by

Onwillig

Augustus 21, 2019 in Uncategorized

P.G. du Plessis: Hy was ’n rukkie pagter hier – ’n huldiging, saamgestel deur Heilna du Plooy. Resensie: Francois Smith (Rapport Boeke)
Smith is nie iemand wat doekies omdraai nie. Hoeveel respek hy ook vir P.G. du Plessis het, en hoeveel agting hy het vir die uitstekende huldingingsbundel wat Heilna du Plooy tot stand gebring het, kan hy nie swyg oor die groot ironie wat die bundel omgeef nie. Du Plessis word gehuldig deur die mense wat hy verpes het, literatore. Smith noem nie of daar ook ’n bydrae is deur Deon Opperman, wat Du Plessis buite die literêre sfeer meegemaak het, en ‘n deel van sy lewe kan belig wat min mense geken het. Ek hou van die besadigde trant van die bespreking, en die manier waarop hy die koerantleser laat verstaan dat dit ’n bundel is wat ook gewone lesers se aandag met wetenswaardighede sal beloon, al sou die onderwerp self nie vrede hê met die hele projek nie.

In my vel, deur Azille Coetzee. Resensie: Lindie Koorts (Litnet)
Ek is versot op resensies wat geskryf is nie om ’n opdrag uit te voer nie, maar om die intense reaksie van die resensent op skrif te stel. So iets kan makliker aangepak word in die kuberruim as op koerantpapier – ruimte is geen belemmering nie. Coetzee se ondervindings, soos in haar boek beskryf, word vir Koorts ’n sneller vir die besinning oor haar eie ondervindings. Sy bespreek en beskryf albei, en in haar sintese vind sy dan dat In my vel ’n grondverskuiwende boek is: “Dit bevat die gesprekke wat ons behoort te hê – nie net in kammakastige “woke” kringe nie, maar in ons hoofstroom. Dit open die weg vir ons om ons verlede in die oë te kyk, en dit dui vir ons ’n rigting aan vir die toekoms.” In die kern van die boek identifiseer Coetzee ’n vraagstuk: “Hoe kan ons op ’n aanvaarbare manier Afrikaans wees vandag?” Vir Koorts het Coetzee se antwoord daarop duidelik ’n enorme indruk gemaak; Koorts se bewoording daarvan, in sy volle uitvoerigheid, is ’n baie lofwaardige poging om ’n totaal eerlike resensie te gee.

Koshuis, saamgestel deur Erns Grundling; Hostel, saamgestel deur Hein Willemse. Resensie: Hans Pienaar. (LitNet)
“Dit is natuurlik onhaalbaar en selfs onregverdig om Hostel en Koshuis te nougeset te wil vergelyk.” Tog kry Hans Pienaar dit reg om ’n heel onderhoudende ressensie-essay oor die twee boeke te skep; dit is op ’n veel meer uitdagende intellektuele vlak as wat ’n koerantresensie sou kon dra (gegee die ruimtebeperkings), en Pienaar se argumentering is sterk. Ek sou graag wou sien dat hy sterker fokus geplaas het op ’n gewaarwording wat hy taamlik diep in sy skrywe kry: “Kyk ’n mens na Koshuis, kan ’n mens nie anders as om te wonder of die bydraers, op drie uitsonderings na almal wit, om hierdie rede nie dalk ’n minderwaardige opvoeding ondergaan het nie, en of wit studente ooit in staat sal wees om ’n bydrae tot die politieke groei van die land in terme van Hegel se “Geist” te maak nie.” Is dit nie die kern van die saak vir die wit koshuisgangers van die apartheidsera nie? Pienaar skryf uiteindelik meer oor Hostel as oor Koshuis, en ek vermoed dit is omdat dit makliker skakel met sy Hegeliaanse vertrekpunt (deeglik verwoord in die essay se inleidende deel). Uiteindelik dink ek nie die twee bundels kan vergelyk word nie, omdat hulle verskillende dinge vier. En Pienaar staak sy argumentasie voordat dit interessant kan raak: Suid-Afrikaanse opvoeding van die apartheidsera het niemand voorberei vir die uitdagings van die post-apartheidsera nie. Diegene aan die mag-kant van die ou skeidslyne het wavragte emigrante, Solidariteit en Afriforum tot gevolg gehad; diegene aan die struggle-kant het ’n vernietigde ekonomie, staatskaping, korrupsie, Jacob Zuma en CR17 opgelewer. Dis nie ’n uitgemaakte saak dat die kleurskeidslyn ooit opgehef is nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.