by

Enersdenkend

April 22, 2014 in Uncategorized

Hermann Giliomee skryf oor Maties en Afrikaans, 1911-2011, deur Pieter Kapp. (Rapport Boeke)
Die taalstryd by die Universiteit van Stellenbosch is ’n baie ernstige onderwerp in sekere kringe. Ek woon op hierdie dorp, en weet dat dit net so dikwels tot bitter  meningsverskille lei as die agteruitgang van Maties as rugby-bakermat. Om ’n resensie oor ’n boek soos Maties en Afrikaans te skryf, is ’n taaier opdrag as wat mens sou dink. Hoe hou jy die aandag van ’n koerant se lesers as jy weet meeste van hulle het weinig belang by Stellenbosch se smarte? Hermann Giliomee se resensie gee tegelyk vir die oningeligte ’n inleiding in die konteks, en deur sy bespreking van Pieter Kapp se boek ’n uiteensetting van die beginsels wat op die spel is, asook die praktiese gevolge daarvan. Giliomee verklaar sy belange, maar dit is dwarsdeur die resensie baie duidelik dat hy en Kapp dit eens is. In só ’n mate dat dit uiteindelik, wanneer Giliomee die US-raad uitwys as die sondaar, nie vir my duidelik is of dit Kapp is wat daardie gevolgtrekking gemaak het, en of dit Gioliomee is wat die boek as vertrekpunt gebruik vir iets wat hy in elk geval ingesien het nie. Ek glo Maties en Afrikaans gaan Stellenbosch aan die praat sit, maar vir diegene wat hul elders en sonder die Maties-naelstring bevind, bevat Giliomee se resensie alles wat mens oor die onderwerp  sou wou weet.

Maggie Marx skryf oor Veelvuldige gebruik vir huishoudelike toestelle, deur Andries Bezuidenhout. (Rapport Boeke)
Maggie Marx laat my kopkrap. Ek het haar resensie nou veskeie male deurgelees, en ek weet nie wat om daarvan te maak nie. Sy begin met twee opmerkings wat as positief beskou kan word: daar is baie treffende beelde, en iemand sal ’n groot tesis oor die inteteks in hierdie bundel kan skryf. Daarna beskryf sy watse soorte gedigte, temas en intertekste mens in die bundel aantref. Naby die einde maak sy ’n opmerking wat, glo ek, baie mense na die bundel sal lei (“Bezuidenhout se verse tree nie net in gesprek met ander digters, musikante, romanskrywers, filosowe, populêre kultuur en die moderne samelewing nie, maar ook met mekaar.“) ofskoon dit nie ’n baie dapper formulering is nie, Haar finale oordeel is een wat op geen manier verwar kan word met vergoeliking, geesdrif of afkeer nie; “Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle is ’n goed versorgde bundel wat ’n leser met die massa interteks en verskeidenheid temas lank besig sal kan hou.” ook Marx se slotwoorde is ontdaan van alle emosie: “Sy vorige bundel, Retoer, het in 2007 verskyn”. Wat my nou kwel, nadat ek tot die slotsom gekom het dat Maggie Marx op geen manier ’n evaluering wou gee van die bundel nie, of haar emosionele reaksie daarop wou bekend maak nie, is hoe dit moontlik is dat iemand alles in ’n bundel raaksien wat Marx in Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle opgemerk het, maar steeds só verwyderd van bundel en resensie kan bly staan dat mens begin wonder of dit maar haar manier is van sê dat sy verveeld was met die bundel.

