Jy blaai in die argief vir 2021 Maart.

by crito

Aangespreek

Maart 30, 2021 in Uncategorized

Dit is skynbaar ons lot in die lewe om dinge te herhaal. Hier staan ons nou weer voor ’n monumentale aakligheid. Of aaklighede. Dertig dae waarin allerhande onwaarhede oor ons President verkondig gaan word sodat die asbespreneur vry kan stap, ’n moontlike derde vlaag van Covid met gepaardgaande sluikhandel in drank, Charles Somerset se ironiese spook wat in Matieland rondloop.

Wat is dit met die protesterende Maties? Dink hulle waaragtig nog hulle gaan iets doen wat die mense by Tukkies, Kovsies, Poevirtsjo en Oedsj nie kon regkry nie? Mos op daai dorp wat die gesegde uitgedink is van mense wat nie in wonderwerke glo nie.

Soos Marlene van Niekerk, uitgeweke Matie, jarre gelede gesê het, mens moet jou parameters ken. Die land is op die afdraende pad and that is that.

Terwyl ek my taal nou so meng, was Nathan Trantraal se resensie van Veronique Jephtas se Soe rond ommie bos in Rapport nie lekker verby nie? Toe ek begin lees daaraan, het ek eers gedink hierdie dude is besig om te antjie op ’n skaal unknown to mankind. Kyk, ek laat my nie verlei deur die humorloosheid van wokeness nie. Ek erken ruiterlik dat Kaaps vir my noordelike ore ’n bietjie next to it is, en my eers aan die smile sit voordat ek stadiger lees en respekte begin kry vir die argument wat Trantraal aan die gang het.

Dis dan, wanneer mens besef hoe hy sy wesentlike kritiek vriendelik, begrypend verpak, dat jy die sprong maak na die groter betoog wat hy aanraak. Sy reaksie op haar gedigte sal sekerlik vir Jephta aanmoedig, en ek kry duidelik die idee dat ek een van die lesers sal wees wat baie kriewelrig sal raak by die leesslag.

Maar dit is Trantraal se opmerkings oor Jephta se aansluiting by performance poetry, daar waar, soos hy dit stel, die lyne geblur is tussen slam en written poetry. Overgezet zijnde, ons het dit hier te make met die groter verskynsel, een wat die beatniks al in die begin sestigs gepropageer het, van geskrewe digkuns wat ondergeskik is aan die voordrag of uitvoering daarvan.

Natuurlik is die verskynsel al so oud soos die berge. After all, waar kom poetry actually vandaan?

Ginsberg et al het al ’n bietjie swing in hul voorlesings geplaas, om van die odd pensklavier nie te praat nie, wat ’n taamlike skok was vir die generasies wat gewoond was aan die onuitstaanbare begrafnisstem van TS Eliot. Dis te verstane. Kyk hoe lank het dit die kinders van die sestigs en sewentigs geneem om gewoond te raak aan rap.

Maar nou staan ons in gans ’n ander era. As ek na my vriende by die boekwinkels luister, is dit deesdae moeiliker om digkuns te verkoop as wat dit is om dit te publiseer. En om digkuns uit te gee, is moeiliker as wat dit vir Carl Niehaus is om ’n skewe woord oor Jacob Zuma te sê.

Vir Nathan Trantraal sal baie van Jephta se gedigte ten beste werk as hulle op ’n verhoog uitgevoer word. Trantraal noem dit “liewendig kom”, en mens kan voorspel dat dit in ons tydsgewrig ook beter sal werk as podcasts, wat uiteraard ’n neweproduk van liewendig kom is. (En asb broeders en susters, let daarop dat ek nie van potgooie praat nie. Dis só ’n potsnotwoord.)

Ek sien dus uit na Jephta se podcasts, as ek haar nie voor die tyd op die stage sien nie. En Nathan Trantraal kan gerus meer as resensent ingespan word, en nie net vir boeke deur bruin skrywers nie. After all, transformation is mos ’n many-splendoured ding, nè? Trantraal is ’n joia de baia, soos my vriende in La Rochelle sou sê.

Op heeltemal ’n ander level – ’n week vantevore het Lindie Koorts in dieselfde publikasie geskryf oor Richard Steyn se Louis Botha: Krygsman, generaal, staatsman. Sy is nie ’n Matie nie, maar sy is ’n realis en sy ken van haar vakgebied. Genoeg om te kan sê dat Steyn ons almal liederlik vlak kyk as hy dink Louis Botha: Krygsman, generaal, staatsman gaan die gewone leser tevrede stel omdat hy nie sy boek op die historici mik nie.

