by

Geesdrif

Maart 26, 2013 in Uncategorized

Mediterreense herinneringe, deur André P. Brink. Resensie: Herman Lategan. (Rapport Boeke)
Herman Lategan het ‘n baie sterk mening oor meeste dinge (dit weet ek danksy Facebook) en in sy resensies is daardie eienskap van hom nie alleen opvallend nie, maar ook baat die leser die meeste daarby. Mens hoef seker nie ‘n groot standpunt oor André P. Brink se reisverhale in te neem nie. Lategan doen dit wel (jammer net van die een geykte uitdrukking, van die mond wat konfyt verdien) en met soveel duidelike geesdrif dat dit die resensie dra. Meeste mense wat Brink se vroeë skryfwerk ken, sal só ‘n resensie net vinnig lees om te sien of daar nuwe skryfwerk ingesluit is. Lategan bevredig hulle betreklik vinnig, en daarna sorg hy dat hy die aandag hou van die lesers wat nie bewus is van Brink se reisverhale nie. Lategan se resensie-strategie is sekuur, maar dit is die inkleding, die geesdrif, wat die saak beklink.

Teen die lig, deur Hennie Aucamp. Resensie: Marius Crous. (Boeke24)
Van geesdrif gepraat. Hierdie resensie loop nie daarvan oor nie. Mens kan jouself wel afvra of mens dié leemte met geldigheid kan aflei in die aangesig van die talle positiewe opmerkings wat Marius Crous maak. Twee dinge verklap dit vir my. Die eerste is die manier waarop Crous die punt maak dat Hennie Aucamp, as digter wat veral sterk klem laat val op rym, hom skuldig maak aan rymdwang weens sy voorliefde vir die gebruik van Afrikaanse woorde wat ongewoon is. Crous is nie die eerste kritikus wat hierdie punt maak nie – mens hoef maar net te gaan lees wat in Aucamp se kabaret-dae geskryf is oor sy taalgebruik – en die voorbeelde wat hy aanhaal laat mens onmiddelik besef dat hy ‘n sterk, onweerlegbare argument het. Die tweede aspek wat ‘n gebrek aan geesdrif aandui, is die feit dat Crous nie die moeite doen om die resensie van ‘n behoorlike samevattende slot te voorsien nie. Hy maak sy opmerking oor die vreemde woorde, en laat die resensie dan in die lug hang, asof hy nie verder daardeur gebodder wil wees nie. As al die voortreflikhede wat hy vooraf genoem het vir hom van deurslaggewende aard was, sou hy sekerlik in ‘n slot die gewig in daardie rigting wou laat oorhel.

Trek, deur Winnie Rust. Resensie: Dineke Volschenk. (Boeke24)
Eienaardig hoe ‘n mens soms ‘n resensie lees, en weer lees – iets hinder jou, maar jy kan nie jou vinger daarop lê nie. Volschenk is ‘n bedrewe uitgewer, en weet presies waarna om te kyk. Haar verslag  is van só ‘n aard dat ‘n mens weet jy sal die boek wil lees, en dat jy in breë presies dít daar sal vind waarop Volschenk jou aandag vestig. Uiteindelik was dit die slotsin wat vir my die sleutel was: “Trek is ‘n stewige roman wat die leser tot nadenke stem”. Nou goed, wat was die aard en inhoud van daardie nadenke? Hoekom nie daardie nadenke in die resensie laat neerslag vind nie? Elke roman verskyn binne ‘n gegewe historiese konteks, en daardie tot-nadenke-stemmery is die soort reaksie wat mens in die jare sewentig kon verwag het met die verskyning van Die swerfjare van Poppie Nongena. Dit wek nadenke, en jy stem volgende keer nie Nasionaal nie. Trek verskyn in 2013, handel oor die jare sewentig en mens reageer anders omdat die konteks so radikaal verskil. Hoeveel anders? En hóé anders? Die belangrikste deel van haar reaksie op die boek het sy uit die resensie weggelaat.

So kry ons Afrikaans, deur Christo van Rensburg. Resensie: Susanne Harper. (Boeke24)
Dis ‘n “lekkerlees-storie” hierdie oor die ontstaan van Afrikaans, sê Susanne Harper. Haar resensie self lees soos ‘n inventaris van die inhoud van die boek, en die een “lekkerlees”-voorbeeld wat sy gee klink vir my maar taamlik vaal. Só werf mens nie belangstelling nie.

Karretjiemense, deur Carol Campbell. Resensie: Erika de Beer. (Boeke24)
Om hierdie boek te lees, sê Erika de Beer, is soos om die veldblomme in September in die Karoo te sien uitslaan. Haar resensie verklap ontroering en meelewing. Sy vertel bietjies-bietjies oor die inhoud, net genoeg om mens waaragtig nuuskierig te maak. En elke paar paragrawe besef jy dat sy die resensie in gedempte toon skryf, dat sy terughou. Dit is werklik ‘n knap resensie, genoeg om mens respekte te laat kry in alle rigtings: vir die resensent, vir die skrywer, vir die vertaler, vir die mense oor wie die boek handel. Volpunte!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.