by

Briljant

Oktober 28, 2014 in Uncategorized

Koos Kombuis skryf oor Binnekring van spookasems, deur Herman Lategan. (LitNet)
Dit is nie bedoel as resensie nie, maar Koos Kombuis se storie oor die uitwerking wat Herman Lategan se Binnekring van spookasems op hom gehad het, is een van daardie sonderlinge stukkies wat meer bereik as ’n formele bespreking van die boek. Nie almal kan dit doen nie, trouens selfs Koos Kombuis sal waarskynlik nie gou weer ’n reaksie op ’n boek kan skryf wat dieselfde impak het nie. Hy begin deur te vertel hoe die uitgewer hom genader het vir ’n “shout line” vir die omslag, en hoe hy toe uiteindelik die boek gelees het. En hoe sy lewe onmiddelik daardeur verander is. Dit is uit-die-kassie skryfwerk, dis flambojant en onheilig en illuminerend en aards. Dit is joernalistiek in die tradisie van Lester Bangs. Behoorlik beskou, vra mens jou af hoekom daar nie meer resensente is wat probeer om só eerlik te reageer nie. Nou weet mens ook dat dit harde werk is om iets te skryf wat so natuurlik en spontaan lyk, en dat ons hier aan die ontvangkant is van Koos Kombuis wat as  woordkunstenaar sy spiere span. Die punt is dat hy dit laat lyk soos die spontane uitstorting van emosie, en ons, die lesers, wil onmiddellik daardie boek hê wat hom só laat reageer het.

Charles Smith resenseer Van sprokie tot tragedie in die kollig, deur Ilse Salzwedel, en Die staat vs. Oscar: 9 uur, 4 skote, 1 raaiseldood, deur Marida Fitzpatrick. (Rapport-Boeke)
Nadat Suid-Afrika tot satwordens Oscar Pistorius se loutering in die hof meegemaak het op TV, in koerante, tydskryfte en via die kollektiewe regsbrein aktief in die sosiale media, word daar twee boeke oor dié smartlikheid in Afrikaans gepubliseer. Charles Smith se reaksie is presies wat enige nugter mens sou vra:  Wil enigiemand dit weer alles deur middel van ’n boek herleef en herkou? Veral noudat alles afgeloop het? Smith vind sy antwoorde al argumenterend, en besluit dat elke boek wel om spesifieke rede bestaansreg het – én die moeite werd is om te lees. Wat hy nie doen nie, en mens kan hom nie daarvoor verkwalik nie, is om vas te stel of enige van die twee boeke diegene sal aanspreek wat uit die staanspor besluit het om nie te veel andag aan Oscar en sy saak te gee nie. Miskien dui hy, by implikasie, aan dat Salzwedel se boek tot daardie mense sal spreek.

Deborah Steinmair bespreek Die respektabele Meneer Hartslief, deur Chris Karsten. (Rapport Boeke)
Hierdie resensie sal nie onthou word vir die netjiese aanloop wat Steinmair neem nie, maar wel vir die voorspraak wat sy maak, berustend op ’n logiese denkfout, vir stereotipering. Ek ken ’n paar mense in Brixton wat die resensent tot ander insigte sal bring. Nie Steinmair se grootste oomblik nie.

Dineke Volschenk resenseer Die stormsee swyg, deur Annemarie J. Pieterse. (Rapport Boeke)
’n Bespreking waaraan mens jou kan verkneukel. Wat Volschenk op baie beleefde wyse sê, is dat sy as oud-uitgewer wéét dat sy hierdie boek nooit sou uitgegee het nie.

Daniel Hugo skryf oor Woorde roes in die water, deur Clinton V. du Plessis. (Rapport Boeke)
Nou ja. Danie Hugo se bespreking maak my nuuskierig oor Du Plessis, ’n digter wat sy oeuvre in die teken laat staan van sy verset teen die keurslyf wat Afrikaanse uitgewers vir hom wou aantrek. En dan verdwyn daardie belangstelling ook weer wanneer Hugo daarop wys dat Du Plessis die gehaltebeheer kort wat uitgewers hom sou verskaf.