Koorts se resensie sweef soos ’n Jeyes Fluid-luggie deur ’n zef kroeg. Dis ’n waarskuwing aan vakkundiges wat te lui is om primêre bronne raad te pleeg maar dan steeds verwag hul werk moet as gesaghebbend beskou word.

Sy smeer hom ook ’n bietjie heuning om die mond. Hy is, alles in ag genome, ’n onderhoudende skrywer. Maar die vingerwysing is baie pertinent en ’n durende les vir almal wat ooit die verskoning gebruik dat hy/sy vir die algemene publiek eerder as die fundi te skryf.

In hierdie geval is dit juis die gebrek aan raadpleging van meer onlangse Afrikaanse navorsing oor Botha wat Koorts opval. Is dit nie juis die Afrikaanse mark waarop hierdie boek gerig is nie? Wat sou Steyn besiel het om van sy lesers te verwag dat hulle ’n klomp stowwerige inligting uit Engelse bronne moet aansien vir vars gegote goud?

En wat is dit met uitgewers dat hulle aan elke nuwe geslag ’n epigoon van Piet Beukes probeer verkoop? Ekskuus, ja ja, dis nou maar eg Suid-Afrikaans nè? Ons glo ook nog al die jare dat ons ware politici as leiers het.

by crito

Geprikkel

Maart 17, 2021 in Uncategorized

Ek wil ’n wekroep uitstuur oor hierdie land van ons. Waar is vandag se Fij van Rensburg? Waar is Aksie Morele Standaarde? Moet ons hierdie somber toekoms inwaggel met geprikkelde lendene sonder dat enigiemand ons polse piets?

Ek weet dat baie van julle g’n snars snap van die geestigheid waarmee Fij van Rensburg, eens hoogleraar in onse letterkunde aan die RAU die besiging van “die mooi woord” aangestig het nie, en as ek heeltemal eerlik moet wees, ek het ook nie altyd nie. Hy kon fuzzy wees, seg, en dit sonder madjat.

Maar sy definisie van pornografie lui steeds, hoor. “Wesenlik is dit goedkeurende beelding van ontmenslikte seks.” En op hul dag het die bewakers van die volkssedes, Aksie Morele Standaarde, hom daarvoor geapploudiseer.

Ontmenslikte seks laat my so dink aan die geïmpliseerde subteks van CM van den Heever se romans, maar dis ongelukkig ook oom Fij se spesialiteitsgebied. So zip die lippe, Crito.

Op ’n ou traktaatjie van AMS haal hulle Fij aan waar hy oreer dat “pornografie is nie net die ongedekte nie, dis ook die te swaar gedekte.” Kom glo uit Standpunte, wat beteken dis die absolute heilige waarheid.

Hoekom dit so swoel in die Crito-skedel gaan, is oor daardie resensie wat Annelise Erasmus pasende Maandag in Boeke24 geplaas het oor Lyfskap, ’n bundel erotiese kortverhale wat deur Sophia Kapp en Leonie van Rensburg saamgestel is.

Ja ja ja, selfs ek weet dat daar ’n verskil is tussen pornografie en erotiek, maar my paradigma is oom Fij en die gesuiwerde tantes van AMS (van alle geslagte). Gun my ’n bietjie breedte. Die klankgang van hierdie blog is nie legato nie, as ek my aan oom Fij se oeuvre van twaktaal mag vergryp.

“Die een se erotiese verhaal is die ander se pornografie,” postuleer Erasmus. Dan verduidelik sy die saak op ’n manier wat oom Fij in die jare toet beskryf het as “oopgedek”. Ek gaan haar nie nou uitvoerig aanhaal nie, julle moet dit eenvoudig self gaan lees by https://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/liplekker-diep-donker-met-genoeg-variasie-20210314
Dis briljant. Sy verduidelik alles van moraliteitskaal en seksuele skaal, en die maniere waarop lesers erotiek ervaar. Ek sien die mooi sensuele lyn van ’n boud raak, jy gru vir die sellulietriffels. Om iets eroties te ervaar, moet jy seksueel gestimuleer word.

Dis die ding. Wat stimuleer mense? Annelise Erasmus het ’n probleem met Lyfskap. Baie daarvan is seksskryf eerder as erotiek – omdat die skrywers nie altyd die lesers neem na die plekke waar hulle nog nie was nie. Want erotiek “skep iets nuuts”, dit “oortree”.

