by

So baie vrae

Augustus 10, 2016 in Uncategorized

Irna van Zyl het my simpatie. Ná Deborah Steinmair se louerige ontvangs van Van Zyl se debuutroman, Moordvis, het Boeke24 nou twee resensies daaroor die lig laat sien. By Helen Schöer se bespreking is daar ’n mooi foto van die skrywer in ’n gesellige luim, by Erika de Beer s’n die boek se omslag.

Ek sal Van Zyl dit nie kwalik neem as sy wens dat hulle maar volstaan het met net een resensie nie. Hoekom, wonder ’n mens, twee resensies plaas?

Om sake verder te vertroebel, spreek albei in hul inleidings sake aan wat vir alle betrokkenes ongemaklik sal wees.

De Beer verwys na die baie positiewe aanbevelings deur Marita van der Vyver en Karin Brynard op Moordvis se omslag. En dan gaan sy voort en beskryf ’n leeserevaring waarin sy op bladsy 179 (uit sowat 300) “steeds verskonings kry om nie verder te lees nie”.

Sy geniet hierdie boek duidelik nie soveel soos Van der Vyver en Brynard nie. Sy vind tekens van swak redigering  (of noem dit maar inkonsekwentheid deur die skrywer – dis seker iets van albei.) Sy vind ’n sekstoneel wat vir haar uit plek is. Daar is net teen die einde aksietonele. Die roman vervul nie sy potensiaal nie.

En so meer. Haar slotsom is negatief.

Schöer open met ’n opmerking wat die aandag vestig op die groot verwagtinge wat daar vooraf (skynbaar in mediakringe) vir Moordvis gekoester is. “Dit moet lekker vir ’n debuutskrywer wees om soveel aandag te kry,” gaan sy dan voort, en dadelik kry ek hond se gedagte.

Haar intro smeek om opgevolg te word deur ’n opmerking te dien effekte dat die groot verwagtinge nie verniet was nie. Maar daardie opmerking kom nie.

In die plek daarvan lewer Schöer verslag van die inhoud, en eindig met ’n kritiese opgaaf van die dinge wat Van Zyl nié gedoen het nie.

Haar slotopmerking is: “Ek vermoed Van Zyl hét ’n ingeligte, interessante en welgevormde opinie oor al die agtergrond wat nagevors is, maar dis asof sy dit doelbewus uit die storie gehou het en ek kan nie help om te wonder hoekom nie.”

Sy spreek haar nie uit oor die sake wat De Beer aanroer nie; minder negatief dus, maar nog nie ’n lofrede nie.

Wat verdere besinning verg, is iets wat my uit die staanspoor gekwel het. Helen Schöer maak tereg die opmerking dat Irna van Zyl “’n groot gees in die medialandskap” is. Schöer self is redakteur van ’n tydskrif in die Media24-stal. De Beer is ’n vryskut-joernalis. Is dit vir die koerantleser nodig om bedag te wees op óf kollegiale toegeeflikheid óf afguns? Speel die feit dat Van Zyl lank die Media24-dampkring aangesny het, maar nou by hul mededinger publiseer enigsins ’n rol?

Die meeste tekens van gewilligheid om vir Van Zyl die binnevet van die boud te gee, kry mens in Schöer se resensie. Sy bly by die storie, is nie krities oor die stereotipes nie, kyk nie noukeurig vir strukturele foute soos De Beer nie. Die kern van haar kritiek handel oor Van Zyl se onvermoë/onwilligheid om sekere bewaringstemas verder te ontwikkel.

Sy maak ’n opmerking soos “Van Zyl hét die skryfvernuf en haar hart sit op die regte plek …” en vermoed dat “Van Zyl ’n ingeligte, interessante en welgevormde opinie [het} oor al die agtergrond wat nagevors is”. Maar …

Ek vind nie tekens van afguns of oormatige toegeeflikheid in Schöer se bespreking nie. Respek, ja – en die gevoel dat meer vir Schöer gehinder as wat sy bereid is om uit te spreek.

De Beer se resensie is iets heeltemal anders. Hierdie resensent kom al ’n klompie jare met Boeke24 aan, en het my in die verlede al erg geïrriteer met haar nuk om die storie oor te vertel eerder as om krities te reageer op die boek voor haar.

Maar sy het algaande gewerk aan haar aanpak. Mens kan sonder huiwering hierdie resensie uitsonder as haar beste nog. Dit is ’n resensie wat verskeie sake aansny, en implisiet vrae vra waaroor die leser kan gaan nadink. Enkeles wat vir my na vore gekom het:

– In watter mate is dit ’n uitgewer se plig om sy skrywers teen hulself en publikasiedrif te beskerm – behoort ’n redakteur byvoorbeeld in te gryp wanneer dit begin lyk of ’n skrywer ’n vervelende stilistiese eenselwigheid in sy skryfwerk kry?

– Is ’n skrywer deurentyd seker dat dít wat hy skryf, interessant bly vir die leser?
– Hoe moet ’n leser reageer wanneer daar kontinuïteitsfoute in ’n verhaal is? Is dit nie die taak van skrywer én redakteur om te sorg dat die verhaal “klop” nie?
– As dit vir ’n resensent duidelik is dat die potensiaal van die gegewe waarmee die skrywer gewerk het, nie gerealiseer het nie, moet die skrywer die blaam daarvoor dra – of die uitgewer wat die skrywer nie tot verantwoording geroep het nie?
– In die lig hiervan besef ’n mens dat De Beer haar intro baie fyn gekies het: Wie doen verantwoording vir celebrities en bekende skrywers se reklame-bydraes op die omslae van boeke?

De Beer lewer dan ook een van die verdoemendste paragrawe wat ek nog in ’n resensie gelees het:
“Toe ek op bl. 179 van sowat 300 kom en steeds verskonings kry om nie verder te lees nie, het ek gedink ek het dalk net te min op ’n slag gelees, voor begin en een stryk deur gelees. Dit het nie gehelp nie. As selfs Moerdyk ‘sukkel om sy lus vir die Boelie-saak te hou’ (bl. 166), hoe moet die leser voel?”

Geen kunstenaar wil hoor dat sy werk oninteressant is nie. Dit is die soort oordeel wat lê buite dinge soos styl, skryfvernuf, aanwending van retoriese elemente, taalvaardigheid en tematiek. Dit gaan oor die aanspraak op die leser se aandag. Hierdie opmerking van De Beer is nie ’n klap nie, dis ’n kanonskoot. En dit is nie net die skrywer wat getref word nie.

Maar is hier van afguns sprake? Duidelik nie. As daar was, sou hierdie blog  heeltemal ’n ander aangesig gehad het.

2 antwoorde op So baie vrae

  1. Wat het van Crito geword? He die luilekker eilandbestaan hom ingesluk?

  2. crito het gesê op Augustus 24, 2016

    Party weke ervaar ek ‘n só gebrek aan belangstelling in die resensies wat in Afrikaanse koerante en op die internet verskyn dat ek besluit om maar liewer aan ander dinge te dink. Daar is niks vir die gemoedsrus soos ‘n middagslapie wat al om elf begin nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.