by

Stadig oor die klippertjies

November 30, 2015 in Uncategorized

In die afgelope naweek het die New York Times ‘n lys gepubliseer van die honderd belangrikste boeke van 2015. Wat my daarvan opgeval het, is hoeveel digbundels en versamelings van kortverhale die lys gehaal het. Hoekom dit belangrik is, is omdat digkuns en kortverhale in die VSA ook by uitgewers stief behandel word. Afrikaans is nie uniek in dié opsig nie.

 

Poësie en kortverhale. As ek mag reageer op Gisela Ullyatt se betoog in haar resensie van Hendrik J. Botha se Atropos (Boeke24): Dit gaan nie vir my oor die publikasie al dan nie nie; waaroor ek ‘n klippie in die skoen het, is die feit dat feitlik alle digkuns uitvoerig geresenseer word, terwyl daar heelwat ander Afrikaanse publikasies is wat nie geresenseer word nie.

 

Nietemin, Ullyatt se bespreking van Botha se debuutwerk is die soort resensie wat tot my spreek. Dit het nie die formulistiese aanpak wat so baie poësie-resensies het nie. Dis lekker argumenterend. Sy verskuif haar fokus ná haar inleiding vining na Botha se bundel. Haar analise is bondig, dog deeglik.

 

Daarteenoor is einste Frederik J. Botha se bespreking van Rachelle Greeff se Die naaimasjien en ander stories (Boeke24) geskryf in ‘n meer akademiese styl – ‘n minder persoonlike toon as Ullyatt s’n, effens meer afstand op die kunswerk. Sy taksering en kontekstualisering van Greeff se nuwe versameling kortverhale word oorgedra met nugtere gesaghebbendheid.

 

Jeanette Ferreira se bespreking van dieselfde bundel (Rapport Boeke) is omtrent helfte korter, maar nie minder oortuigend nie. Sy probeer dieselfde objektiewe toon as Botha gebruik, maar tog is haar bespreking veel persoonliker. Veral haar samevatting (“Terugblikkend kan ’n mens dit egter byna as ’n groot vertrek beskou en elke verhaal ’n ander venster waarop die leser inkyk na wat daarin was of spoedig nie meer daarin sal wees nie.”) is ‘n poging om aan te toon hoe inspirerend Greeff vir haar was.

 

Ek sou net op een punt met Ferreira verskil. Ek dink nie Rachelle Greeff het ‘n reputasie as kortverhaalskrywer nie, maar wel dat sy ‘n goeie naam as ene het.

 

Daar’s nie veel fout met Riaan Grobler se resensie van Piet van Rooyen se Voëlvry nie, maar dit laat my gedagtes wel dwaal na daai irriterende klippertjie in my ander skoen. As ek moet kies tussen ‘n resensie wat in wese die verhaal vir jou opsom, en ‘n bespreking van komplekse vrouekarakters wat ‘n verhaal se gang kan bepaal, met spesifieke verwysing na bv. Voëlvry, dan sal dit altyd laasgenoemde wees. Enigiemand kan ‘n verhaal opsom; dit verg insig en belesenheid om ‘n waarneming te kon maak soos dié wat Grobler so in die verbygaan maak, en wat in uitgebreide vorm ‘n veel interessanter resensie sou gewees het.

 

 

 

 

 

 

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.