by

Hoe om van Jacob Zuma en Karel Klitsgras te vergeet

Februarie 25, 2021 in Uncategorized

Liewe broeders en susters, julle kan my nie sien nie, maar ek kan julle verseker, hier voor die rekenaar sit ’n ontnugterde mens. Langs my lê vanoggend se Beeld, wat ons seergewaardeerde voormalige president, Jacob Zuma, aanhaal as sou hy gesê het ons land se wette is glads te sag. En hy behoort te weet. Hy is ’n man wat die verskil tussen sag en binneboud verstaan. Jammer, vingerfout. Sag en benoud. Is hy nie oppad om die bendes 26, 27 en 28 in die tronke te gaan saamsnoer in die magtige elf en dertigs nie? En hy ken net een manier, en dis om van voor te ly. Jammer, glipsie.

Wat het dit met resensies te doen? Saak staan só: Gister lees ek Louise Viljoen se begrype oor Ashwin Arendse se bundel Swartland. (Rapport Boeke). En ek onthou ’n les uit een van my vorige lewes: Om te weet, is nie genoeg nie. ’n Mens moet verstaan ook. Anders hardloop jy in die muur vas. Muur, nè?

Viljoen weet en sy verstaan. Sy reken dis ’n goeie bundel. Lang betoog. Sy kon net meer aangehaal het. Want die bietjie wat sy aanhaal, het vanoggend weer by my kom spook toe ek dog ek lees dat Zuma voel as die wette strenger was, sou hy lankal die elf en dertigs bymekaar gebring het. Luister ’n bietjie hier wat sê Ashwin Arendse:

Ôs ammel wiet ôs lieg vi mekaa,
maa asse mens reg lyste
na ’n laitie se kakpģaat kan jy sien
watte mens hy innie toekoms gan wies.

Dis net ’n ope vraag, broeders en susters, of daai laitie Zuma Swartlandse Afrikaans onder die knie het. Wat ons wel met sekerheid kan sê, is dat die toekoms hier is en ons is totaal beïndruk met hom en sy persoonlike lyfwag, Karel Klitsgras.

Laasgenoemde is natuurlik die mens vir wie die woord “gewiks” geponeer is, en daarom is ek verder in swartgalligheid gedompel op hierdie oggend. Jonathan Amid, die Huppelkind van die resepsiologie, het al die dempers van sy metaforiese orrel oopgetrek om Emma Bekker se kortverhaalbundel Vel vir Boeke24 te besing.

Selfs al is mens sinies oor die Huppelkind se vlyt om absoluut alles wat in Afrikaans verskyn te lees, kan mens uit hierdie bespreking agterkom dat dit goed vir sy jeugdige gemoed was om ’n slag iets werklik uitdagends voor middagtee onder oë te kry. Broeders en susters, u sal met my saamstem, ’n mens kan nie vir ewig en altyd jubelaris van die krimi wees nie. Dis ’n welkome afwisseling in Amid se resensie-oeuvre.

Jo Prins, redakteur van Boeke24, was só in sy skik met die resensie dat hy dit versier het met veelvlakkige alliterasie in die opskrif: “Vreesloos, speels, vol verbeelding en gewiks.” Ag, die fluweelsagte oop-heid van die v’s, en die sluitingskrag van die laaste es! Net jammer van die gewiksery, wat mens laat dink aan die RAUkie van die Café de Deux Magots en die mosselpotte van Den Haag.

En wanneer ek aan die sublieme skranderheid van kameraad Klitsgras dink, en sy onnabootsbare manier om lewend uiting te gee aan die eksistensiële sleutelvrae (“Wie is ek?” “Waar kom ek vandaan?” “Waar gaan ek heen”), val my oog op ’n frase in Stefaans Coetzee se lesersindruk van Deon Meyer se Donkerdrif op die resensiewerf van LitNet. Coetzee skryf: “Soos die meeste oudgevangenes is ek skepties oor misdaadfiksie.”

Hè? Broeders en susters, hè? Hier’s ’n storie…

Terwyl ek nog tob oor Stefaans Coetzee (daai laaste “Jitte Krismis” het my ’n bietjie gegooi, toegegee), lees ek Ingrid van der Walt se bespreking van Die kind se naam is Anneke, deur Juliana Coetzer (ook by LitNet). Dit behoort vir julle duidelik te wees dat Crito tans sensitief is vir indrukke, en Van der Walt het my werklik teruggeroep na die werklikheid.

Dis duidelik dat Die kind se naam is Anneke vir haar van groot belang is – omdat dit vrae beantwoord wat haar bygebly het sedert sy ’n paar jaar gelede Coetzer se Bloedvreemd gelees het. Haar reaksie op Die kind se naam is Anneke is opreg en ontroerend, en laat my vermoed die lees van Die kind se naam is Anneke sal ’n kenterende ervaring in enigiemand se lewe wees.

Terwyl ek nog só sit en staar na die rekenaarskerm, surf ek aan na Fanie Olivier se resensie van Gerard Scholtz se haikufest Stipstaar. Ook by LitNet. En die son begin uitskuif agter die donker wolke van my gemoed. Wat vir my uiters verbasend is. Ek hou nie van hakoes nie.

Dis net dat Fanie Olivier soveel dinge sê wat tegelyk klnkende waarhede is, nes ander van sy opmerkings ons tydsgewrig perfek vasvang. Soveel so dat die voorbeelde van Gerard Scholtz se haikoes wat hy aanhaal, my baie aanstaan; in gevalle waar hy kritiek lewer, verbeel ek my ek kan die vonkeling in Faantjie se oë sien, die glimlag wat kuiltjies langs sy mondhoeke maak. (Nee Fanie, ek is nie die Sonkind nie.)

