by

Die realiteite

Augustus 31, 2020 in Uncategorized

I.

In die diep nag, wanneer mens se gewete met jou begin speletjies speel, dink ek dikwels na oor my gebrek aan geesdrif vir baie dinge. Goed, ek kan nie die uitwerking van Grendeltyd ignoreer nie. Ek voel net nie meer die dwingende noodsaaklikheid van resensies lees en vir myself ’n saak uit te maak of dit goeie of swak resensies is nie.

Ek lees dat Bibi Slippers, sameroeper van die beoordelaars vir die kykNet-Rapport-Bekresensentpryse, sê dat hulle baie moeiliker aan 2019 se oes beoordeel het as vorige jare, veral by niefiksie-resensies, waar die inskrywings merkbaar beter as in vorige jare was.

Ek glo haar – te oordeel na die vir resensies wat die kortlys vir niefiksie gehaal het. Die vraag vir my is net wat op aarde volgende jaar se oorkoepelende oordeel sal wees. Dat 2020 ’n swak oesjaar was? In alle opsigte?

Deel van die probleem, weet ek, is dat al hoe meer resensies nie werklik resensies is nie. Dis pogings om reklame te maak vir boeke. Die mankemente is al só opvallend. Die resensent loof, maar die skryfstyl bruis nie van geesdrif nie. Die geseënde boeke sluit aan by die skatkis van goeie Afrikaanse leesstof, maar die resensent kan net die verhaal opsom en wend geen poging aan om dinge soos karakterisering, spanningsbou, spanningselemente en botsende magte, omgewingsdetail, dialoog, ritme, stemmingswisseling, ensovoorts ensovoorts te takseer nie.

Die probleem het al so erg geword dat ek onlangs begin oeloeleer het toe ek ’n negatiewe resensie onder oë kry. Dankie, Jonathan Amid.

In die afgelope maand het een fiksie-resensie my laat juig – Louise Viljoen s’n oor Francois Smith se Die kleinste ramp denkbaar. Uiteraard het Rapport ruimte-beperkings, maar ek dink hier is ’n geval waar die boekeredakteur vir die resensent kon aangemoedig het en groot ruimte vir haar oopgemaak het in Rapport Weekliks. Maar terug by die resensie – ’n indrukwekkende aanslag waarin die inligting oor die verhaallyn ingebed is in haar bespreking van tema, betekenis, karakter, stemmingsbou en so meer.

Maar kyk ek na my legger, vra ek my af hoekom Jean Meiring so min resenseer deesdae. Sy skaarsheid laat ’n groot leemte. Daarteenoor is daar resensente wat heeltemal té gereeld resenseer. Ek is bly Jonathan Amid se resensiedrif van verlede jaar het uitgewoed en dat sy leeslading vanjaar minder is. As mens elke week ’n resensie of twee moet lewer, druis dit ’n bietjie in die skryfwerk.

En dan die groot vraag: Hoekom resenseer so min Afrikaanse romanskrywers Afrikaanse romans? Ja, ja, dis nie altyd gesond dat skrywers hul “mededingers” resenseer nie, maar waarom is soveel van hulle eerder bereid om buite hul gekose genre te beoordeel?

Om van die akademici nie te praat nie. Daar is nie baie Afrikaanse departemente oor nie, maar gaan kyk gerus hoeveel van die doserende personeel het hoegenaamd ’n openbare resensieprofiel. Mens sien hul name soms onder die beoordelaars van literêre pryse, maar waar is hul resensies? Stel so min van hulle belang daarin om studente na hul departemente te probeer lok deur aan die openbare debat oor boeke deel te neem? ’n Artikel nou en dan in LitNet is nie vir my genoeg nie.

Met die besprekings van digbundels gaan dit nie veel beter nie. Omdat ek persoonlik weinig belangstelling het in die digkuns, verg dit soveel meer konsentrasie om die resensies te lees. Ek stel nie soseer belang in die inhoud nie – ek wil weet waartoe die digter verstegnies in staat is. Wat maak die nuwe bundels goed – of swak? Natuurlik kan nie almal so deeglik resenseer soos Louise Viljoen nie, maar ek het al skitterende resensies deur Joan Hambidge, Charl-Pierre Naudé en Marius Crous gelees. ’n Hele ruk terug.

