by

Om mee te begin

Augustus 3, 2016 in Uncategorized

Jy sal ’n besielde resensent altyd uitken aan sy inleidende paragraaf.

In afgelope Sondag se Rapport skryf Thys Human oor Valda Jansen se Hy kom met die skoenlappers. Dit is nie aldag dat mens ’n eerste paragraaf raakloop wat tegelyk inleiding en potensieel ’n resensie op sy eie kan weees nie. Human kry dit híér reg.

Hy gee ’n aanduiding van die inhoud, oor die konteks waarin dit verskyn, gee ’n evaluering, en dan sluit hy dit af met ’n opmerking wat as skakel kan dien tot die res van die resensie. “Inteendeel, Jansen se teks het ’n bekoring van haar eie” rig die leser op wat volgende kom, naamlik ’n uiteensetting van die “bekoring van haar eie”.

Ek hou van Human se skryfstyl – baie bondig, en inhoudelik só op die krag van die roman gerig dat ’n mens hom ’n ideale resensent sou kon noem. Hy “verkoop” die roman aan die publiek, hy gee vir die outeur ’n klankbord en evaluering wat sy nuttig sal vind, en hy lewer genoeg aanknopingspunte vir die student van die letterkunde.

Joan Hambidge se bespreking van Vloeibare middelpunt, die nuwe bundel deur Martjie Bosman, is in meeste opsigte doeltreffend.

Maar haar inleidende paragrawe wek die indruk dat dit met akademiese doelstellings geskryf is. Dit is só neutraal en formulisties dat dit op paradoksale wyse gepas is: Jy lees omdat jy wag vir die oordeelswoorde, wat gepas eers in die tweede laaste paragraaf opduik.

Ek kan nie die gevoel afskud dat Hambidge die resensie anders sou aangepak het as sy werklik in vervoering was nie. Verskeie kere in die loop van die resensie kry mens die gevoel dat ’n formulering die kapstok vir ’n beter intro sou gewees het: “die oorgange tussen sekerhede, die prosesse van liminaliteit, word in hierdie bundel ondersoek”; “Ons vind hier ’n digter wat op ’n intelligente wyse besig is met ’n bestekopname en in vreemde landskappe haar eie digterlike woorde plaas teen ’n groter ‘backdrop’ “; “Alles in hierdie bundel het dan met ’n mitologiese proses van transformasie te make; van metamorfose en vervreemding”; “Die sublieme is subliminaal en mites (mitologie), die metafisika hou dikwels skuiling ondergronds, maar die sensitiewe en intelligente persoon kan dit aanvoel en verwoord”.

Pieter Steyn se inleiding tot sy resensie van ST Potgieter se Sirkel van Noodlot is veelduidend – hy koop vir hom tyd om die onafwendbare te moet sê.

Steyn begin met opmerkings oor die konteks waarbinne die boek verskyn – amper belangriker as die boek self. Daarna maak hy korte mette van die roman – baie beleefd, maar die mette is moers kort om die minste te sê.

Eintlik kry ek ST Potgieter effens jammer. Dis sekerlik geen plesier om te moet hoor dat jy in dieselfde genre as Deon Meyer, Rudie van Rensburg, Karin Brynard en Chris Karsten skryf maar glad nie op dieselfde vlak van finesse is nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.