by

Hou moed

September 7, 2020 in Uncategorized

Twee goeies, twee vrottes.

Die twee goeies kom van Rapport Boeke, naamlik Annelise Erasmus se bespreking van Bruidzilla, deur Marion Erskine, en Tobie Wiese se resensie van Frits Gaum se Kerk oor die muur of oor die rubicon?

Erasmus se bespreking is ’n betoog oor hoekom ’n mens nie aannames oor die inhoud van die boek moet maak op grond van jou reaksie op die omslag nie. Daar is ’n element van veralgemening hierin, maar omdat sy dit dadelik na haarself herlei en analiseer, gee dit haar ook die sleutel om die boek te begin bespreek volgens die dinge wat ’n reaksie by haar uitgelok het.

Ek hou van die analiserende afstand wat sy deurentyd behou, en die manier waarop sy uiteindelik haar argument vasknoop.

Tobie Wiese het deur die jare bekendheid verwerf as verslaggewer oor kerksake, en die manier waarop hy hier resenseer, getuig van kennis en insig oor dié spesifieke onderwerp. Hy skets eers die raamwerk van Gaum se boek, en ontwikkel algaande kanse om te reageer op die inhoud. Uiteraard het hy goeie motivering om dit te doen – die boek se titel is ’n vraag, en Wiese se hele aanpak is daarop ingestel om vir die leser te sê hoe ’n mens – en hyself – daarop reageer.

Dit is baie vernuftig gedoen, en alles wat hy sê ná sy verwysing na die Prediker se goeie raad, is vir my bewonderenswaardig. Enige resensent kan maar net hoop op só ’n sameloop van gedagtes, en Wiese se argumentering is ’n kragtoer.

Nou, die swak resensies.

Vir eers JB Roux se resensie oor Op soek na Tretchikoff van Anita du Preez (Boeke24). Hy begin met ’n poging om te probeer verduidelik hoekom Anita du Preez oorgeslaan het van romanses na chic lit of romantiese komedie. Sy argument is vergesog, om die minste te sê. As mens vir Tafelberg romanses skryf, en hulle wil nie meer romanses publiseer nie, klop jy aan by ander uitgewers. Soos Protea Boekhuis of Lapa, wat ’n uitstekende rekord het met daardie genre. Niks wat hy sê, oortuig my van die rede hoekom Anita du Preez nou ’n romantiese komedie geskryf het. Dit sou gehelp het as hy ’n bron kon aanhaal.

Maar sy hele gedoe oor spookasemboekies het ’n negatiewe lading, en ’n taalpuris sou hom daarop kon wys dat Tafelberg sagteband-boeke publiseer, en nie slapbandboeke nie. Laasgenoemde word sommer met krammetjies gebind, JB.

Roux maak ’n interessante opmerking oor humor, maar sy gemor oor die omslag aktiveer vir my (om ‘n Hambidge-term te gebruik) Annelise Erasmus se resensie die dag tevore in Rapport.

Ten laaste Jonathan Amid se resensie oor Toe ons oneindig was, deur Zelda Bezuidenhout (Boeke24). Dit sou sekerlik gehelp het as ek nie JB Roux se resensie gelees het voordat ek hierdie een nadergetrek het nie. Amid se eerste sin is: “Hoekom haal al hoe meer volwassenes sogenaamde YA (yound adult) of fiksie vir jong volwassenes van die rak?” Waarop ek onmiddellik reageer: Waar kom jy daaraan? En subiet belangstelling verloor.

Maar ek dwing myself om verder te lees, want Jonathan Amid is alles in ag genome ’n resensent wat al uitsonderlik goeie resensies geskryf het.

Hy antwoord sy vraag met drie moontlike redes wat mens ten beste kan beskryf as mymeringe, wat hy dan selfvoldaan takseer: “Ek roep al drie in die kol, maar dis nou maar wors: daar is ’n besliste oplewing en uitbreiding van relevante, hedendaagse kwessies wat tieners – en ook ouers van tieners – beslis wil en moet lees.”

Nou, dis nie eens pseudo-wetenskap nie. Dit is sommer net leke-pedagogiek.
Wanneer hy die roman self begin takseer, kom die kenmerkende Amid-aanslag op dreef. Selfs wanneer hy in gebreke bly om sy verwysing na John Green te verduidelik, hinder dit my nie so erg nie, want dit is nie ’n essensiële deel van sy sentrale betoog nie.

Dis wanneer jy die laaste, insiggewende paragrawe van hierdie resensie lees dat jy geïrriteerd wonder hoekom hy nie meer krities is oor sy eie skryfwerk nie. Te oordeel na die tweede deel van hierdie resensie het Amid hoegenaamd nie die donsigheid van sy aanloop nodig nie.

Vrot begin, goed geëindig.

1 antwoord op Hou moed

  1. Wie resenseer die resensent van resensente? Ek meen dat Crito effens te kwaai is in enkele aspekte van hierdie skrywe.

    Eerstens: die WAT gee sagteband en slapband as sinonieme – die kap na JB Roux se gebruik van die een term is onnodig. Dit trek die aandag af van die ware en waardevolle kritiek.

    Tweedens: oor Jonathan Amid se resensie. Die klagte oor sy inleiding is ook onnodig. Ek stem saam dat hierdie bespreking nie noodwendig nodig was in die resensie nie, en dat sy opmerkings nie indringend genoeg is nie gegewe sy woordperk. Tog is die vraag waarmee hy werk, ‘n belangrike onderwerp wat uitgewers en bibliotekarisse en onderwysers besig hou – daardie groep boeke wat deur sowel (senior) tieners as volwassenes gelees word. Wat prikkel die belangstelling in albei groepe? Hoe bemark jy so ‘n boek? Op watter rak moet dit geplaas word? En wat kan ouers saam met hul kinders lees? Ek is self taalonderwyser en bibliotekaris by ‘n privaathoërskool – daardie onderwerp is vir my ook interessant (en ek lees heelwat tienerfiksie, met groot genot – beslis ‘n ontsnapping aan die volwasse lewe!). En Amid se verwysing na John Green is snelskrif gemik op mense wat sogenaamde YA-letterkunde ken: as jy weet, dan weet jy; as jy nie weet nie, mis jy iets.

    Dus, liewe Crito, in hierdie geval verskil ek effens van jou. Maar met vele vorige inskrywings was ek dit met jou roerend eens (ook hier oor die Erasmus-resensie van Bruidzilla) – ek sal in die toekoms dit as kommentaar aanteken sodat jy nie dink dat ek net op negatiewe dinge reageer nie!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.