Jy blaai in die argief vir 2020 September.

by crito

Vers en tegniek

September 28, 2020 in Uncategorized

Dit was ’n goeie draai om te maak, die ene van die uwe by Versindaba. Nog geen kans dat ek ’n verbete poësieleser sal word nie, maar ek kan wel sonder vrees van teenspraak sê dat die reis in hul argief ’n openbaring was. Dit lewer ’n baie groot diens aan poësieliefhebbers en die Afrikaanse letterkunde.

Soos met enige webwerf van dié aard is daar wisselende bydraes; ek is egter oortuig dat die opsigters van dié webwerf nie prulwerk sal deurlaat nie. Die jongste twee besprekings is vir my tekenend daarvan.

Mens hoef net Stefan van Zyl se hantering van Die sterre is lankal dood (Johan de Lange) te lees om te weet dat hier met groot erns en respek vir die digter se oeuvre nagedink word. Van Zyl gee ’n besonderse insig in sowel bundel as digter. Hy kon miskien nog meer uitgewei het by elk van die onderafdelings van die bundel – maar ek sê dit net omdat hy my nuuskierig gemaak het, nie omdat hy enigsins gefouteer het nie.

Sy samevattende opmerking in die slot is bedees, maar uiteindelik takseer hy die bundel baie hoog. Ek kan nie onthou wanneer ek laas só ’n skatting gesien het nie; Van Zyl is duidelik iemand wat die woord “ewigheidswaarde” deeglik oorweeg het voor hy dit gebruik het.

Nini Bennett het na Oopkardoes. Boertige ryme deur Hennie Aucamp. Versôre deur Johann de Lange gaan kyk. Vir my gevoel het sy té oorsigtelik te werk gegaan. Dit is nie ’n swak resensie nie – sy kon net veel meer uitgebrei het.

Mens wonder watter aspekte van Aucamp se werk die samesteller openbaar het, dinge wat ons nog nie geweet het nie; Bennett gee tematiese aanduidings, sonder om in detail vir die oningewydes te verduidelik waarmee Aucamp aan die gang is. Miskien is dit so dat die bundel die leser wil vermaak “met speelse poësie en gevatte taalspel”, maar by Versindaba, waar ruimtebeperkings nie so erg is nie, kan mens sekerlik die kans gebruik om nie net uit die verse aan te haal nie, maar ook die aard van Aucamp se humor en spel te analiseer, veral wanneer dit in ’n ervaringswêreld waad waar konvensies en preutsheid omseil word.

Die vraag is natuurlik of Boeke24 en Rapport Boeke se besprekings, waar daar ruimtebeperkings is, kan meeding met Versindaba se werf. Verlede Maandag het Daniel Hugo vir Boeke24 geskryf oor die Aucamp-versameling – weer eens ’n bespreking wat Hugo se aansien as kenner van die digkuns laat styg. Dit is ’n uitstekende resensie danksy die presiese manier waarop hy inhoud analiseer, die bundel oopvou voor jou oë en sy reaksie verwoord, in sekere gevalle met ’n emosionele sweem. Dit sou onregverdig wees teenoor Nini Bennett om haar bespreking met Hugo syne te vergelyk; laat ek liewer volstaan met die gedagte dat sy as resensent nog onderweg is.

Hugo sou, vermoed ek, by elke argumentspunt nog verdere toeligting of oorpeinsing kon gee. Niks verhinder hom uiteraard om van hierdie resensie ’n vertrekpunt te maak vir ’n uitvoerige bespreking vir LitNet of Versindaba nie. Ek sê maar net.

Marius Crous het ’n welkome terugkeer tot Boek24 se blad gemaak met ’n resensie van Jacobus van der Riet se Die heimlike heiligdom. Wat ek van Crous se aanpak waardeer, is dat hy dit uit die staanspoor duidelik maak dat dit vir hom gaan oor sy persoonlike reaksie op die verse. Wat hy daaruit put. Dan lees mens verder, en in die slot kom jy agter dat Crous ook ’n strateeg is, dat hy tog op ’n manier ’n besadigde, gedrae poging sal aanwend om ’n ferm, objektiewe taksering te maak. Presies hoe hy dit doen, dwing my bewondering af. Die bundel het by hom aanklank gevind, maar hy oorskat dit nie.

Die lees van die twee besprekings van Marlize Hobbs se Voëlvrou (Schalk Schoombie in Boeke24 en Rachelle Greeff in Rapport Boeke) bring mens terug aarde toe, na die aktualiteit van die gender-vraagstukke van die dag en die tema van vrouens as slagoffers van mansgeweld, op uiteenlopende maniere.

