Profile photo of crito

by

‘n Gebeurtenis

Augustus 14, 2019 in Uncategorized

Woordeboek van die Afrikaanse Taal Deel XV, onder hoofredakteurskap van Willem Botha. Resensie: Ingrid Winterbach. (Boeke24)
Net een resensie waaroor ek vandeesweek wil skryf. Goue ster teen die voorkop van die boekeredakteur, wat die blinkste van ingewings gekry het om Ingrid Winterbach dié woordeboekband se bespreking te laat doen. Dis nou Augustus, maar dit is reeds vir my die beste resensie van die jaar. Glo jy my nie? Wel, vra jouself liewer self af: Hoe resenseer mens ’n woordeboek? Hè? En dit gaan nie om ’n geklets oor ’n lemma of twee nie. Dit gaan oor die manier waarop al die kritiek van die verlede oor WAT se verlangsaming verwerk is. Waarop nuwe dinge raakgesien word, en die onderwerp van ’n taal onder beleg gesuggereer word, sonder ’n nerveuse gesokkel rondom dinge wat nie genoem is nie – die bla-bla waarmee vorige bande van die WAT begroet is. Winterbach baljaar met die nuwe woorde, stort ’n traan oor woorde wat oud geword het, en spreekwoorde wat verdwyn. Implisiet in haar bespreking is agting vir die monnikewerk van die WAT-span, en respek vir die hoë en vindingryke peil waarop hulle dit doen.Ek wil my verstout om te sê dat hierdie nie n bespreking is nie. Dis ‘n gebeurtenis.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.