Jy blaai in die argief vir 2019 November.

by crito

Die luste

November 21, 2019 in Uncategorized

Klaskamer, deur Vita du Preez. Resensent: Annelise Erasmus. (Rapport Boeke)
Klaskamer, deur Vita du Preez. Resensent: Carla Lewis (Boeke24)

Annelise Erasmus is sekerlik een van die min mense ter plaatse wat met gesag oor BDSM kan skryf. Haar roman Slavin is in die wêreld van Afrikaanse lettere dié verwysingspunt oor BDSM. Rapport Boeke se besluit om haar te kry om Klaskamer te resenseer, was besield. Erasmus se resensie tel sekerlik onder die heel bestes wat nog vanjaar oor ’n Afrikaanse boek geskryf is. Haar inleidingsparagraaf is ’n skitterende skadeloosstelling. Haar uiteensetting van die boek onder bespreking is op die punt af, en haar uitvoerige kritiek getuig van ’n breë teoretiese en praktiese agtergrond. Ek het al dikwels genoem dat dit uiters moeilik is om ’n goeie negatiewe resensie te skryf; Annelise Erasmus wys hoe dit gedoen kan word. Ek kry Vita du Preez jammer vir die geweldige afranseling, maar dit is ook so dat sy haar onderwerp gekies het en verantwoordelikheid moet neem vir die gesag waarmee sy daaroor skryf; Erasmus se kritiek laat mens op verskeie punte besef hoeveel wanopvattings in ’n eenvoudige stuk fiksie ingetroffel kan word. Ek hoop dat sy meer dikwels as resensent ingespan sal word – nie net oor werke met ’n seksuele tema nie. Hierdie resensie maak my nuuskierig om te sien hoe ’n hoogs belese en ervare kritikus soos sy ander literêre werke sal takseer.
Carla Lewis se resensie is veel meer kompak as Erasmus s’n, en sy benader dit gewoon uit die hoek van ’n weetgierige leser. Sy verklap dié gierigheid in haar slotopmerking oor Erika Lust, en daarom dra haar taksering van Klaskamer as ’n roman wat haar koud gelaat het vir my genoeg gesag om die negatiewe oordeel te regverdig.

Grensgeval, deur Marita van der Vyver. Resensie: Francois Bekker. (Boeke24)
Ek het hierdie roman tussen die nasien van vraestelle deur begin lees, en Francois Bekker se resensie het verskyn presies op die regte tyd vir my. Hy oortuig my dat volle aandag daarvoor nodig is, veral deur sy uiteensetting teen die einde van die debat oor die roman en sy hooftema. Ek gaan dit eers opsy skuif om in die feestyd ten volle daarop te kan fokus. Vir diegene wat nog nie begin lees het nie, slaag die resensie vir my in sy doel: Dit voer mens met inligting wat jou na die roman toe du. Soos die skrywer sekerlik sal wil hê dit moet.

by crito

Vlymskerp

November 14, 2019 in Uncategorized

Kammaland, deur Annelie Botes. Resensie: Juliana Coetzer. (Rapport Boeke)
’n Stil bek is ’n heel bek. Voordat die Slangevanger van Grabouw my weer kapittel, laat ek my waardering vir hierdie resensie uitspreek. Juliana Coetzer is ’n psigoterapeut, en dis hoekom ek die gevoel het sy dat eintlik ’n vraagteken by haar laaste sin wou geplaas het.

Nadraai, deur Jaco Kirsten. Resensent: Jean Meiring. (Rapport Boeke)
Nadraai, deur Jaco Kirsten. Resensent: Charles Smith (Boeke24)
Ek het het gewonder hoekom Jean Meiring so stil geword het. Maar hier is hy, en ek’s bly. Op die gevaar af dat ek soos Jaco Kirsten sal klink: Hierdie is ’n vlymskerp resensie. Meiring se plasing van Kirsten as skrywer, die hele aanloop van die resensie, en die skarnierpunt waar hy sy kritiese reaksie begin uitlê is gefokus, en wanneer hy dan die swakhede uitlê, kan daar min twyfel wees oor die basis en geldigheid van sy negatiewe reaksie. Dít is hoe resensies geskryf moet word.
Charles Smith is meer gewillig om Kirsten die voordeel van die twyfel te gee, veral oor die dialoog wat hy gebruik, maar hy kan ook nie wegskram van die feit dat die roman “ietwat van ’n teleurstelling” is nie.

Kyk na my: herinneringe aan ’n kindertyd, deur Nataniël. Resensent: Johanna van Eeden (Boeke24)
Dit help nie om Nathaniël te probeer nadoen wanneer jy oor hom skryf nie. Daarom skryf Johanna van Eeden haar resensie op ’n veilige afstand, en, wanneer dit nodig is, haal sy hom aan om die grein van sy boek te probeer vasvang. Hierdie benadering werk uitstekend, veral omdat die een aanhaling wat sy gebruik so skitterend is: “Oor sy eerste skooldag (bl. 33) skryf hy: ‘Ek hap my broodjie, ek hou van eet, maar hier proe ek niks.’ Wanneer hy later die dag met ’n ‘ster op my voorkop en ’n prent in die hand’ by die huis kom, sê sy ma die prentjie is mooi, maar sy weet nie wat dit is nie. ‘Dis ’n skip, sê ek. Ek sien net blou, sê my ma. Hy het gesink, sê ek.’”

by crito

En tog

November 6, 2019 in Uncategorized

Rebel: Die lewe van kommandant Hans Lötter, 1873-1901, deur Chris Schoeman. Resensie: Fransjohan Pretorius. (Boeke24)
Ek wonder hoe ’n mens Fransjohan Pretorius is. Daar is só ’n kalmte in sy resensie. Hy gee besadig en eerlik ’n mening oor hierdie boek. Eerlik? Hoe meet mens dít? Wel, hy skets die boekemark waarin die boek gelanseer word, en hy som die inhoud op. Hy loof die skrywer vir sy vlyt. Dan kom twee woorde waarna hy die kritiek in ewe besadigde toon laat reën: “En tog.” Ek dink Chris Schoeman het agterna gelouter gevoel. Volgende keer wanneer die jongeliede van die kykNet-resensiepryse bestek opneem, moet julle ’n regstelling maak. Die man raak nie jonger nie.

Oorlog en Vrede: Die morele verbeelding van die mens, deur Willie Esterhuyse. Resensie: Martie Retief Meiring. (Rapport Boeke)
Gewoonlik gryp ek my sneesdoekies en hardloop wanneer ’n resensent baie vraagtekens gebruik, en die resensie wemel van verwysings na vrae wat gevra word. Maar nie met Martie Retief Meiring nie. Sy weet resensielesers pluk moer wanneer hulle moet verneem hoe diep ’n boek hulle sal laat nadink en hoeveel hulle gaan leer tydens die leesproses. Ek vermoed sy het die omslag van die boek een kyk gegee en besef hier is ’n reddingsdaad nodig. Sy pak Esterhuyse se hoofpunte en argumente netjies uit, en kom dan by die tyd en plek wat die hedendaagse leser die meeste sal interesseer, hierdie slow release revolusie waarin ons ons bevind. Ek’s mal oor haar slotsin: Oorlog en vrede bied geen gerusstelling nie. Ook nie in Grabouw nie.