Greeff skryf ’n versigtige resensie. Sy gee eer waar dit gepas is, sy benader die inhoud van die boek met respek. Die kern van haar resensie is egter dat Voëlvrou veel beter kon gewees het. Die potensiaal van die roman is nie verwesenlik nie. Greeff skryf dit toe aan ’n manuskripontwikkelaar wat die outeur gefaal het. Is dit deesdae die gebruik dat ’n “manuskripontwikkelaar” ’n skrywer bystaan voordat die uitgewer dit te lese kry? Of is die uitgewer steeds die een wat die manuskrip se potensiaal help ontwikkel?

Schalk Schoombie het nie sulke besware nie. Hy meen Voëlvrou is ’n kragtige boek, een wat ’n “deurtrapte gewe van seksuele trauma op ’n vars en oorspronklike manier” hanteer, en uiteindelik “gevleuelde woorde van bevryding vir slagoffer én verdrukker” spreek. Onderweg spreek hy Hobbs aan oor haar veralgemenings oor mans.

Ek het gesukkel om my vinger te plaas op die gevoel wat ek, na verskeie herlesings van die resensie, gekry het dat iets haper, dat Schoombie terughou, iets nie pront stel nie.

Dit het die lees van Jonathan Amid se afranseling van Peet Venter se Die dooies praat nie geneem om vir my helderheid oor Schoombie se resensie te bring. Amid is baie reguit oor die teleurstelling wat Die dooies praat nie vir hom is.

Met Schoombie se bespreking van Voëlvrou, het ek uiteindelik besef, moet ’n mens bedag wees op alles wat nié gesê word nie. Hy het agting vir baie dinge, van die inhoud, die tematiek, die deurdagte narratief, tot die skreiende teenstellings tussen manlike en vroulike ervaring.

Maar dit is die toon van sy resensie wat jou laat agterkom dat daar nie groot geesdrif by hom ontlok is nie, dat die lees van die roman nie vir hom ’n katarsis gebring het nie. Hy het weggeskram van enigiets wat kon aandui dat hy meegevoer is, dat die emosionele lading hom diep geraak het, dat dit hom self bevry het van enige wanopvattings. Dit is nie ’n resensie wat getuig van dankbaarheid oor die verryking wat die lees van die boek gebring het nie – daar is eerder ’n afstandelikheid in sy finale woorde oor die roman.

In hierdie opsig is hy net so versigtig in sy resensie-strategie as wat Rachelle Greeff is. Heel pikant gee Greeff een bykomende oorveeg na die boek wanneer sy haar uitlaat oor die omslag daarvan. Mens kan nie ’n boek takseer aan sy omslag nie – Greeff se opmerking is miskien ’n aanduiding dat haar geduld met die boek op is.

Schoombie het wyslik besluit om niks oor die omslag te sê nie.

by crito

Algaande leert men

September 8, 2020 in Uncategorized

Jonathan Amid reageer op Facebook op my teregwysing aan hom oor sy resensie van Toe ons oneindig was, deur Zelda Bezuidenhout.

Hy skryf: “Vandag se kort resensie op Netwerk24 van die nuwe jeugroman deur Zelda Bezuidenhout. Ek het die prestasie van ‘n “vrot resensie” deur die gesiglose kenner Crito losgeslaan omdat ek durf om te sê dat meer volwassenes nou meer YA fiksie blyk te lees en ‘n paar redes verskaf (uit ‘n magdom!) hoekom dit dalk so mag wees. Ek meen, kyk na Graffiti en ander boekwinkels se verkope, loer na Nielsen se lyste en groepe soos die Lekkerleesboekrak hier op Facebook om te sien presies hoeveel buzz daar rondom hierdie boeke is. Ek suig nie die goed uit my duim nie.”

Mooi so. As hy sy resensie begin het met ’n verwysing na “Graffiti en ander boekwinkels se verkope,” aangehaal het uit Nielsen se lyste, selfs verwys het na Lekkerleesboekrak, sou niemand, veral nie die gesiglose uwe nie, ’n wenkbrou gelig het nie.

Hy moet maar die les leer wat ek as beginner geleer het by Harald Pakendorf: ’n Resensent durf nooit aanneem dat sy lesers alles weet wat hy weet nie. Jy moet hulle inlig.

In hierdie geval bly Amid se aanloop gewoon mymeringe omdat dit nie spruit uit ’n aantoonbare en aangehaalde feit nie. Of soos hy dit kostelik tipeer op Facebook, ’n “absolute klomp bol” wat moontlik goeie kompos sal maak.

Die man hét die gawe…

by crito

Hou moed

September 7, 2020 in Uncategorized

Twee goeies, twee vrottes.

