by

Hartkloppings

Augustus 24, 2016 in Uncategorized

As ek reg onthou, was dit Elmore Leonard wat oor clichés gesê het menst nooit iets moet gebruik wat jy gereeld hoor nie. Resensente is ook skrywers, en mens kan van hulle verwag om die geykte uitdrukkings te vermy – doodgewoon omdat hulle hul seggingskrag verloor het.

Cas van Rensburg is ’n bedrewe stilis, en in sy resensie van Deon Meyer se Koors (Boeke24) bedien hy hom van min clichés. Die omstandighede, uiteraard, is soms nie werklik in die resensent se guns nie.

Van Rensburg se beskrywing van die boek en verhaal voor hom is genoeg om jou te laat besef Koors is nie ’n Mad Max-kloon nie. Dit is ’n boek wat ’n substansiële sprong gemaak het in Meyer se algemene aanpak. Dit het ’n filosofiese element, deels omdat die verhaal daarna maak, maar ook omdat die skrywer self besig is om hom meer te verdiep in die menslike kondisie.

Die resensent gee aandag hieraan, en maak ook ’n paar verrassende draaie  voordat hy met groot lof vir Meyer afsluit. ’n Mens voel lus om die boek onmiddelik te koop.

Pieter Steyn se resensie van Martin Steyn se jongse misdaadroman, Swartval (Boeke24), is nie minder geesdriftig nie, maar dit laat die leser minder onder die indruk van die boek se uniekheid omdat dit sulke voorspelbare dinge sê.

Steyn vergelyk die boek met die TV-reeks Criminal Minds, en vind dit beter “omdat die woordsketse so vernuftig geskilder word dat jou brein tonele skep waarvan skeppers van televisiereekse net kan droom.”

Goed, ek aanvaar dit, want ek weet Martin Steyn is ’n bogemiddelde spanningbeskrywer. Maar daarna kom die clichés. Verkragtinstonele laat jou hart ruk. Die tonele is brutaal.

Dan kry die resensent beter koers, wanneer hy verder ingaan op die uitwerking van die verkragtingtonele, net om weer rigting  te verloor: “Swartval is ’n sielkundige spanningsroman wat jou boei, jou hart laat klop, jou woedend maak, ’n traan in die hoek van jou oë laat opdam”. Daarna word die spanningslyn “snaarstyf gespan” …

By die herlees van die resensie is ’n paar dinge duidelik: Pieter Steyn wil die boek ten sterkste aanbeveel; en die verkragtingstonele is vir hom die element wat hierdie roman opspraakwekkend en leeswaardig maak. Wens hy het sy resensie uit die staanspoor oor daardie boeg gegooi, en vergeet van die hartrukkings en asemhalingsprobleme.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.