Jy blaai in die argief vir 2020 Februarie.

by crito

Soekend

Februarie 25, 2020 in Uncategorized

Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe, deur Johannes de Villiers. Resensie: Sophia van Taak. (Rapport Boeke)
Die lewe is moeiliker as wat dit is om A Course in Miracles te verstaan. Daarom dat mens iemand nodig het om jou ’n bietjie touwys te maak. Dit smaak my dít is wat Sophia van Taak ondervind het met hierdie boek. Johannes de Villiers is, verneem ek, ’n besielende mens. Van Taak vind dit ook só, en hierdie resensie is eintlik ’n Kort Begrip vir sy kategismes. Hier aan die stertkant van Februarie het al genoeg goor dinge gebeur om dit vir my ’n tydige boek te maak.

Die waarheid oor duiwe, deur Gisela Ullyatt. Resensie: Daniel Hugo. (Rapport Boeke)
Die poësie is nie my groot liefde nie, en ek soek gewoonlik in resensies na aanhalings wat my verby die kritiek sal neem na die digter se taalvernuf. Daarom het ek van hierdie resensie gehou, dit uitgeknip en in my bêreboek geplak. Hugo resenseer glads te min. Hy weet hoe om by die essensie van die digterskap uit te kom. Sy argumentasie betrek inhoud en die vorm waarin dit gegiet is; so in die afloop wys hy in die paragraaf oor die oupa wat sy laaste stuyvesant rook presies hoekom Hugo so hoog geag word as kolporteur vir die digkuns.

Die afloerder, deur Anel Heydenrych. Resensie: Jonathan Amid. (Rapport Boeke)
Soms moet mens ’n resensie dekodeer. Ek het hierdie een drie keer deurgelees, en is steeds nie heeltemal seker presies wat Amid se eindbesluit is nie. Ja, hy hoop die roman sal baie lesers aan die praat sit. Ook hou hy van die wyse waarop Anel Heydenrych die konsep van afloerder nie net met die booswig in verband bring nie, maar ook met die leser. Maar hy haal nie die ramshorings uit om ’n loflied uit te basuin nie. Tussendeur speek hy sterk kritiek uit, vind hy fout. En weer, sy aanpak is uit die staanspoor baie positief jeens die skrywer. Tussen louwarm en warm?

Oorlog, deur Nathan Trantraal. Resensie: Louise Viljoen. (Boeke24)
Louise Viljoen skryf resensies op ’n baie spesifieke manier. Wanneer sy met ’n bundel klaar is, is daar min oor waaroor mens verder sou kon uitwei. Ek wens net dat sy – soos Daniel Hugo – meer uitvoerig uit die bundel sal aanhaal. Laat ek dadelik byvoeg, hierdie tekort doen nie afbreuk aan haar resensie nie. Dis net my versugting. Haar bespreking van Oorlog is respekvol en nuuskierig oor die digter; haar lees van die gedigte bring vir ons insig oor sy plek in ons tyd – en in my geval genoeg motivering om die bundel te wil aanskaf. Ek het gewonder of daar dalk by die boekeredakteur oorweging geskenk is aan die moontlikheid om iemand die bundel in Kaaps te laat resenseer. Uiteindelik het ek besef dat Louise Viljoen daardie idee op die beste moontlike manier self beantwoord het.

by crito

Toksiese manlikheid

Februarie 19, 2020 in Uncategorized

By die brandende berg, deur Piet van Rooyen. Resensent: Jonathan Amid (Rapport Boeke)
Negatiewe resensies is ’n eienaardige verskynsel. Soms voel mens die resensent maak nie voorsiening vir smaakverskille nie. Dikwels sien ’n mens die onderrok uithang. Maar dan kry mens die negatiewe resensies wat jy nie kan tsk-tsk nie. Jonathan Amid herken die dinge waarvoor mens lief geraak het in Van Rooyen se romans, naamlik die liefde waarmee hy die ongetemde natuur van Namibië (en in hierdie geval ook die Kongo) beskryf. En dan looi hy Van Rooyen vir die “toksiese manlikheid” wat alles beduiwel. Sekerlik is daar in baie gemeentes geen probleme met toksiese manlikheid nie. Maar in ’n land en tyd waarin geweld teenoor vrouens een van die grootste issues is, lyk dit of Van Rooyen hom in ’n moeilike hoek in geskryf het. Hierdie is ’n besonder goeie negatiewe resensie. Amid weet dat daar ’n vloed van teenkritiek kan kom. Daarom is sy argumentasie so reguit en sonder skuiwergate. Die verwysings na Heart of Darkness en Horrelpoot is die laaste spyker, en daarna kom die skouerophaling.

