by

Strategie

April 29, 2014 in Uncategorized

Charl-Pierre Naudé skryf oor Die afwesigheid van berge, deur Louis Esterhuizen. (Rapport Boeke)
Charl-Pierre Naudé is nie beïndruk deur Louis Esterhuizen se nuwe bundel nie. Hy haal Marlies Taljaard en Francois Smith aan, wat albei diep onder die indruk is van die voortreflikheid van hierdie bundel, en dan gee hy sy eie siening. Sy analise is nie swaartillend akademies nie. Dit is eerder een vakman wat ‘n eweknie se werk takseer en dan uiteindelik, nadat hy hierdie kant toe en daardie kant toe geswenk het, reguit afpeil op sy eie mening. Dit is nie hier belangrik om te weet presies hoekom Naudé die bundel geringskat nie; dit is wel ‘n uitstekende voorbeeld vir voetganger-resensente van hoe ‘n resensent ‘n bespreking kan beplan en dan daardie plan sekuur uitvoer. Die voortreflikhede van hierdie resensie lê in sy struktuur. Net op een terrein kan Naudé aandag gee aan sy terkortkominge: Hy is geneig om hom te bedien van woorde wat die gevoel skep dat hy nie heeltemal taalvas is nie.

Piet Croucamp bespreek DA of nie? – ’n Kieser se krisis, deur Eusebius McKaiser. (Rapport Boeke)
So kort voor ‘n algemene verkiesing is die politieke arena een waar min genade betoon word. Eusebius McKaiser het ‘n boek tot die nasionale debat bygedra wat vir mense met ‘n belangstelling in die opposisiepolitiek heelwat dinge gee om oor na te dink en te stry. McKaiser klink nie na iemand wat sou verwag dat hy sagkens behandel moet word nie, maar ek kan nie help om simpatie met hom te hê nie. Hoe kon hy voorsien dat Piet Croucamp dit sou resenseer? Piet Croucamp, die man wat nie skroom om sy mening te gee nie. Daar is mense wat beweer dat Croucamp deur die jare afgekoel het, maar dit is nie die indruk wat hierdie bespreking mens gee nie. Dit is tegelyk ‘n opsomming van die huidige politieke partye, veral die DA, se hoedanighede, en ‘n reaksie op die hoofpunte van McKaiser se betoog.  En ten slotte sy reaksie op die skrywer self, ‘n geweldige kritiese opmerking wat só netjies verpak is.

Jan-Jan Joubert bespreek DA of nie? – ’n Kieser se krisis, deur Eusebius McKaiser. (Boeke24)
Joubert benader hierdie boek net so krities as Piet Croucamp, maar sy uiteensetting is effens meer diplomaties uiteengesit. Ek vermoed hy gee McKaiser doelbewus meer voordeel van die twyfel, veral waar hy hom as “openbare intellektueel” beskryf. Maar dan haal hy ook ’n insident uit 2011 aan waarin McKaiser my laat wonder of hy die eerste persoon gaan wees wat die etiket vlaktueel om die nek gehang kry. ’n Veelkantige resensie dus, een wat met meer subtiliteit geskrf is as wat mens met ’n eerste lees vermoed.

Ilza Roggeband bespreek Dubbelspel, deur Wilna Adriaanse. (Boeke24)
Soms help dit nie om die storie te probeer vertel, of die dramatis personae voor te stel nie. Al wat jy regkry, is om jou lesers deurmekaar te maak. Dít is wat hier gebeur. En iemand met Ilza Roggeband se ondervinding behoort teen hierdie tyd al die verskil tussen guur en onguur te ken.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.