Wat bring die gejammer hier aan? Hoe meer ek daaroor nadink, hoe meer bewus raak ek van die dinge wat my pla aan resensies van digkuns. Ek vra myself hoe Louise Viljoen dit regkry om ’n uitstekende resensie soos hare van Lynthia Julius se Uit die kroes te laat ontspoor. ’n Knap resensie, aanvanklik. Viljoen beskryf Julius binne ’n vergelykingsraam wat iemand wat nie die bundel gelees het nie, help om dit te plaas. Maar wanneer sy die kans het om die grein van die digter se taalvernuf te verduidelik, glip sy verby met opmerkings wat vergesel moes gewees het van aanhalings uit die gedigte. Soos: “Daar is ook tegniese vaardigheid wat blyk uit die wyse waarop die digter werk met punktuasie en onthoubare beelde skep wat binne en oor gedigte heen met mekaar praat.” En: “Die woordeskat van Afrikaans word ook verruim.” Ja, maar hoe? Hoekom dit nie wys nie? Dit is tog die dinge waaraan sy Julius se eiesoortigheid as digter meet.

Ek het my al genoeg uitgelaat oor Joan Hambidge se resensies en gaan dit nie hier herhaal nie. Ek het groot agting vir haar omdat sy as sowel digter as akademikus haar kant as resensent bring. Die standaard van haar resensies is egter ongelyk, en haar hebbelikhede in haar digkuns-resensies spoel oor in haar resensies oor prosawerke.

Normaalweg geniet ek dit om te sien hoe resensente soos sy en Jonathan Amid hul wye leeservaring aanwend om boeke te probeer plaas en verduidelik, maar dit neem gewoonlik net een so ’n opmerking om die resensieleser skielik te stuit. By Hambidge is dit ’n opmerking soos “Onbewustelik sien ons ‘By die dood van Roy Campbell’ van D.J. Opperman en Almodóvar se pakkende rolprent Matador van 1986.” – in haar resensie van Francois Smuts se Slagoffer. Die Opperman-verwysing is verstaanbaar en knap gesien, maar wat is dit aan Almodóvar se romantisering van geweld in Matador, buiten die stiergevegte wat haar daaraan laat dink?

Die fout hier lê nie daarin dat Hambidge Matador oproep nie, maar in haar gebrek om dit verder analiserend te ontgin. Matador en Slagoffer “gesels” met mekaar, en Hambidge sou ’n hele resensie kon vorm rondom die wyse waarop die twee werke hul tematiek benader. Ek wens sy het.

By Amid wemel dit ook aan verwysings. Hy het die nuk om iets op te roep sonder om dit behoorlik te ontgin. In sy skrander bespreking van Henriette Linde-Loubser se Plek van poue roep hy op ’n kol Jaco Fouché se Ryk van die rawe op. Al sy ander verwysings is na buite die Afrikaanse lektuur, en daarom verwag ’n mens, met reg, dat hy hierdie verwysing behoorlik verduidelik. Omdat hy dit egter nie doen nie, lyk dit na ’n oppervlakkige poging om diepte te verleen aan sy resensie.

Daar is goeie resensies ook. Ek het Juliana Coetzer se bespreking van Renée Rautenbach Conradie se Met die Vierkleur in Parys met genoegdoening gelees, en Riaan Grobler wys weer sy gesig met ’n interessante siening van Jan Vermeulen se Nagjagter. Coetzer se resensie is vir my pragtig omdat sy nie alleen die roman en Parys nie, maar ook die angste en gevoelens van vandag betrek. Grobler skryf oor ’n nis-roman, en dit is nogal amusant hoe hy uiteindelik probeer verduidelik dat nie almal van die boek onder bespreking gaan hou nie.

Maar dit is vir eers dit. Nie rêrig lus nie, korporaal.

II.