Die SAW en Cuito Cuanavale: ’n Taktiese strategiese analise, deur Leopold Scholtz. (Rapport Boeke)
Interessant dat ’n Afrikaanse historikus wat deesdae in die Lae Lande woon, die een sal wees wat Cuito Cuanavale uiteindelik netjies afhandel. Abel Esterhuyse dink dit is ’n goeie boek en laat dit dan so wees. In my vriendekring is daar twee mans wat by Cuito Cuanavale betrokke was en vandag nog bitter is daaroor. Om uiteenlopende redes. Hulle praat nie meer daaroor nie. Esterhuyse se resensie belig die goeie hoedanighede van Scholtz se werk en navorsing; ek is bevrees ’n mens moet regtig in die onderwerp belangstel om sy resensie op te volg. Dit is 2020, en die waarheid is steeds so ontwykend as wat dit in 1987 en 1988 was.

by crito

Nuwelinge

Februarie 13, 2020 in Uncategorized

Die mooie Jan en ander Afrikaanse kortverhale, saamgestel deur Anine Vorster en Anita Stander. Resensie: Rachelle Greeff. (Rapport Boeke)
Hiert! Hoe het dít gebeur? Skielik, uit die bloute, kom Rachelle Greeff en werp een van die belangrikste resensies vir ons tye hier voor ons oë neer. Dis een vir beginners – skrywers én uitgewers. Dis ’n resensie vir almal wat al die impuls gekry het om sy werk self uit te gee. Dis een wat aandui presies hoekom daar professionele uitgewers is, en hoekom daardie uitgewers kundiges gebruik om te sorg dat alles wat gepubliseer word, tot in lengte van dae deur kritiese lesers opgeneem en gelees kan word, sonder dat die skrywer die kop in skaamte moet laat sak en wens dat iemand hom of haar beskerm het teen sy/haar eie behoeftigheid en onbedrewenheid. Maar terwyl ek met die koerant en ’n koppie sterk koffie sit en lees, wonder ek toe of Rapport gedink het dis wat Sondaglesers nodig het om te weet? Wel, mens kan jou indink dat hulle ook die nuwe publikasiedebutante ’n kans wou gee, die geleentheid wou skep dat hulle aan ’n groter publiek bekend gestel sal word. Hulle het dus nie fouteer nie. As mens Rachelle Greeff se resensie deeglik analiseer, dan word die vinger hier gewys na die uitgewer (Kwarts-Uitgewers, vanwaar Gehasie?) en daarmee saam gee sy ook die beste raad wat enige aspirantskrywer kan kry: Wend jou altyd tot uitgewers wat baie krities is voordat hulle enigiets vir publikasie aanvaar. Nie omdat sulke uitgewers wysneusig is nie, maar omdat hulle hordes redakteurs en teksversorgers het wat jou sal help om juwele van jou woorde te maak.

Innie Shadows, deur Olivia M. Coetzee. Resensie: Ronelle Simmons (Boeke24)
Terwyl ons op die onderwerp is: Hierdie boek is uitgegee deur ’n onbekende nuwe uitgewery. Ronelle Simmons se resensie is minder krities as Nathan Trantaal s’n, maar sy reageer wel met meer geesdrif en onderskraging as hy. Maar wat my opgeval het, veral wanneer sy uit Coetzee se roman aanhaal, is dat sy geen besware inbring oor die Kaaps nie. Trantaal het ook nie. Dit is duidelik dat albei die boek gelees het en gevoel het dat daar ’n onderliggende konsekwentheid in die taalgebruik is. Die Kaaps het nie tussen hulle en die begryp kom staan nie. So iets kan net gebeur wanneer ’n redigeerder en teksversorger deeglike werk gedoen het. Dit is dan ook die implikasie van Simmons se resensie, wat in gewone Afrikaans aandui hoekom die boek haar aangegryp het, en daardeur lesers vir die boek probeer wen wat nie in die daaglikse gang van sake hoegenaamd met Kaaps te make het nie. En daarom is Simmons se resensie vir my nuttiger as Trantaal s’n.

by crito

Om weg te skram

Februarie 6, 2020 in Uncategorized

Ek smag so om ook my eiertjies te lê, maar daar het nog weinig vanjaar gebeur om oor te kraai, nè? Net Charl-Pierre Naudé se gedugte manifes van 3 Februarie op Netwerk24. Heerlik! Weet net nie hoekom hy so skiet in die vlaktes van wasigheid in nie. Wie is die sondaars, wie die swyne? En Deborah Steinmair se tref-en-trap gedoente oor Buys! Asem skep, Sannie, hierdie pastoor gaan ons verdrink!

Maar omgordel die lendene, laat die kroniek weer hervat:

Innie Shadows, deur Olivia M. Coetzee. Resensent: Nathan Trantaal. (Rappoort Boeke)
Lekker woelig, die mense by Rapport. As ’n boek in Kaaps is, word dit in Kaaps geresenseer. Maar as mens eers in die swing of things is, is dit maklik. En sien jy raak dat Nathan Trantaal kortpaaie vat en nie altyd by die regte bestemming uitkom nie. Geneig om die storie oor te vertel, gedresseer as aweregse kritiek. Maar dit is meestal, om sy parlance te gebruik, sweeping statements, soos die een oor lykskouings. Vanwaar? Daar is nie noodwendig na elke moord en selfdood ’n lykskouing nie. Nie in Suid-Afrika nie. En om lekker wild tande te wys en te sê die boek se redakteur was swak en die skrywer moes nog een hoofstuk bygeskryf het, is om weg te skram van die taak van die resensent: Om te sê presies wat verkeerd is met ’n boek, as jy iets verkeerds vind. Wat ontbreek in die roman dat dit nog ’n ekstra hoofstuk nodig het? Alles in ag genome ’n bedrieglik oppervlakkige resensie.