Johannes de Villers skryf oor Verdeelde land, deur Sampie Terre’Blanche. (Boeke24)
As die hemel val, dan dra ons almal blou mussies. Prof Sampie Terre’Blanche het dit nou al op baie maniere gesê. Johannes de Villiers se resensie van Verdeelde land is ’n baie goeie inleiding tot die hoogleraar se huidige denke, asook ’n knap uiteensetting, aan die hand van die boek, van hoekom 2034 die jaar sal wees waarin Suid-Afrikaners se turf gaan begin sit. In ’n stertjie tot die resensie vertel De Villiers van die hoogleraar se opmerking by die boek se bekendstelling dat die Amerikaanse ekonomiese hegemonie binne die volgende paar jaar in duie gaan stort. Dit is sulke opmerkings wat baie mense laat voel dat Terre’Blanche nie reg is nie, al het hy dit hoe reg. Dis die sekerheid waarmee Terre’Blanche sulke uitsprake maak wat sorg dat sy boeke en uitsprake interessant en boeiend dog amusant bly. Johannes de Villiers se resensie bevat net genoeg respek vir die outeur om mens se aandag te hou, tot by die die sardoniese slotopmerking. En soos dit met sulke meerduidige opsommings gaan, dwing dit jou om die resensie te herlees, op soek na nog aanduidings van goedige humor en agterdog.

Jacomien van Niekerk skryf oor Die afwesigheid van berge, deur Louis Esterhuizen. (Boeke24)
Ek hou van die manier waarop Jacomien van Niekerk ’n digbundel soos hierdie benader. Sy analiseer dit, worstel daarmee, pak dit in onderdele uit en wys op die manier waarop alles saamhang. Vir die liefhebber van digkuns, en spesifiek Esterhuizen se digkuns, is dit genoegsaam; ’n verkenning wat jou belewing van die bundel makliker sal maak. Dit is ook duidelik dat sy besware het teen elemente van die bundel, en dit aandui. Ongelukkig staan sy nie lank genoeg daarby stil nie. Wanneer sy dan uiteindelik beweer dat “Die afwesigheid van berge is nie ’n bundel wat primêr daar is om te geniet nie”, dan voel jy dat sy nie genoeg in die resensie gedoen het om só ’n opmerking te kan maak nie, al kwalifiseer sy dit met “maar dit opper vrae wat verdien om gehoor te word”.

Jeanne Els skryf oor James Bond ontbloot, deur Heinz Mödler (Rapport Boeke).
Kerneels Breytenbach skryf oor James Bond ontbloot, deur Heinz Mödler (Boeke24).
Saam gelees, sê hierdie twee resensies een ding: Die skrywer het dit sleg getref. Albei resensente waarsku mens nie teen die boek nie. Implisiet sê albei egter heelwat oor uitgewers en uitgewersprosesse.

2 antwoorde op Enersdenkend

  1. tantekoba het gesê op April 22, 2014

    jou opskrif vat my jare terug. wederhelf het in die staatsdiens gewerk en brief geskryf waarin hy die woord enersgenommer gebruik het. Sy direkte senior stuur die brief terug met korreksie: eendersgenommer. Paar weke later weet hy mos vooraf watter woord sy senior verkies, maar brief weereens teruggestuur, hierdie keer was eendersgenommer verander na enersgenommer. Raai wie moes die laaste woord inkry?

  2. Vrybuiter het gesê op April 23, 2014

    Die taalstryd is in ‘n oormag kringe nie ‘n ernstige saak nie.

    Giliomee en Kapp is stoere taalbulle wat eenvoudig nie wil glo dat die taal ten spyte van hul sombere voorspellings van ‘n paar jaar gelede nie van die taaltafel geval het nie.

    By ‘n bespreking van gryskop omies in swart pakke en grys skoene ‘n paar jaar gelede was dit behoorlik ‘n gekners van tande dat die taal sy alie sou sien as Stellenbosch verengels.

    Stellenbosch is so Engels as kan kom en die taal so gesond soos nooit tevore nie.

    Ek sal tog die boek lees, maar kan my goed indink dat daar steeds geween word oor taal en universiteit.

    Die US was nog nooit die taal nie en die taal was nog nooit in die US se boude opgekruip nie.

    Die taal is soos ‘n lenige lyf vervleg om haar minnaars en net daar in Stellenbosch was daar ‘n kleine puisie wat nie eens letselstatus bereik het nie.

    Van Giliomee se eie uitspraak van destyds dat dit nou oorlog is oor die oorlewing van die taal het niks gekom nie. Daar was niks om oor te veg nie.

    Die taal red homself keer op keer met die hulp van diegene wat minder oor die taal praat en meer daarin.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.