Die twee goeies kom van Rapport Boeke, naamlik Annelise Erasmus se bespreking van Bruidzilla, deur Marion Erskine, en Tobie Wiese se resensie van Frits Gaum se Kerk oor die muur of oor die rubicon?

Erasmus se bespreking is ’n betoog oor hoekom ’n mens nie aannames oor die inhoud van die boek moet maak op grond van jou reaksie op die omslag nie. Daar is ’n element van veralgemening hierin, maar omdat sy dit dadelik na haarself herlei en analiseer, gee dit haar ook die sleutel om die boek te begin bespreek volgens die dinge wat ’n reaksie by haar uitgelok het.

Ek hou van die analiserende afstand wat sy deurentyd behou, en die manier waarop sy uiteindelik haar argument vasknoop.

Tobie Wiese het deur die jare bekendheid verwerf as verslaggewer oor kerksake, en die manier waarop hy hier resenseer, getuig van kennis en insig oor dié spesifieke onderwerp. Hy skets eers die raamwerk van Gaum se boek, en ontwikkel algaande kanse om te reageer op die inhoud. Uiteraard het hy goeie motivering om dit te doen – die boek se titel is ’n vraag, en Wiese se hele aanpak is daarop ingestel om vir die leser te sê hoe ’n mens – en hyself – daarop reageer.

Dit is baie vernuftig gedoen, en alles wat hy sê ná sy verwysing na die Prediker se goeie raad, is vir my bewonderenswaardig. Enige resensent kan maar net hoop op só ’n sameloop van gedagtes, en Wiese se argumentering is ’n kragtoer.

Nou, die swak resensies.

Vir eers JB Roux se resensie oor Op soek na Tretchikoff van Anita du Preez (Boeke24). Hy begin met ’n poging om te probeer verduidelik hoekom Anita du Preez oorgeslaan het van romanses na chic lit of romantiese komedie. Sy argument is vergesog, om die minste te sê. As mens vir Tafelberg romanses skryf, en hulle wil nie meer romanses publiseer nie, klop jy aan by ander uitgewers. Soos Protea Boekhuis of Lapa, wat ’n uitstekende rekord het met daardie genre. Niks wat hy sê, oortuig my van die rede hoekom Anita du Preez nou ’n romantiese komedie geskryf het. Dit sou gehelp het as hy ’n bron kon aanhaal.

Maar sy hele gedoe oor spookasemboekies het ’n negatiewe lading, en ’n taalpuris sou hom daarop kon wys dat Tafelberg sagteband-boeke publiseer, en nie slapbandboeke nie. Laasgenoemde word sommer met krammetjies gebind, JB.

Roux maak ’n interessante opmerking oor humor, maar sy gemor oor die omslag aktiveer vir my (om ‘n Hambidge-term te gebruik) Annelise Erasmus se resensie die dag tevore in Rapport.

Ten laaste Jonathan Amid se resensie oor Toe ons oneindig was, deur Zelda Bezuidenhout (Boeke24). Dit sou sekerlik gehelp het as ek nie JB Roux se resensie gelees het voordat ek hierdie een nadergetrek het nie. Amid se eerste sin is: “Hoekom haal al hoe meer volwassenes sogenaamde YA (yound adult) of fiksie vir jong volwassenes van die rak?” Waarop ek onmiddellik reageer: Waar kom jy daaraan? En subiet belangstelling verloor.

Maar ek dwing myself om verder te lees, want Jonathan Amid is alles in ag genome ’n resensent wat al uitsonderlik goeie resensies geskryf het.

Hy antwoord sy vraag met drie moontlike redes wat mens ten beste kan beskryf as mymeringe, wat hy dan selfvoldaan takseer: “Ek roep al drie in die kol, maar dis nou maar wors: daar is ’n besliste oplewing en uitbreiding van relevante, hedendaagse kwessies wat tieners – en ook ouers van tieners – beslis wil en moet lees.”

Nou, dis nie eens pseudo-wetenskap nie. Dit is sommer net leke-pedagogiek.
Wanneer hy die roman self begin takseer, kom die kenmerkende Amid-aanslag op dreef. Selfs wanneer hy in gebreke bly om sy verwysing na John Green te verduidelik, hinder dit my nie so erg nie, want dit is nie ’n essensiële deel van sy sentrale betoog nie.

Dis wanneer jy die laaste, insiggewende paragrawe van hierdie resensie lees dat jy geïrriteerd wonder hoekom hy nie meer krities is oor sy eie skryfwerk nie. Te oordeel na die tweede deel van hierdie resensie het Amid hoegenaamd nie die donsigheid van sy aanloop nodig nie.

Vrot begin, goed geëindig.