Jy blaai in die argief vir 2020 Maart.

by crito

Twee kante

Maart 18, 2020 in Uncategorized

Alleen onder die maan, deur Willem Krog. Resensie: Fanie Olivier (Rapport Boeke)
Alleen onder die maan, deur Willem Krog. Resensie: Schalk Schoombie (Boeke24)

Twee uiteenlopende besprekings. Olivier contra, Schoombie pro. Schalk Schoombie is gaande oor dít wat die boek oordra, Olivier vind fout met die manier waarop dit gedoen word. Albei sienings weeg swaar, as mens na hul argumentasie kyk; in die lange duur sal Olivier s’n die sterkste tel omdat dit wesentlike kritiek lewer op die gehalte van die skryfwerk.

Geen engel nie, deur André Krüger. Resensie: Jonathan Amid. (Rapport Boeke)
Ek geniet die opwinding waarmee Jonathan Amid op boeke reageer. Dis net dat hy soms ’n klein mistykie begaan wat mens laat vermoed dat hy nie goed herlees het nie. Hierdie keer is dit die verwysing na “Springsteen se Tom Joad”. En al wentel hy dit onmiddellik verder na die pop-sfeer (via pinball), gaan die aandag terug na Springsteen/Tom Joad. Joad is die hoofkaraker in John Steinbeck se The Grapes of Wrath. Amid behoort te weet dat sowel Springsteen se liedjie oor Tom Joad volledig teen die Steinbeck-roman gekaats is.

Het jy geweet ek kan toor, deur Jeanne Goosen. Resensie: Joan Hambidge. (Boeke24)
’n Verspeelde kans. Ek het al voorheen verwys na Hambidge se werkwyse as resensent – die manier waarop sy ’n reeks aantekeninge saamvoeg, en dit dikwels die indruk van aforismes wek. Wel, hierdie keer slaag dit nie. Sy herhaal indrukke (soos oor die gedig as argief), maar brei nie daarop uit nie. Ander dele van die resensie lyk soos los indrukke wat geïllustreer is met aanhalings uit Goosen se gedigte. Binne hierdie konteks val haar paragraaf oor onvoltooide, nagelate verse, en die verwysing na Truman Capote se Answered Prayers: The Unfinished Novel mens dadelik op as ’n hinderlike vertoon van erudisie. Van ’n diepgaande analise van Jeanne Goosen se digkuns is daar nie sprake nie.

by crito

Skitterend

Maart 5, 2020 in Uncategorized

Oolog, deur Nathan Trantraal. Resensie: Charl-Pierre Naudé (Rapport Boeke)
Kan ’n mens lekker lees aan ’n resensie van ’n bundel poësie? Kan ’n resensent met een slag ’n bestekopname doen van ’n oeuvre wat tans drie sterk staan? Kan ’n resensent ’n breë perspektief gee oor ’n bundel se tematiek én nie betrokke raak by die debat nie? Kan ’n resensent stilweg vir ’n digter aandui watter slaggate op sy pad lê sonder om soos ’n gryse wyse te klink? Kan ’n resensent met een klein opmerking aansluit, heel geregverdig, by ’n gans ander literêre debat, maar steeds ’n sterk stelling maak oor die poësie voor hom? Die antwoord op al dié vrae is ja. Híér is nou ’n skitterende resensie.

Skag, deur Jaco Wolmarans. Resensie: Fanie Olivier (Rapport Boeke)
Skag, deur Jaco Wolmarans. Resensie: Francois Bekker (Boeke24)

Een boek, twee benaderings. In Fanie Olivier s’n galm die akademie nog, by Francois Bekker is daar ’n persoonliker aanslag, ’n bereidwilligheid om die leser in te trek. “Op ’n naaldpunt,” begin Bekker. “Jaco Wolmarans se debuutroman, Bos, het vroeg verlede jaar heelwat aandag getrek en goeie resensies ontvang,” val Olivier weg. Albei ag Wolmarans se navorsing hoog, albei is beïndruk met die plot. Maar Olivier kyk verder, miskien omdat hy ouer is en in die jare tagtig, waarteen hierdie roman afspeel, in die midde van die politieke gewoel gestaan het. Die dinge wat hy krities bekyk en te lig vind, wentel om geloofwaardige karakters en die diepte van hul diskoers. Bekker skyn hierdie dinge nie steurend te vind nie, en slaan die roman hoog aan as spanningsroman. Olivier dink duidelik dat Wolmarans nog aan die ontwikkel is, en dat sy tweede boek beter is as sy eerste. Uit hierdie twee resensies kry mens dan een boodskap: Wolmarans kán goeie spanningsromans skryf, en jy is bewus daarvan dat hy nog verder as romanskrywer sal moet ontwikkel. Vir die gewone koerantleser sal Bekker se bespreking klokkies lui, terwyl Jaco Wolmarans self Olivier s’n waardevoller sal vind.

Oopmond, deur Jan Vermeulen. Resensie: Anke Theron (LitNet)
Pragtige nuwe konsep wat Theron geskep het: “beurtkragboeke”.