by

Ou liefde inspireer resensent

November 17, 2015 in Uncategorized

’n Admissie-student was eens verlief op my. Ek het gehou van sy geselskap, maar ek het nie verwag dat die verhouding lank sou hou nie. Dit het ook nie.

In die tyd wat ek nog met hom uitgegaan het, het ek elke oggend in die posbus van die losieshuis in die Laan waar ek gewoon het, ’n brief van hom gekry. Sulke briewe waarin hy my vertel hoe hy oor my voel. Ek skat mens sou kon sê dit was hormoon-gelaaide briewe. Nadat ek hom gesê het dat ek nie sy siening oor die Voorsienigheid deel nie, en dat hy iemand anders moet soek wat hom waarlik kon liefhê, het die briewe nog ’n ruk voortgegaan. Desperate smeekbriewe deur ’n ontgogelde skrywer.

Ek is nie trots daarop dat ek sulke briewe uitgelok het nie. As hy die briewe vandag weer kon lees, dink ek sou hy vreeslik skaam wees daaroor. Gelukkig het ek hulle daagliks opgeskeur en weggegooi.

Wanneer ek dan Joan Hambidge se resensie van Vlam in die Sneeu: Die liefdesbriewe van André P. Brink & Ingrid Jonker in Boeke24 lees, dink ek aan daardie briewe. As ’n mens smoorverlief is, is dit emosies en drange en drifte wat die pen stuur, nie die verstand nie. Wat ’n mens hoop, is dat die twee betrokkenes by hierdie korrespondensie dit in hul temperament sou vind om skryfwerk te lewer wat vergelyk sou kon word met – sê maar – die briewe van Elizabeth Barrett aan Robert Browning, of James Joyce aan Nora Barnacle. Jy soek nie die mymeringe van ’n oorhoopse admissie-student nie.

Dit lyk nie of hulle die hoogtes van Barrett en Joyce bereik het nie, maar tog het hulle – sonder die oog op publikasie, uiteraard – briewe geskryf wat Joan Hambidge een van haar heel beste resensies ooit laat skryf het. Dit is deurdag vanuit elke moontlike hoek; sy is bewus van die geykte argumente teen die verklap van intieme besonderhede uit bekendes se lewens; dit is deskriptief sonder om geheime of leesplesiere te verklap; dit is in effek ’n inventaris van die verskillende maniere waarop mens die korrespondensie kan lees, wat dit dan van belang maak vir spesifieke soorte lesers.

Hambidge verweef haar kritiek met die verskeidenheid opmerkings wat sy oor die inhoud en die skrywers maak; dit is nie pedanties nie en dit is nooit neerhalend nie. Die naaste wat sy daaraan kom, is om te sê dat die briewe afwisselend sentimenteel is – en dit is nie ’n negatief gelaaide stelling nie. Dis ’n eenvoudge, verifieerbare waarneming.

Die gevoel waarmee sy die koerantleser uiteindelik laat, is dat dit ’n resensie gebou op agting en respek vir die twee skrywers is. Sy het nie tyd gemors met die droesem wat deur die jare opgebou het rondom die feit dat Brink jare lank nie wou hê dat die briewe wel gepubliseer word nie. Sy het haar bepaal by dít wat wetenswaardig is, en dít wat noodsaaklike inligting vir voornemende lesers is.

Uitstekend!

Ek is tans op reis, en geneig om sommige resensies gewoon verby te laat gaan. Vandeesweek se oes aan resensies het net een ander bespreking opgelewer wat stof tot nadenke gelewer het, naamlik Helen Schöer s’n in Boeke24 van Offerlam, die nuwe roman deur Chanette Paul.

Schöer se geesdrif prikkel ’n mens om aanvanklik met ‘n vaart te lees, maar wat my oog dadelik gevang het en my gestuit het, is die opmerking “Die boek het regtig vir my ’n unieke stem.”

Resensente kan allerhande dinge oor boeke sê, maar wanneer aan die produk ’n kenmerk toegeken word wat eintlik die skepper toekom danksy die aard van sy skryfwerk, dan weet jy die resensent het nie mooi nagedink oor haar formulering nie.

Ek snap wat sy bedoel – trouens, dit is ’n ontsaglke kompliment as dit aan Chanette Paul se adres gerig is. Ongelukkig is dit aan die adres van die boek gerig.

Ek dink ons kan dit as gelees beskou dat resensente se skryfwerk net so noukeurig moet wees as dié van die skrywers waaroor hulle skryf.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.