by

Nuwelinge

Februarie 13, 2020 in Uncategorized

Die mooie Jan en ander Afrikaanse kortverhale, saamgestel deur Anine Vorster en Anita Stander. Resensie: Rachelle Greeff. (Rapport Boeke)
Hiert! Hoe het dít gebeur? Skielik, uit die bloute, kom Rachelle Greeff en werp een van die belangrikste resensies vir ons tye hier voor ons oë neer. Dis een vir beginners – skrywers én uitgewers. Dis ’n resensie vir almal wat al die impuls gekry het om sy werk self uit te gee. Dis een wat aandui presies hoekom daar professionele uitgewers is, en hoekom daardie uitgewers kundiges gebruik om te sorg dat alles wat gepubliseer word, tot in lengte van dae deur kritiese lesers opgeneem en gelees kan word, sonder dat die skrywer die kop in skaamte moet laat sak en wens dat iemand hom of haar beskerm het teen sy/haar eie behoeftigheid en onbedrewenheid. Maar terwyl ek met die koerant en ’n koppie sterk koffie sit en lees, wonder ek toe of Rapport gedink het dis wat Sondaglesers nodig het om te weet? Wel, mens kan jou indink dat hulle ook die nuwe publikasiedebutante ’n kans wou gee, die geleentheid wou skep dat hulle aan ’n groter publiek bekend gestel sal word. Hulle het dus nie fouteer nie. As mens Rachelle Greeff se resensie deeglik analiseer, dan word die vinger hier gewys na die uitgewer (Kwarts-Uitgewers, vanwaar Gehasie?) en daarmee saam gee sy ook die beste raad wat enige aspirantskrywer kan kry: Wend jou altyd tot uitgewers wat baie krities is voordat hulle enigiets vir publikasie aanvaar. Nie omdat sulke uitgewers wysneusig is nie, maar omdat hulle hordes redakteurs en teksversorgers het wat jou sal help om juwele van jou woorde te maak.

Innie Shadows, deur Olivia M. Coetzee. Resensie: Ronelle Simmons (Boeke24)
Terwyl ons op die onderwerp is: Hierdie boek is uitgegee deur ’n onbekende nuwe uitgewery. Ronelle Simmons se resensie is minder krities as Nathan Trantaal s’n, maar sy reageer wel met meer geesdrif en onderskraging as hy. Maar wat my opgeval het, veral wanneer sy uit Coetzee se roman aanhaal, is dat sy geen besware inbring oor die Kaaps nie. Trantaal het ook nie. Dit is duidelik dat albei die boek gelees het en gevoel het dat daar ’n onderliggende konsekwentheid in die taalgebruik is. Die Kaaps het nie tussen hulle en die begryp kom staan nie. So iets kan net gebeur wanneer ’n redigeerder en teksversorger deeglike werk gedoen het. Dit is dan ook die implikasie van Simmons se resensie, wat in gewone Afrikaans aandui hoekom die boek haar aangegryp het, en daardeur lesers vir die boek probeer wen wat nie in die daaglikse gang van sake hoegenaamd met Kaaps te make het nie. En daarom is Simmons se resensie vir my nuttiger as Trantaal s’n.

5 antwoorde op Nuwelinge

  1. Trantraal … nie Trantaal nie.

  2. Ek is mal oor Greeff se skryfwerk (sy is ‘n meester), maar vir Crito om te sê dat die Greeff-resensie “een van die belangrikste resensies vir ons tye” is, is belaglik. Dis nie ‘n goeie resensie nie: wat Greeff sê kon – en moes – in drie of vier sinne gesê gewees het. Die geskiedenis van tydskrifverhaleredakteurs wat in die middel van die resensie verskyn toon waarom die boekeredakteur ‘n woordbeperking van 250 moes gestel het. Daar is geen rede waarom ‘n bundel van beginnerverhale so uitvoerig geresenseer moes gewees het nie. In die woeste Afrikaanse resensieheelal van vandag, waar ego’s blom, moet Crito ‘n meer kritiese ingesteldheid aan die dag lê.

    • crito het gesê op Februarie 19, 2020

      Die resensie is belangrik omdat dit ‘n kritiese evaluering van die uitgewerspraktyk rondom sulke bloemlesings is.

  3. Elmari het gesê op Februarie 27, 2020

    Crito, Modjaji wat Olivia M Coetzee se Innie Shadows uitgee, is al etlike jare aan die gang, dus nie nuut of onbekend nie. Die teikenbesigheid is wel Engels (ook ‘n Engelse eenvrouonderneming) en gemik op sterk vrouestemme, maar hier en daar het sy al Afrikaans uitgegee – en uistekend “gespot” in die proses. Jolyn Phillips is byvoorbeeld deur haar “ontdek” en Tjieng-tjang tjerries het ek dink 2016/2017 al by hulle verskyn. Colleen Higgs was ook die uitgewer van Tess (waarop die fliek gegrond is) en Hester van der Walt se boek oor gay wees in die 60’s, Sê my, is julle susters?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.