Olivier se een opmerking (“In ’n tydperk waarin fyn omgaan met die taal oor die algemeen steeds minder belangrik word en minder eiesoortig, waarin die dissipline wat onderliggend is aan formele poëtiese subgenres verdag gemaak word, kan die bydrae wat die bundel lewer moeilik oorskat word”) het in my gedagtes bly tol toe ek die baie interessante bespreking deur Nini Bennett van Louis Esterhuizen se Die gladde stiltes van glas lees.

Niks verkeerd met haar resensie nie, behalwe dat ek my onmiddellik gewip het vir die Afrikaanse vertaling van Henryk Górecki se derde simfonie, ook bekend as Symfonia pieśni żałosnych. Dié benaming word in Engels vertaal as “Symphony of Sorrowful Songs”, en Bennett maak dit sy “simfonie van klaagliedere”. Verkeerdelik. Die Symfonia pieśni żałosnych handel oor ’n ma se rou- en ween-liedere by die dood van haar baba asook ’n tienermeisie se smeking dat die Maagd Maria haar moet beskerm in ’n sel waarin sy deur die Gestapo aangehou word. Dis nie klaagliedere nie.

En terwyl ek hierdie woorde skryf, is ek opnuut op iets anders gefokus as die maaiers in my gemoed. Broeders en susters, my dank aan al die resensente!

6 antwoorde op Hoe om van Jacob Zuma en Karel Klitsgras te vergeet

  1. Ek lees Crito omdat ek daardeur leer en hét al sy kritiek gebruik om op my resensies te verbeter. Maar dit wat ek die afgelope tyd ervaar, laat ‘n wrang smaak in my mond. Om Jonathan Amid as “huppelkind” aan te spreek is niks anders as speelgrond-gedrag nie. Dis maklik om iemand in die openbaar te verkleineer en agter ‘n masker geen verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar nie. Amid doen sy bes. Soos meeste van ons. Regtig!

    • crito het gesê op Februarie 26, 2021

      Ek is verbaas oor u gevoel dat ek Jonathan Amid verkleineer het. Miskien moet u WO Kühne se boek afstof en weer lees. Die boodskap wat ek probeer oordra, as ek my die skoolmeesteragtigheid kan aanmatig, is dat ‘n uiters talentvolle en skrander leser soos mnr Amid sy insigte en aanslag verwater deur 600 woorde oor haas elke nuwe Afrikaanse boek te skryf. Hy doen sy eie goeie naam as resensent enorme skade deur nie meer selektief resensie-opdragte te aanvaar nie. Om elke week ‘n klomp nuwe resensies uit sy pen te kry, is sekerlik nie te versmaai nie. Ongelukkig is die noodwendige gevolg dat hy niemand meer verras met sy gewikste aanslag nie – hierdie leser raak toenemend bewus van die “white noise” van sy styl. Minder is meer, om Mies van der Rohe aan te haal. In boekresensies ewe seer as in die argitektuur. Miskien is u te jonk om te onthou van die geweldige verskraling van kritiese stemme in die dae toe André P Brink Rapport se enigste boekresensent was – en hoe daar gesukkel is om ‘n nuwe geslag resensente te moveer om te skryf nadat Brink uitgetree het. Ek slaan mnr Amid baie hoog aan as resensent. Hy is egter nie bo kritiek verhewe nie, en te oordeel na sy noeste humor-plasings op Facebook sal hy ook ‘n bietjie satiriese humor kan waardeer wanneer dit na sy kant kom. Hoekom “Huppelkind”? Omdat klein Huppel van Krom-en-Skeef alles herhaal en herhaal en herhaal terwyl hy huppel-huppel oor die plassies. Daar is ‘n verskil tussen goedige spot en vernietigende hoon. My skrywe oor mnr Amid, onder andere, was eersgenoemde. Maar as dit die mense behaag wat my op Facebook met fisieke geweld gedreig het na die plasing van hierdie blog, onderneem ek om nooit weer oor mnr Amid te skryf nie, tot hy my versoek om dit weer te doen.

  2. Nog nooit “ween-liedere” gesien nie. Roulied is ‘n sinoniem.
    WAT: Klaaglied: ” 1 a Lied, sangstuk waarin geweeklaag word, waarin uiting gegee word aan smart, leed, pyn, e.d.; ook, digterlike jammer-, rou-, weeklag, soos ‘n klaaggedig wat geskik is om gesing te word; klaagsang (bet. 2), klaaggesang (bet. 2) (weinig gebruiklik) …Die Hebreeuse klaaglied is gereeld by sterftes aangehef, bv. deur Dawid oor Saul en Jonatan (2 Sam. 1:19 – 27).”

  3. Tikfoute? hakoe; oppad

  4. WAT: klaag’lied s.nw.
    1 a Lied, sangstuk waarin geweeklaag word, waarin uiting gegee word aan smart, leed, pyn, e.d.; ook, digterlike jammer-, rou-, weeklag, soos ‘n klaaggedig wat geskik is om gesing te word; klaagsang (bet. 2), klaaggesang (bet. 2) (weinig gebruiklik). … Die Hebreeuse klaaglied is gereeld by sterftes aangehef, bv. deur Dawid oor Saul en Jonatan (2 Sam. 1:19 – 27). en oor Abner (2 Sam. 3:33, 34), waarby dikwels beroepsklaagsangers en -sangeresse opgetree het, en is ook soms oorgedra op volke en stede, bv. in Amos 5:2 en Jer. 9:21, 22.

    Sien “ween-lied” op Woes.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.