Jy blaai in die argief vir 2020 Julie.

by crito

Verspeelde kans

Julie 30, 2020 in Uncategorized

Ek is gevra hoekom ek nie ook aandag gee aan Klyntji se resensies nie. Het ’n draai by www.klyntji.com gaan maak. Baie beïndruk. Een resensie wat vermelding verdien, naamlik Michelle Oelofse s’n oor Gisela Ullyatt se Die waarheid oor duiwe. ’n Verdienstelike resensie, maar ook ’n lui resensie. Michelle Oelofse toon dat sy bereid is, en die vermoë het, om die bundel en die gedigte behoorlik te resenseer. Maar sy laat haar verlei deur die gedagte om haar lesers ’n maklike verwysingspunt te gee vir die duif-beeld, naamlik Breyten Breytenbach se bekende gedig uit Lotus, “soos van vlerke” met sy rooiborsduif. Omdat sy vir ’n webwerf skryf, en dus veel meer ruimte het as wat die geval by ’n koerantresensie sou wees, het sy die kans verspeel om ’n indringende bespreking te gee oor die manier waarop Gisela Ullyattt se bundel in gesprek tree met die werk van ander Afrikaanse digters. Ek lys die vernaamstes daarvan uit die laaste uitgawe van die Groot Verseboek:

Pulvermacher: “Dopper Joris en zijn zijltje”
NP van Wyk Louw: “Beeld van ’n jeug: Duif en perd”
Totius: “Weer in die ark”
C. Louis Leipoldt: “Die man met die helm”
DJ Opperman: “Kroniek van Kristien” (Papajabos), “Glaukus klim uit die water”
GA Watermeyer: “Ballade van die bloeddorstige jagter”
Breyten Breytenbach: “maanduif”, “windroos”, “soos van vlerke”, “voetnoot tot bloedkluit”
Marié Blomerus: “Die soet duifie”
Ina Rousseau: “Potchefstroom”
George Louw: “Marat”
Leon Strydom: “Brief / Beste oom Giel /”
Daniel Hugo: “Vir die kritici”, “Die jaar nul”
Johann de Lange: “Inval”
Theunis Engelbrecht: “Hier”
Johann Lodewyk Marais: “Drie-agtdaereën”
Jan de Bruyn: “Uit: Die som van een”
Louis Esterhuizen: “Vlugskrif”
HJ Pieterse: “Columba aspexit”
Heilna du Plooy: “Vyfde skets”
Cas Vos: “Allerliefste”
Toast Coetzer: “Plaasroman II”
Carina Stander: “Erflating II”, “Die kind is dood, maar sy haal asem”

Oelofse se resensie is ’n verspeelde kans. Ek is baie nuuskierig om te sien hoe sy die groter veld sal nader. Hopelik kan Gisela Ullyatt en Klyntji se lesers daarna uitsien? Dit wat sy reeds oor Die waarheid oor duiwe sê is informatief, en dit sal interessant wees om te sien hoe sy dit in verband bring met meer digters as net Breyten Breytenbach. Hoe sê sy? “Natuurlik is die duif geen vreemdeling in die Afrikaanse poësie nie.” Nou toe, ons wag!

by crito

Geduld

Julie 29, 2020 in Uncategorized

Bientang, deur Jolyn Phillips. Resensie: Hein Viljoen. (Rapport Boeke)
Dis nou die soort resensie wat my dadelik nuuskierig maak, ’n nota daarvan laat maak en dan begin ek vir die boek soek. Die resensie is selfs effens duister, en mens weet jy moet die gedig byderhand hê, want jy vermoed dat hierdie ’n publikasie is wat nog baie reaksie gaan uitlok, en dat die gedig ’n baie lang lewe gaan hê. Dan sê Amazon vir jou die boek kom eers 3 Augustus. Nou ja, kom ons wag.