Ek sou my plig versuim as ek nie dadelik my opmerkings hierbo laat aansluit by die gesprek wat die hoogleraars Willie Burger en Louise Viljoen op LitNet se Boeke met Burger gevoer het nie. Soveel van die dinge wat hulle sê oor wêreldletterkunde, oor die plek van die Afrikaanse letterkunde daarin, oor ’n transnasionale literatuurbenadering versus ’n nasionale een, laat ’n mens instemmend die kop knik. Louise Viljoen op haar kenmerkend bedaarde, indringend intellegente manier; Burger met die vonkel in sy oog, wat die gesprek stuur en sy gespreksgenoot klinkende uitsprake laat maak omdat hy self nie terugdeins van die issues nie. Waarvan een die belangrikste die feit is dat die Afrikaanse letterkunde in ons land een van vele is, om maar net te begin.

Ek het die wêreld se ontsag vir Viljoen, maar laat ek ook hier byvoeg dat Burger se grendel-haardos hom uiters aanvatlik maak. En terwyl hulle gesels, besef ek al hoe meer dat hul gesprek nét akademies gerig is. Dit sou vir my nogal interessant wees om te weet hoe hulle die koop van boeke sien, wat hulle dink van die deurbrake wat Afrikaanse boeke al na die internasionale mark gemaak het. Want dit sluit direk aan by alles waaroor hulle gepraat het. Hoe word Afrikaanse boeke gesien naas dié in ander klein en groot tale?

Nóg Viljoen nóg Burger het in ag geneem dat die boekebedryf rondom die Afrikaanse boek verander het. Niks is meer soos dit vyf jaar gelede was nie. Buiten die vermindering van enersyds die getal boekwinkels waar boeke te koop is, en anderdys die kleiner wordende getal reputabele boekeblaaie by koerante en tydskifte, en die spieëlbeeld daarvan by TV en radio, het die hele uitgewersbedryf ook verander.

Ek kan aan geen Afrikaanse skrywer dink wat al ’n deurbraak oorsee gemaak het sonder óf ’n literêre agent óf ’n uitgewer wat sy lof oorsee op boekbeurse en in gespreke met ander uitgewers besing nie. As jy die transnasionale sprong wil lokaliseer, gebeur dit eweseer buite die akademiese sfeer as daarbinne.

’n Mens hoef alleen te dink aan die rol van literêre agente sedert die jare negentig – en beslis ook die toetrede van die Penguin-groep tot die Afrikaanse mark om dadelik te besef dat die klem hoegenaamd nie meer val by die behoud van Afrikaanse kultuur en die bou van ’n gesonde literêre sfeer nie.

Kultuur is nie ’n oorweging wanneer dit gaan oor verkoopsyfers en winsmarges nie. Enigiemand kan lippediens verrig aan die kultuur, maar bemarkers praat ’n ander taal. Skrywers word gewerf nie omdat hulle dalk die Hertzogprys kan wen en ’n duisend en een proefskrifte by nagraadse studente inspireer nie. Skrywers word gewerf omdat hulle bemarkbaar is, omdat hulle name ’n brand is waarmee handel gedryf kan word.

Maar wat Louise Viljoen gesê het oor die noodsaaklikheid om transnasionalisme in jou literêre visie na te streef, en terselfdertyd nie die nasionale (in die sin van streeksgebonde) af te skeep nie, is presies die dilemma wat Afrikaanse uitgewers die afgelope tien, vyftien jaar moes aanspreek. Dis goed om oorseese regte te verkoop, maar dit beteken zilch as jy nie tuis boeke aan die publiek verkoop kry nie.

Met ’n verminderde aantal media-uitlaatkleppe is dit te verstane dat uitgewers aan maniere moet dink om te sorg dat hul boeke op die boekeblaaie bespreek word. Daarom was dit vir my geen verrassing nie om te hoor dat daar plaaslike uitgewers is wat met reëlmaat boeke by sommige van die gerekende resensente besorg in die hoop dat die resensente resensies sal skryf en dit vir die boekeblaaie aanbied. Dis ’n nuwe vorm van guerrilla-bemarking. En as hulle nie die boeke vir koerante resenseer nie, is daar altyd die ander uitweg – blogs, Facebook en Twitter.