Cas van Rensburg bespreek Die respektabele Meneer Hartslief, deur Chris Karsten. (Boeke24)
Skrywers steur hulle aan resensente, veral wanneer die resensent meer raaksien as die voor die hand liggende. Cas van Rensburg bied ter wille van die oningeligte koerantleser ’n oorsig van die verhaal aan; daarna lig hy die sluier oor die roman se voortreflikhede, die dinge wat mens nie gewoonlik van ’n spanningsverhaal verwag nie, soos die omvang van Karsten se taalregister, en die verwikkeldheid en uiteindelike menslikheid van die moordenaar in hierdie verhaal. Daarby verduidelik hy wat die basis is van Karsten se finesse, naamlik deeglike en uitgebreide navorsing. En ten slotte sê Van Rensburg pront die een ding wat mens nou al begin vermoed het: Chris Karsten is ’n misdaadskrywer van internasionae statuur. Dis groot lof, en gelukkig is die resensie op só ’n wyse geskryf dat mens nie twyfel oor die gesaghebbendheid van dié uitspraak nie.

Daniel Hugo skryf oor Die handdruk van die dood: Die onvertelde storie van Eugène Marais, deur Friedel Hansen. (Boeke24)
Herman Charles Bosman die kind van Eugène Marais? Sê weer … Daniel Hugo wys tereg daarop dat hierdie boek die opspraakwekkendste geskrif is wat al oor ’n Afrikaanse skrywer gepubliseer is – asook dat dit al ’n jaar oud is en nie die aandag getrek het van die literêre wêreld nie. Wat moet mens daarvan maak? Soms is resensies só aangebied dat dit nuuskierige agies die boek sal laat opsoek, en diegene wat meer sinies is oor skouspelagtige vindings sal laat wegdeins. Aan watter kant bevind Hugo hom? “Die groot probleem met hierdie boek is dat die skrywer te onkrities staan teenoor sy ontdekkings.” Ons hoor wat jy sê, Daniel.

1 antwoord op Briljant

  1. Crito, eers ’n pluimpie vir die keurige resensies – nie soseer die inhoud nie, maar u taalgebruik beïndruk my meestal.
    Baie mense sê hulle lees “nie eintlik Afrikaans nie”. Ek weet nie of u, as resensent van resensente, al soortgelyke opmerkings gehoor het nie.

    Nou ja:

    “Nou ja. Danie Hugo se bespreking maak my nuuskierig oor Du Plessis, ’n digter wat sy oeuvre in die teken laat staan van sy verset teen die keurslyf wat Afrikaanse uitgewers vir hom wou aantrek. En dan verdwyn daardie belangstelling ook weer wanneer Hugo daarop wys dat Du Plessis die gehaltebeheer kort wat uitgewers hom sou verskaf.”

    en

    “ ’n Bespreking waaraan mens jou kan verkneukel. Wat Volschenk op baie beleefde wyse sê, is dat sy as oud-uitgewer wéét dat sy hierdie boek nooit sou uitgegee het nie.”
    Ek ruik bias. In Afrikaans kan mens die woord baaiis gebruik of afkort met BS. (O ja, dit pla my dat u so maklik belangstelling verloor – dalk ontbreek daar ’n bietjie wilskrag; probeer alternatiewelik iets soos Bioplus.)

    Indien ’n mens sou beweer Crito is ’n lakei van die uitgewersbedryf en gevestigde ou strukture, moet só ’n mens dit sekerlik kan bewys. Maar sommige verskynsels is moeilik bewysbaar, al is dit alomteenwoordig in die tussenin spasies. Einstein het gesê: “I sometimes feel I am right, but do not know it.” Dalk haal ek hom buite konteks aan, maar die punt is, ek sal verbaas wees as ek verkeerd is.

    Mense lees “nie eintlik Afrikaans nie”, want al verpak jy ’n storie in ’n mooi omslag, spel al die woorde reg en hou by die reëls waaraan taalterapeute glo: bly ’n saai storie ’n saai storie. Die uitsondering is yl gesaai.

    Meeste lesers verkies ’n boek wat taalkundig behoorlik versorg is, maar ek is gekant teen beheer, veral as dit tot binne in die boekwinkels strek. Beheer. Beheer pas netjies in die kraal van orde, dissipline, HNP, mans in kakieklere met ’n kam in die kous of vrouens met ’n rietmandjie oorgetrek met ’n gehekelde lappie, ’n appel en ’n Gideonsbybeltjie langs die snesies vir ’n moontlike glipsie. Dus: impotent, soos sommige uitgewers.

    O ja, ek praat merendeels van fiksie, nie die versameling en herskryf van reeds gepubliseerde data nie.

    Mooi dag vir u.

    Lees ook gerus dié, dit is baie insiggewend: http://www.timeshighereducation.co.uk/172613.article

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.