by

Klein flaters

Februarie 4, 2021 in Uncategorized

Soms wanneer ek ’n resensie deur Joan Hambidge lees, wens ek ek kon oorkant haar lessenaar gesit het terwyl sy die resensie gesit en tik het. Oor haar skouer geloer het terwyl sy haar notaboeke raadpleeg, deur ouer bundels en naslaanwerke blaai wat sy van die rak gehaal het.

Ja wel, soms. Ander kere sou dit nie geluk nie. Dit lyk partykeer asof sy haar resensies skryf gou-gou voordat sy in die oggend tande borsel.

Maar toe sy besig was om Antjie Krog se Met die oog op môre vir Boeke24 te resenseer, moes dit vir jou ’n ding gewees het. Sy haal regtig uit en wys dat sy ’n resensie kan skryf waarin daar ’n behoorlike ontwikkeling van ’n redenering is – en nie net afgetelde losstaande gedagtes is wat sy gemaak het terwyl sy lees nie.

In hierdie resensie lanseer sy haar betoog en skil in die proses die verskillende aspekte van Krog se versdrama oop. Sy opper ’n punt van wesentlike kritiek (oor die gebruik van die p-woord), en daarna kaats sy die versdrama teen ’n aantal ander tekste. Nie om haar erudisie uit te stal nie, maar as aanloop tot die voorstel dat RSG se dramaman, Kobus Burger, die uitdaging aanvaar om die teks as radiodrama te verwerk. “Anders,” skryf sy, “is my geld op (Marthinus) Basson sodra die teaters volskaals funksioneer.”

Dit is uiters moedswillig van haar om sulke dinge te sê. Ek kan verstaan dat sy hoë agting vir Kobus Burger het. Die man het selfs vir Charles Fourie geïnspireer om weer ’n slag iets luisterbaars te skryf. Maar sal hy ’n mito-poëtiese gesprek kan laat uitwaaier na die luisteraars tuis? En wat gaan hy met daai p-woord doen? Ek kan my nie indink dat ’n beginselvaste digter soos Antjie Krog hom sal toelaat om haar teks te sensureer nie.

Dis wanneer Hambidge die van Basson noem dat ek die wolk van depressie oor my voel kom. Marthinus Basson word op 7 April vanjaar 68. Sal hy, eendag wanneer teaters weer volskaals funksioneer, soos Hambidge dit optimisties beskryf, nog die krag hê om kans te sien vir al die tjol verbonde aan die opvoer van ’n groots opgesette werk soos Met die oog op môre?

Gaan enigiets in hierdie land ooit weer volskaals funksioneer? Net ’n ontplooide kader sal positief op daardie vraag kan antwoord.

Veel minder pikant is Jonathan Amid se bespreking van 17 maal moord deur Daniël Lötter (Rapport Boeke). Amid dans soos Huppelkind, en met sy kenmerkende woordvaardigheid, oor en om die inhoud en aard van die boek. Hy maak sy opmerkings met stelligheid en selfversekering, en is ruimhartig genoeg om die ernstige foute van die boek wat hy uitwys, te beskou as “enkele flaters”.

Helaas kry ek die gevoel dat die koning nie klere aanhet nie. Amid bring Daniël Lötter se boek in verband met die werk van Johann van der Post. Lekker. Maar hy bly in gebreke om Lötter se werk te meet aan dié van die ware Suid-Afrikaanse meesters op die terrein waarop Lötter hom begewe het. Hoe vergelyk Lötter se werk met dié van Benjamin Bennett, en meer onlangs met Chris Karsten se Opspraak deur moord, of selfs sy Riller in die raaisel?

Ruimte vir verbetering.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.