by

Sonder kringfluit

Augustus 31, 2016 in Uncategorized

Wanneer ek ’n resensie lees soos Thys Human s’n van Dan Sleigh se jongste roman, 1795, en dit dring deur welke stuk geskiedenis Sleigh openbaar maak, dan wonder ek of die geslagte van die toekoms ook die voordeel gaan hê van ’n skrywer wat verby al die gelieg en bedrieg kan kyk. Ons is bevoorreg om ’n skrywer van Sleigh se portuur te hê – ’n navorser wat die vergete geskiedenis weer lewend maak.

En, moet ek byvoeg, ons het ook die voordeel van ’n resensent wat die boek behoorlik bespreek.

Thys Human het iets werklik besonders geskryf. ’n Resensie sonder akademiese kringfluit, ’n onderhoudende leeservaring wat net-net genoeg verklap van die boek wat hy bespreek, maar nooit soveel dat mens voel jy weet genoeg of teveel nie.

Jy gáán 1795 soek, en jy sal die res van die prentjie kry in die rustigheid van ’n Sleighiaanse ervaring.

As mens dink aan al die verskillende invalshoeke wat Human kon gebruik het,  is dit onmiddelik duidelik dat hy besluit het op iets wat die kern van die saak stel: Geskiedskrywing gaan oor die oorwinnaars; die teensy verdien ook aandag en hiér gaan dit gebeur.

Dié invalshoek rig hom dan op die hoofkarakter, William Ferdinand van Reede van Oudtshoorn. Via hom betrek Human ook Sleigh se ander groot hooffigure in vorige romans, en rig hom dan op die betrokke geskiedenis wat in 1795 onder die loep kom.

Omdat ek die boek self reeds gelees het, is Human se vermoë om te abstraheer vir my ’n bron van verwondering. Human oordryf nie wanneer hy sê dit is ’n roman van “ensiklopediese omvang” nie; presies wát hy alles daaruit gelig het om ’n maklik leesbare en tog hoogs informatiewe koerantresensie te maak, is merkwaardig.

Uiteraard belig hy ook die tematiese aspekte van die boek, en die relevansie van hierdie roman. Dit het my erg gekielie dat Human ook die groot Suid-Afrikaanse siekte, soos deur Sleigh geïdentifiseer, raakgesien het: “politiek is die kuns om besluite uit te stel tot dit nie langer ter sake is nie”.

Human sou die resensie sekerlik langer kon geskryf het. Daar is baie wetenswaardighede wat nie genoem is nie, veral oor die Van Oudtshoorns se bande met Brittanje. Maar hoekom lesers se pret bederf?

Uitstekend!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.