Oorsee sal geen publikasie van naam ’n reeds geskrewe resensie aanvaar, of ’n aanbod vir ’n resensie oorweeg as die publikasie nie self die boek ontvang het en die resensent genader het nie. In Suid-Afrika gebeur dit wel. Dit is nie ’n positiewe verskynsel nie – veral omdat ek weet hoeveel moeite die redakteurs van die boekeblaaie by Afrikaanse koerante doen om goeie resensente te lok vir die belangrike publikasies. Maar as ’n boekeredakteur soveel bloutjies loop by gerekende resensente wat jou op nommer 99 in die steek laat, is dit waarskynlik makliker om net in te gee en iets te aanvaar wat kwalik te onderskei is van ’n uitgewery se reklamemateriaal.

Ek verstaan hoekom die uitgewers hulle tot guerilla-bemarking wend, maar dit rig ook skade aan.

Vir die gewillige resensent is die versoeking ewe groot. Werk dit vir jouself uit: As jy in die loop van die jaar ’n fris bibliotekie kan opbou danksy alles wat jou toegestuur word, sal dit dwaas wees om jou weldoeners in die gesig te vat en ’n brutale resensie oor een van daardie boeke te skryf.

Dit is hoekom die algemene peil van resensies, en die afwesigheid van kritiese vernuf, my so lam in die sitvlees maak. Miskien moet die redakteurs van die boekeblaaie ‘n kennisgewing by elke resensie plaas om aan te dui watter resensies nie deur hulle gewerf is nie.

Ten slotte ’n gedagte wat al ’n lang pad aankom. Toe Media24 besluit het om hul drie oggendkoerante se boekeblaaie saam te smelt, het ’n proses begin waardeur die gesprek tussen resensente oor Afrikaanse boeke verskraal het. Daar was nog moedige pogings om oor die belangrikste boeke bykomende besprekings op die internet te plaas, maar ek sien niks meer daarvan nie. Die huidige situasie is nie een wat die bedryf rondom die Afrikaanse boek bevorder nie, en met die verloop van tyd sal gesprekke soos dié tussen Burger en Viljoen ’n kuriositeit word.

Intussen droom ek van ’n situasie waarin die boekeredakteurs weer mag het, en LitNet oorstroom word deur die huidige geslag akademici wat nuwe publikasies bespreek. Soos dit hoort. En ek droom van ‘n wêreld waarin hoogs intellektuele diskoers – soos dié van Burger en Viljoen – ook die markplek se realiteit verreken. 

3 antwoorde op Die realiteite

  1. Waarom word die boekbesprekings wat reeds jare lank elke week op praag.co.za gepubliseer word deur Crito en andere geignoreer?

  2. Nie net is “baie” resensies nie bloot resensies nie maar reklame, guerilla-reklame ingeslote; ander, ewe ondermynende motiewe vorm lankal deel van dié fyn berekende speletjie. Want onvermydelik sit daar deesdae toenemend ook politieke oogmerke agter soveel van die op-die-oog-af business-as-usual bydraes wat deesdae kamma as resensies in die hoofstroommedia aangebied word. Die niksvermoedende leser word aan ‘n onsigbare lessie oor allerlei social justice issues onderwerp.

    Sonder uitsondering kom daardie bydraes dus uit die radikaal-linkse kamp en het die “resensent” die SJW-mantel vir haar/homself oorgegooi. Sulke “resensies” is eintlik ideologiese traktaatjies en maak deel uit van daardie reeds oorbekende a Luta continua guerillapolitiek wat ten doel het om die vrye Weste se waardes en beginsels met lefties se gunsteling anarcho-leftism te vervang.

  3. Elmarie het gesê op September 8, 2020

    Ek dink Crito maak ʼn paar geldige punte hierbo. Ek wonder baie keer wanneer ek resensies lees:
    1. Hoe objektief is resensente? Met ander woorde, hoe groot is die invloed wat smaak speel?
    2. Hoe deeglik resenseer resensente? Of: hoe deeglik is hulle veronderstel om die boek te lees voordat hulle ʼn ware resensie kan/mag skryf? Partykeer is ek verstom wanneer ek ʼn boek lees nadat ek ophemelende resensies daarvan gelees het: Is dit maar net ek wat stupid is, of het die resensente nie krities gelees nie?

    Oor die Boek met Burger-gesprek: Ek dink die titel was bietjie misleidend. Dit was baie akademies, filosofies.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.