Miskien is dit die dinge wat oom Fij en die AMS-anties geweet het maar te skaam was om te erken: Die plesier wat mens kry uit die lees van erotiek is dat jy die terrein van hoë risiko betree. Jy ontdek dinge wat jou stimuleer, dinge waarvan jy nie vantevore bewus was nie. Oom Fij en die AMS-bende was bang die seuns en dogters van die volk ontdek die dinge waarvan hulle eintlik hou.

Ek sal ’n stertjie las by Erasmus se wonderlike uiteensetting: Soms laat die erotiek jou voel jy moet eintlik kaal wees wanneer jy dit lees. Die laaste keer wat ek daardie gevoel gekry het, was toe Duane Vermeulen die Engelse met brute krag van die lyn af gehou het in 2019 in Japan. Rugby eroties? Natuurlik, is dit nie hoekom mens daarna kyk nie?

Ewentwel, Annelise Erasmus sê uiteindelik Lyfskap is seer prettig, maar net vyf van die verhale is vir haar diep eroties. Verhale deur Johan de Nysschen, Maya Fowler, Leon van Nierop en Fanie Viljoen. Maak ’n aantekening, gaan lees, en dink net hoe pris oom Fij en die gang sou gewees het as hulle vandag nog met ons was en agtergekom het dat iemand weer die plesier teruggesit het in boeke lees.

Dit het tyd geword dat seksskrywers en seksstorie-uitgewers weer die grense van erotiek verskuif, sluit Erasmus haar betoog af. Gewis bepleit sy die skemerverskynsels wat oom Fij in sy meesterwerk Pornografie (Butterworths, 1985) voorsien het, maar ek is gesus deur oom Fij se woorde aan Koos Prinsloo in ’n onderhoud: “Dis ’n natuurlike verskynsel.”

’n Bondeltjie teenstrydighede, dié oom Fij tog. Lank reeds ter siele, maar ek verlang na hom, na sy blink gekamde kuif. Sou wat wou gee om vandag saam met hom in die ou Devonshire te kon gaan sit en te hoor of hy dink die menslike natuur het verander.

by crito

Gaan Groot

Maart 11, 2021 in Uncategorized

Die vet weet, ek steier van gevoelens van déjà vu wat my uit alle rigtings tref. Die ergste is die gezoem rondom Harry en Meghan, wat uiteindelik bewys dat daar agter elke bossie in Suid-Afrika ’n neo-kolonialis skuil.

Ek het dit probeer ignoreer, maar wat kan mens doen as almal rondom jou daaroor stry? Dit is die Mistiek van Vervreemding, om ’n noot op my ou orrel te speel, en soos julle weet, gaan Vervreemding meestal oor in Vleeswording. Mens moet jou net berus in die wete.

Aldus vertroos, kry ek ’n e-pos van die FAK om my te vertel dis 2021, en die jaartema is Voortrekkers Gaan Groot omdat dié vereniging vanjaar 90 jaar jonk is. Onder ons Afrikaanses is ’n hele klomp verengelste Germane, dis nou maar wors. Ons kan veral uitsien na ’n nuwe musiekspel oor die Gelofte en die Groot Trek, wat, soos julle weet, die laaste keer was wat die Voortrekkers Groot Gegaan het. Een van die liedjies daarin “Die spore wat ons los”, deur Johan Vorster en Jacomien de Villiers, is die spesiale feeslied van die Gaan Groot-viering.

Ek weet nie hoe wyd die Voortrekkers se invloed strek nie, maar dit is opsigtelik dat daar Groot Gegaan word op die boekeblaaie. Is dit betekenisvol? Weet nie, maar ek glo nie in suiwer toeval nie.

Boeke24 spog vandeesweek met Johan Myburg, wat verlede jaar die Hertzogprys vir Poësie gewen het, wat Ashwin Arendse se Swatland resenseer. As dít nie is hoe mens Groot Gaan nie, dan weet ek nie wat is nie.

In die stilte het ek begrip vir Naaspers se gevoel van verlies – Myburg was eens een van die mense wat Mediumrare24 se kunsblaaie iets besonders help maak het. Nou wys hy presies wat hulle verloor het. Dit is ’n resensie wat soos ’n lig skyn; deurdag, en met ’n indrukwekkende analise van die bundel gebou rondom die maniere waarop hy, Myburg, die bundel se motto’s terugvind in die tematiek van Arendse se gedigte.