Tweegevreet, deur Zirk van den Berg. Resensie: Francois Bekker. (Boeke24)
Een van die groot raaisels rondom onlangse literêre pryse is hoe dit gebeur het dat Zirk van den Berg se Die vertes in nie oorvloedig bekroon is nie. Dis vir my nuus dat hy dit nou met ’n tweede roman oor Siegfried Bock opgevolg het, en daarom het ek Francois Bekker se resensie met opgehoue asem gelees. Dit beloof goeie dinge, hoewel ek die gevoel kry dat Bekker by Van den Berg aangesteek het wat die gedempte toon betref. “Meester-storieverteller” en die toegeswaaide lof in feitlik elke paragraaf sê darem meer as wat die sagte toon suggereer.

My naam is Legio, deur Madelein Rust. Resensie: Jonathan Amid. (Rapport Boeke)
Lyk my Jonathan Amid is besig met ’n comeback ná ’n tydjie van relatiewe stilte. En ek het ’n vermoede dat Madelein Rust hierdie resensie gelees het, miskien gelukkig was oor die lof wat hy haar toeswaai, en krapperig was oor die leemtes wat hy uitgewys het. En toe, ’n dag later, lees sy die vernietigende resensie wat Amid geskryf het oor Max Annas se The Farm, en sy besef dat sy baie gelukkig kan voel oor die kritiese benadering wat hy gevolg het, en die implisiete boodskap in sy slot: “Moes Rust dalk langer aan die laaste derde geskaaf het? Of is my naam dalk net Puntenerig?” Welgedaan, maar kon nog beter.

by crito

Grendelgedagtes

Julie 8, 2020 in Uncategorized

’n Vinnige mea culpa. Covid-19 mors met die oemf van die lewe. Crito se aandag is afleibaar, en die kritiese oog vir resensies lees het soetskeel getrek. Afsondering op ’n kleinhoewe ver van boekwinkels (indien oop, bygesê) help ook net niks. Intussen, aan my vriende, as julle wil kom kuier, moenie eens die hek by die grootpad oopmaak as julle nie maskers aanhet nie. Dis soos dit is.

Erfgeld is swerfgeld: Reis na binne, die -ste -ste plek, deur C. Johan Bakkes. Resensie: Sophia van Taak. (Rapport-Boeke)
Dis nie neerhalend om te sê Sophia van Taak bekyk Bakkes se boek met Weg!-oë nie. Haar resensie is so heerlik vry van die gebruiklike literêre gesnuffel wat mens by meeste boekresensies raakloop. ’n Plesier om te lees, ’n boodskap wat tref. Al wat oorbly, is om hardop te wonder watter joernalis gaan die nuuswenk in die inleidende sin opvolg: “Aan sy praat kom ’n mens agter hierdie boek is waarskynlik Johan Bakkes se laaste”. Wat is die storie?

As die Cape Flats kon praat: Green Eyes en ander stories, deur Brian Fredericks. Resensie: Frederick J. Botha. (Rapport-Boeke)
Skielik, so tussen die formele aanloop en die uiteindelike groen lig, is daar iets wat mens sommer baie stip laat lees. ’n Kortverhaal van meer as sewentig bladsye. Dit kan mos geen gewone skrywer wees hierdie nie. Dis iemand wat hom nie steur aan konvensies nie. En sodra jy weet waaroor daardie lang kortverhaal gaan, weet jy ook dat dit ’n skrywer is wat op soek is na die mense wat weggesteek is in die harde feite van koerantberigte. Dis ’n nuuskierige skrywer. Daarna lys die resensent die ander verhale, som hul tematiek op, maar die oorwinning is reeds behaal. Ek het dit reeds bestel.

Sondesemoer! deur Wilhelm Jordaan. Resensie: Joan Hambidge. (Boeke24)
Die grendeltyd doen Joan Hambidge goed, dis duidelik. Weg is die paragrawe wat los van mekaar staan, weg die aforistiese aanpak. Sy het ’n baie lekker skryfstyl, en pak haar bespreking vol met die soort inligting wat net iemand met baie leeservaring en ’n gesonde geheue sal hê. Die argument vloei moeiteloos en die lof sink in. Al wat my laat vassteek het, is haar opmerking dat sy ook verantwoordelik is vir die aanbeveling op die skutblad. Wat beteken sy het die boek voor publikasie te lese gekry, gewilliglik haar naam en gesag gekoppel aan ’n aanbeveling – en nou skryf sy ook ’n gloeiende resensie daaroor. ’n Bietjie té té, sou ek sê.