Jy blaai in die argief vir 2019 Desember.

by crito

Lawement

Desember 11, 2019 in Uncategorized

Rebel: Die lewe van kommandant Hans Lötter, 1873-1901, deur Chris Schoeman. Resensent: Bill Nasson (Rapport Boeke)
Terwyl die land se moermeter in die rooi in neig met Eskom se mannewales, kom oom Bill en maak dinge nog moeiliker. Of is dit Rapport se subredakteurs wat mens so op ’n dwaalspoor sit met ’n opskrif wat mens half afskrik om verder te lees? Maar gelees het ek gelees, en moet sê dit was ’n lawement. Prof Nasson sê mooi dinge van Chris Schoeman se boek (dit is welkom, dit is besonder leesbaar) maar hy sê dan omtrent alles wat in die boek staan ook. En uiteindelik begin mens ’n subteks bespeur, wat Rapport se subredakteurs dan tereg gekoppel het aan die opskrif vir die resensie: Oom Bill dink die stroom boeke oor mindere figure in die Anglo-Boereoorlog raak nou baie vervelig. Ek wonder of Hans Lötter familie was van Ankia Lötter, wat in die jare toet ’n beauty queen was op Tuks?

by crito

Die knal-opsomming

Desember 4, 2019 in Uncategorized

Die biblioteekk aan die einde van die wêreld, deur Etienne van Heerden. Resensie: Johann Rossouw. (Boek24)

Die biblioteek aan die einde van die wêreld, deur Etienne van Heerden. Resensie: Deborah Steinmair (Vrye Weekblad)

Johann Rossouw maak een verstommende erkenning, naamlik dat Etienne van Heerden se vorige vier romans vir hom moeilik verteerbaar was. Nie ‘n goeie woordkeuse nie. Ek is ook nie heeltemal oortuig deur sy stelling oor die postmodernisme nie. Suid-Afrikaanse skrywers het dit anders benader. Die outeur duik voortdurend in hul tekste op. Maar hy sê ook dat hierdie nuweling met sy Borgesiaanse titel die roman van Van Heerden se lewe is. Ek sal hom die mistasting oor Biblioteek se vier voorgangers vergewe. Oor smaak val daar nie te redeneer nie. Hy is ‘n filosoof en sy benadering is anders as dié waaraan ons in die muwwe wêreld der lettere gewoond is. Daardie knal-samevatting gaan nog baie aangehaal word. Dit verwyder enige twyfel wat ‘n resensieleser dalk oor die aankoop en lees van die boek gehad het. Ek vermoed hy sal nog in die blogosfeer daaroor aangespreek word. 

Mens kry twee soorte resensente: Dié wat aansluit by die uitgewer se reklamemateriaal, en dié wat reageer op die boek self. Deborah Steinmair se resensie is ‘n sublieme voorbeeld van laasgenoemde. Die roman het talle gewaarwordinge by haar wakkergemaak, en sy maak al resenserend sin daaruit. Sy probeer nie soos Rossouw die boek inpas by ‘n raamwerk van eie opvattings nie, maar reageer reguit en skerp, uit die hart uit, vanuit die krop van haar maag. Sy maak die wydse visie van die roman sigbaar, voel mens met die lees, sonder om die mikrodetail te vergeet. Maar nes Rossouw stuur sy af op ‘n oordeel wat nog lank sal resoneer: “‘n kragtoer. Niks minder nie.”