En dan, in sy slot, gooi hy die deure van ons begrip oop na iets heel groters. Dit is die soort opmerking waaromheen Mercel Ophuls sy dokumentêre meesterstuk The Sorrow and the Pity gebou het, en waarheen Ashwin Arendse sy lesers met Swatland du: “Wat die leser nié kan nie, is om te sê ek het nie geweet nie.”

Ek hoef seker nie uit te spel dat Myburg die Mistiek van Vervreemding sy spore in ons bewussyne laat los het nie. Sulke resensies maak boekeblaaie iets om oor te praat. Laat Harry en Meghan nie in jul chats kom tande kners nie. Luister liewer na Ashwin A van Maamsbgie. Daar’s rede voor.

Ek weet nie hoeveel van die broeders en susters in die gemeente van die lettere meeste van die tyd ligweg dut nie. Verre sy dit van my om vinger te wys, maar hoeveel van julle het agtergekom dat die skrywer van God Is daar ’n ander antwoord? dieselfde naam het as die hoofkarakter in André P. Brink se ’n Droë wit seisoen? Ben du Toit.

Goed, noudat julle wakker is, voort na Rapport Boeke wat afgelope Sondag ook Groot Gegaan het met die resensie van Sulke vriende is skaars – Die briewe van Arnold van Wyk en Anton Hartman 1949-1981. Hulle het duidelik tyd belê in hul besinning oor wie die boek moet resenseer. Hul keuse het uiteindelik geval op een van die legendes van musiekjoernalistiek, Paul Boekkooi.

Paul Wie? sal my jong lesers misken vra. Paul Boekkooi is nog een van die baie joernaliste wie se name mens nie meer so dikwels by resensies sien nie. Die jare stap aan. Hy het baie diep spore getrap by sowel Pimpelkor as Naaspers. Sy naam word in dieselfde asem genoem as dié van Wouter de Wet.

Wat ’n plesier om weer sy nugtere, rustige bespreking van Stephanie Vos en Stephanus Muller se boek op die blad te vind. Ek het nou al verskeie resensies oor hierdie boek gelees, almal goed, maar Boekkooi se ondervinding as joernalis bring ’n helderte wat nie te versmaai is nie. Miskien ’n bietjie old style, maar sonder enige pedagogiese knertsies.

Wanneer hy ten slotte sy stuk afsluit met ’n versoek oor Stefans Grové, voel mens dat as daar enige regverdigheid oor is hier midde-in die götterdämmerung van kultuur, dan sal iemand op Boekkooi se versoek ag slaan.

Ongelukkig is daar aan sulke versugtings ook ’n soort déjà vu, nè? Maar alle sterkte met Voortrekkers Gaan Groot, en mooi wense aan my vyf lesers (Ace, die Koning, die Koningin, die Prins en Heath Ledger.)

by crito

Quid agis, dude!

Maart 2, 2021 in Uncategorized

Die gode sy gedank vir die juriste. Terwyl ons skrander verteenwoordigers in die parlement besin oor die vlindergedagtes van die openbare beskermer – en ons voor ons siele weet dat die parlementariërs non loqui sed facere jaar na jaar uitleef – gee twee juriste vir ons, die liefhebbers en beskermers van die ewigdurende kultuur van die boek, genadiglik ’n oomblik van hoop. In Suid-Afrika, weet ons mos, leef ons sola fide.

Die een is die legendariese Johann Kriegler, wat in Rapport Boeke afgelope naweek geskryf het oor Albert Grundlingh se boek oor Van Zyl Slabbert. Omdat dit ’n boek in Engels is, kan Crito alleen kennis neem – met ’n woord van bewondering vir Kriegler se analitiese vermoë en sy besonderse manier om alle drogbeelde weg te skil en lex parsimoniae te laat geld.

Aan die ander kant van die vou in Weekliks was juris Jean Meiring aan die woord oor P.P. Fourie se ’n Hart so groot soos ’n vuis (in Afrikaans vertaal deur Marius Swart). Ja, Crito vermy ook normaalweg vertalings soos die pestilentius, maar mens moet ook so nou en dan ’n uitsondering maak en vir Meiring kan sê quid agis, dude!

En in elk geval, de minimis non curat Crito, nè?

As ek Julius Malema se tydlose woorde oor die Richterskaal kan aanpas, wil ek erkenning gee aan Crito Merk What-what wat al gewys het het op Meiring se merkwaardige vermoë om Afrikaans te laat vonkel en strek in sy resensies. Ek is nec temere nec timide – ek wil dit pront sê dat Jean Meiring op die oomblik as stilis en formuleerder nie sy gelyke het onder Afrikaanse resensente nie. Vir my is hy die resensent consummatus – hy gee agtergrond, hy vat inhoud saam, hy bring jou op hoogte én hy laat net genoeg weg dat jy geen keuse het as om die boek self te gaan lees om al sy suggesties en verwysings op te volg nie. En jy weet, hierdie is geen voorlopige rapport nie. Dis eenvoudig té goed geskryf.

