by

Twee kante van die saak

September 2, 2014 in Uncategorized

Leopold Scholtz resenseer Die bom: Suid-Afrika se kernwapenprogram, deur Nic von Wielligh en Lydia von Wielligh-Steyn. (Boeke24)
’n Bietjie afwisseling op die boekeblaaie. In die plek van digkuns en prosa, ’n boek oor die apartheid-regime se kernprogram. Scholtz se resensie is deeglik geskryf, maar sy aanbod van sy materiaal is effe futloos.

Anna-Mart van Wyk resenseer Die bom: Suid-Afrika se kernwapenprogram, deur Nic von Wielligh en Lydia von Wielligh-Steyn. (Rapport Boeke)
Van Wyk het haar resensie met ’n spesifieke doel aangepak. Sy wou ’n insident gebruik wat sy op ’n manier kon dramatiseer, om haar lesers se verbeelding aan te gryp, en trek hulle dan verder in die wêreld van geheime en fantasie rondom die kernprogram in. Die resensie lees lekker. en terwyl dit presies dieselfde gevolgtrekking en aanbeveling maak as dié van Scholtz, maak haar resensiestyl ’n geesdrif vir die boek by mens los.

André Bartlett bespreek Gesprekke oor die lewe, deur I.L. de Villiers. (Boeke 24)
Aasvoëlkop se NG-gemeente is ’n interessante een. Die name van Beyers Naudé, I.L. de Villiers en André Bartlett word daarmee vereenselwig. Heel gepas bespreek Bartlett hierdie versameling van De Villiers se laaste preke. Resensie in die streng sin van die woord is dit nie; eerder is soort kennisgewing. Mooi verpak, maar dit is duidelik dat Bartlett uit die staanspoor die inhoud wou verduidelik sonder om krities daarop te reageer.

Amanda Botha bespreek Gesprekke oor die lewe, deur I.L. de Villiers. (Rapport Boeke)
In André Bartlett se bespreking van hierdie bundel in Boeke24 sien ons dat Amanda Botha die samesteller is. Dit word nie vermeld by Rapport se bespreking daarvan deur Botha nie. Dit is nie ’n  aanvaarbare praktyk nie.

Nico Geldenhuys resenseer Die sirkel van bekende dinge, deur Johan Vlok Louw. (Boeke24)
Ondanks Geldenhuys se skerp kritiek op die redigering, en die betekenisvolle opmerking dat die boek met 20% verkort kan word, bly ek nuuskierig daaroor. Smag ek net na ’n cowboy-storie? Moontlik. Feit is, Geldenhuys se opmerkings oor die boek se vrot kolle en die swak redigering sal dit net by nuuskierigheid laat bly.

1 antwoord op Twee kante van die saak

  1. Met verwysings na I.L. de Villiers se Gesprekke oor die lewe en spesifiek die kommentaar op die Rapport-berig. Ek wys net daarop dat dit as ‘n bekendstellingsberig geskryf is en nie as ‘n resensie nie, Andersinds stem ek volkome met die sentiment saam.
    Amanda Botha

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.