellektuele verwondering laat beleef.

Dit is vir die Afrikaanse letterkunde so goed dat die duim feitlik altyd na bo punt in sy pollice verso. Hy het die goeie voorgevoel om die werke met rigor mortis te vermy.

Vir J.B. Roux, wat vir Boeke24 verslag lewer oor Jeanette Stals se Diep spoor, is dit weer ’n geval van nulla tenaci invia est via. Hy beleef ’n woeste floute oor die eerste sin van die boek, wat hom na aan trane het, maar soos ‘n pionier vanouds druk hy deur. Stals skok hom nimmer meer. Uiteindelik is hy baie lief vir die roman, en kon ek sweer ek hoor “saggies en teer soos die roepstem van Jesus” iewers op die agtergrond.

Hier is nou ’n prima geval van de gustibus non disputandum est. Die sin wat Roux ontstel het, is “Aasvoëls sit soos uitgroeisels op die kaal takke van ’n dooie boom …” So, dis nie baie oorspronklik nie, maar dis ’n ideale sin vir die roman. Waaroor handel hierdie roman? Die Groot Trek. Daardie sin is só Groot Trek, mnr Roux. As dit die sin was waarmee FW de Klerk sy Die vierde trek begin het, dan sou ek saam met u gehuil het.

Ná die lees van die resensie, het daar vir my ’n lucidum intervallum aangebreek.

Ek is bewus daarvan dat daar suurknolle in die literêre gemeenskap is wat meen dat as jy ’n resensie deur Joan Hambidge van begin tot einde gelees het, daar sewe jaar van slegte minnenagte op jou wag. Wees nou eerlik, dit kan nie só erg wees nie. Eenvoudige geval van a posteriori, nè? Of moet dit vae victus wees?

Anders as my voorganger is ek nie so erg geïrriteer deur Hambidge se manier van dinge aanhak nie. Haar resensie van S.J. Naudé se kortverhaalbundel Dol heuning is sekerlik nie ’n stilistiese palmarius nie. Wat dit wel is, is ’n uitstekende ontsluiting van die dinge wat in Dol heuning aan die bod is. Sy verwys in die resensie na die deure wat geopen word, en as resensent is sy op volle toere met die open van die deure van begrip.

Wat maak dit tog saak dat sy kenmerkende uitdrukkings het wat deur haar gebruik daarvan geyk geword het? Is dit nie die sleutels wat sy inbou vir mense wat haar uitsprake en skryfwerk volg nie?

Vir die anti-Hambidge brigade, waaronder my voorganger sekerlik tel (suum cuique), het ek net die volgende raad: parvis imbutus tentabis grandia tutus. As julle dit dan beter kan doen, doen dit.

Op die LitNet-werf is daar twee besprekings van Neels Jackson se Jesus vir almal: Die gay-gesprek in die kerk. Een deur Barend van der Merwe, en die ander deur Louise Viljoen (JBay). Ek is bevrees ek gaan gallus gallus domesticus wees en net volstaan deur te sê dat ek albei bewonder vir hul goeie maniere.

As ek dit moes geresenseer het, sou ek Thoreau aangehaal het (“Whatever the human law may be, neither an individual nor a nation can commit the least act of injustice against the obscurest individual without having to pay the penalty for it.”) en dan heeltemal aan ’t tiere geraak het met audemus jura nostra defendere.

Barend van der Merwe en JBay se Louise Viljoen kom uit ’n verdraagsame agtergrond en behandel die Neolities Gereformeerde Kerk se gay-haters met ’n soort begrip, weliswaar afstandelik en nie vereenselwend nie.

Vir my gevoel is dit baie naby aan mulgere hircum, as julle my die beeld sal verskoon.

Vriendelike groete aan al vyf my lesers, en ’n goue ster op die voorkop vir Elsabe Brits, die enigste wat Crito raak gesien het. Dulcius ex asperis.

4 antwoorde op Quid agis, dude!

  1. crito het gesê op Maart 3, 2021

    Daar was ‘n paar klaers oor onverstaanbaarhede. Vir hul gerief die volgende verklarings:

    non loqui sed facere – nie net praatjies nie, maar aksie
    sola fide – deur geloof alleen
    lex parsimoniae – die eenvoudigste verduideliking is altyd die korrekte ene
    pestilentius – pes, pestilensie
    quid agis – wat gaan aan, wat gebeur, wazzup?
    de minimis non curat Crito – vervorming van de minimis non curat lex, wat neerkom op die reg steur sig nie aan beuselagtighede nie
    nec temere nec timide – nóg roekeloos nóg bangerig
    consummatus – volleerd
    intelligenti pauca – min woorde is nodig vir hom wat verstaan
    pollice verso – die gebaar wat die keiser gemaak het met sy duim om aan te dui of ’n vegter sal lewe of sterwe; letterlik “met ’n gedraaide duim”
    rigor mortis – die styfheid wat die dood meebring
    nulla tenaci invia est via – vir die hardnekkiges is geen pad onbegaanbaar nie
    de gustibus non disputandum est – oor smaak val daar nie te redeneer nie
    lucidum intervallum – ’n oomblik van helderheid
    a posteriori – kom neer op “kennis of regverdiging is afhanklik van ervaring of empiriese bewyse”
    vae victus – wee die een wat oorwin is
    palmarius – meesterstuk
    suum cuique – kom neer op “elkeen na eie smaak”
    parvis imbutus tentabis grandia tutus – geneem om te beteken dat sodra mens die klein dinge bemeester het, kan jy die groter, moeiliker dinge met gemak aanpak
    gallus gallus domesticus – chicken, banggat
    audemus jura nostra defendere – ons streef daarna om ons regte te verdedig
    mulgere hircum – om ’n bokram te probeer melk, die onmoontlike te probeer vermag
    Dulcius ex asperis – ná die probleme kom/volg die soetheid

  2. Tien uit tien vir ‘n skitterende en uiters vermaaklike rubriek – custodiant eam!

  3. Crito, koester jou lendene begeertes vir resensent Jean Meiring?

Los ’n antwoord vir crito. Kanselleer antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.