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Dit is nie ’n geval van intelligenti pauca nie. Meiring se resensies is nie bo die gemiddelde koerantleser se vuurmaakplek nie. Hy laat mens wel stadiger lees, en as jy hoegenaamd ’n semantiese aanvoeling het, of ’n sin vir die etimologie, gaan hy jou telkens oomblikke van intellektuele verwondering laat beleef.

Dit is vir die Afrikaanse letterkunde so goed dat die duim feitlik altyd na bo punt in sy pollice verso. Hy het die goeie voorgevoel om die werke met rigor mortis te vermy.

Vir J.B. Roux, wat vir Boeke24 verslag lewer oor Jeanette Stals se Diep spoor, is dit weer ’n geval van nulla tenaci invia est via. Hy beleef ’n woeste floute oor die eerste sin van die boek, wat hom na aan trane het, maar soos ‘n pionier vanouds druk hy deur. Stals skok hom nimmer meer. Uiteindelik is hy baie lief vir die roman, en kon ek sweer ek hoor “saggies en teer soos die roepstem van Jesus” iewers op die agtergrond.

Hier is nou ’n prima geval van de gustibus non disputandum est. Die sin wat Roux ontstel het, is “Aasvoëls sit soos uitgroeisels op die kaal takke van ’n dooie boom …” So, dis nie baie oorspronklik nie, maar dis ’n ideale sin vir die roman. Waaroor handel hierdie roman? Die Groot Trek. Daardie sin is só Groot Trek, mnr Roux. As dit die sin was waarmee FW de Klerk sy Die vierde trek begin het, dan sou ek saam met u gehuil het.

Ná die lees van die resensie, het daar vir my ’n lucidum intervallum aangebreek.

Ek is bewus daarvan dat daar suurknolle in die literêre gemeenskap is wat meen dat as jy ’n resensie deur Joan Hambidge van begin tot einde gelees het, daar sewe jaar van slegte minnenagte op jou wag. Wees nou eerlik, dit kan nie só erg wees nie. Eenvoudige geval van a posteriori, nè? Of moet dit vae victus wees?

Anders as my voorganger is ek nie so erg geïrriteer deur Hambidge se manier van dinge aanhak nie. Haar resensie van S.J. Naudé se kortverhaalbundel Dol heuning is sekerlik nie ’n stilistiese palmarius nie. Wat dit wel is, is ’n uitstekende ontsluiting van die dinge wat in Dol heuning aan die bod is. Sy verwys in die resensie na die deure wat geopen word, en as resensent is sy op volle toere met die open van die deure van begrip.

Wat maak dit tog saak dat sy kenmerkende uitdrukkings het wat deur haar gebruik daarvan geyk geword het? Is dit nie die sleutels wat sy inbou vir mense wat haar uitsprake en skryfwerk volg nie?

Vir die anti-Hambidge brigade, waaronder my voorganger sekerlik tel (suum cuique), het ek net die volgende raad: parvis imbutus tentabis grandia tutus. As julle dit dan beter kan doen, doen dit.

Op die LitNet-werf is daar twee besprekings van Neels Jackson se Jesus vir almal: Die gay-gesprek in die kerk. Een deur Barend van der Merwe, en die ander deur Louise Viljoen (JBay). Ek is bevrees ek gaan gallus gallus domesticus wees en net volstaan deur te sê dat ek albei bewonder vir hul goeie maniere.

As ek dit moes geresenseer het, sou ek Thoreau aangehaal het (“Whatever the human law may be, neither an individual nor a nation can commit the least act of injustice against the obscurest individual without having to pay the penalty for it.”) en dan heeltemal aan ’t tiere geraak het met audemus jura nostra defendere.

Barend van der Merwe en JBay se Louise Viljoen kom uit ’n verdraagsame agtergrond en behandel die Neolities Gereformeerde Kerk se gay-haters met ’n soort begrip, weliswaar afstandelik en nie vereenselwend nie.

Vir my gevoel is dit baie naby aan mulgere hircum, as julle my die beeld sal verskoon.

Vriendelike groete aan al vyf my lesers, en ’n goue ster op die voorkop vir Elsabe Brits, die enigste wat Crito raak gesien het. Dulcius ex asperis.