by

Soveel vrae

Januarie 26, 2021 in Uncategorized

Kon ek die jaar maar met swier begin, Willem Kloos-geluide maak, en siedaar! Dit geluk nie. Waarheen is al die prikkelende, ondeunde boekresensies? Hoekom so saai, so bedeesd? Nee, vaderland, laat kom die bitterballe. Ek’s uitgehonger.

Ek veg dapper teen die kalmte en bedaardheid wat oor my kom terwyl ek lees aan Hein Viljoen se resensie van Ondertussen, ’n nuwe digbundel deur Johann Lodewyk Marais (Rapport Boeke). Ek moet toegee, ek hou van Viljoen se benadering. ’n Mens hoef nie Frans te ken om sy resensies te verstaan nie. Sy styl is dié van simpatieke reaksie. Hy neem die luim en geestigheid van die digter op in sy aanpak: Netjiese uiteensetting van inhoud, een samevattende sin uiteindelik (“Die verse in die bundel is onderbeklemtoon, selde verse van die groot gebaar, maar tog wrang en skrynend oor menslike pyn en lyding.”)

Gelukkig het Netwerk24 ’n ingeboude moerplukker. So in die middel van die resensie dop daar iets uit wat lyk soos ’n advertensie vir JLM se bundel Veldboek. Maar ’n mens moet getarra wees om dit te snap. Die omslag word eenkant afgedruk, binne-in die teks van Hein Viljoen se resensie. Dis eers as jy die advertensie lees dat jy kloutjie by die oortjie bring. Bibi Slippers, jy moet dit met ‘n lang oog uitkyk. ’n Nuwe idee vir konkrete poësie. Advertensies, volledig met verwysing na Joan Hambidge se blog.

(Veldboek is die enigste JLM-publikasie waarna Zelda Mans nie verwys in haar heel besonderse ’n Geheelbeeld op die oeuvrebydrae van die digter Johann Lodewyk Marais ten opsigte van natuurpoësie en ekokritiese poësie op LitNet se resensiewerf nie.)

Voor ek afstap van Rapport Boeke, net ’n vinnige kners van die kunstande oor die oer-Crito se besluit om net Afrikaanse boeke as vertrekpunt te gebruik. Johann Kriegler se resensie oor die Mollett-intellektuele se jongste openbarings is wonderlike leesgenot. Sowat van selfbeheersing en ingehoue woede, mens wil hande klap nadat jy dit gelees het. Maar nou ja, die boek is in Engels tweede taal.

By Boeke24 gaan dit ewe rustig. Ek het Francois Bekker se bespreking van Sulke vriende is skaars – Die briewe van Arnold van Wyk en Anton Hartman 1949-1981, saamgestel deur Stephanie Vos en Stephanus Muller dwarsdeur gelees. Korreksie: Ek het dit dwarsdeur gelees nadat ek ophou lag het oor die titel van die boek.

Geen fout te vind met Francois Bekker se hantering nie. En tog: Sulke vriende is skaars. Lui dit nie lam nie? Dit is die papste titel wat sekerlik nog vir ’n boek oor twee kultuurhelde se vriendskap uitgedink is.

Ek wonder wat was die alternatiewe wat oorweeg is? Die een ou was twee jaar ouer as die ander ou? Nols en die AB-dirigent? Hulle was net goeie vriende?

Laat ons ’n lansie breek vir Netwerk24. Hul opskrif by die resensie, “Briewe teen tirannie van die onmiddellike” klink baie beter as die boek se titel, al is dit ook hoe pretensieus.

Dewald Koen bespreek dieselfde boek vir LitNet. Dit is nogal insiggewend om Bekker en Koen se resensies met mekaar te vergelyk. Veral omdat ’n mens dan hiperbewus word van die deeglike manier waarop Bekker alle tersaaklike aspekte van die boek binne beperkte ruimte aangesny het, maar ook vir Koen se werkwyse en die manier waarop hy jou aandag hou.

Die enigste steurende aspek van Koen se bespreking is die illustrasies. Hy verwys byvoorbeeld op ’n plek na Shakespeare se woorde in Twelfth Night (“If music be the food of love, play on”) om die kern van Van Wyk en Hartman se vriendskap aan te dui, en sal dit waaragtig nie geïllustreer word met die omslag van een van die dosyne uitgawes van Twelfth Night nie!

Wat ek ook nie verstaan nie, is dat Koen skynbaar vir lief neem met die boek se titel. Dit laat hom nie eens giggel nie.

Elders op LitNet se resensiewerf is ’n gewikste bespreking van Hugenote aan die Kaap, van Phillippa van Aardt en Elaine Ridge. Die resensent is Christo Viljoen, wat die publikasie kanoniseer as die nuwe beste naslaan- en verwysingsbron oor die Hugenote aan die Kaap van Goeie Hoop. Maar Viljoen is nie ’n maklike resensent nie. Hy is glad nie opgepluk met die indeks nie en spreek die hoop uit dat dit in toekomstige uitgawes van die boek uitgebrei sal word. ’n Mens hoop sy optimisme is nie misplaas nie en dat die boek wel dikwels nuwe uitgawes sal beleef. Dan kan die samestellers sommer ook die invloed van Calvyn bywerk. Dalk ook plek vind vir dié foto van die jong Calvinis Anton Hartman op Durban se strand, saam met vriende:

Steeds by LitNet. Stefaans Coetzee maak ’n eienaardige beswaar teen Chris Karsten se Man uit die dode. Die storie is kwaai, maar die boek is té dun.

Ek het simpatie met Coetzee. Lee Child het ook ’n klompie kort e-boeke geskryf om die geskiedenis van sy hooffiguur, Jack Reacher, so ’n bietjie te verduidelik. Miskien moet Coetzee só daaraan dink: Die lewe bestaan uit baie stukkies kort geskiedenisse, en uit ’n klompie langes.

Maar hoe vreemd dit ookal klink, ek stem met hom saam. Laat die uitgewers die kortes as e-boeke uitgee, en wanneer hulle ’n slag dit ook as fisieke boeke lanseer, het ’n mens iets wat stewig in jou skoot lê wanneer jy sit en lees. Ek het ons bure se kat eenkeer in ons huis betrap en met PD James se Death in Holy Orders gegooi. Meer as 600 bladsye. Sy voete nooit weer op ons perseel gesit nie.

1 antwoord op Soveel vrae

  1. Hallo Crito. Betreffende jou opmerking oor Dewald Koen se illustrasies in sy LitNet Akademies-resensie-essay: Ek moet ma staan vir die invoeg van daardie Twelfth Night-omslag waarna jy verwys; nie Dewald nie. In die toekoms sal ek die ontvangs van oorvloedige liefde aan Orsino in Twelfth Night oorlaat, en self nie so oordadig illustrasies invoeg nie. Groete, Naomi Meyer (LitNet: senior inhoudsbestuurder)

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.