by

Speknekke en ander misdadigers

November 27, 2012 in Uncategorized

Mens of monster: Die psige van ‘n misdadiger, deur Carla van der Spuy. Resensent: Riette Rust. (Rapport Boeke)

Ja, ja. Maklike formule: “As jy meer wil weet van sielkundige afwykings, is hierdie boek beslis vir jou … Tog pla ‘n paar goed … Tog is Mens of Monster: Die psige van ’n misdadiger ‘n moet-lees vir alle Suid-Afrikaners.” Riette Rust het ‘n goeie verslag geskryf, en geen resensie nie. Dit wat ek hiervoor aangehaal het, is die versiering wat sy gebruik om dit soos ‘n resensie te laat lyk. Carla van der Spuy het ‘n meer kritiese benadering  verdien; die boek is goed genoeg om met behoue glorie anderkant uit te kom.

 

Die laaste Afrikanerleiers: ‘n Opperste toets van mag, deur Hermann Giliomee. Resensie: André Wessels. (Boeke24)

As mens Wessels se resensie baie krities evalueer, het hy sekerlik nie gefouteer in die manier waarop hy Giliomee se boek analiseer en dan plaas binne die konteks van Suid-Afrikaanse geskiedskrywing nie. Mens kan sy resensie lees en voel jy het iets gewen in die proses. Maar ‘n boek met só ‘n skitterende omslag (daardie foto van ‘n speknek in sy volle glorie!) smeek om ‘n meer robuuste reaksie. Jy wens André Wessels het Giliomee geloop van ‘n kant af met ‘n eie siening (soos bv. Hoekom net hierdie vyf leiers? Waar is die Hertzogs, Smuts, Malan?) net vir die sports daarvan, want jy weet dat Giliomee se boek uiteindelik ook só ‘n aanslag sou kon verduur.

 

Die beste verhale van Eugène N. Marais, uitgesoek deur Merwe Scholtz. Resensie: Johann Lodewyk Marais. (Boeke24)

Met sowel skrywer as “uitsoeker” wel deeglik ter siele, het ek vermoed hierdie boek is ‘n heruitgawe. En dit is – van Meesterverhale van Eugène Marais (1994). Johann Lodewyk Marais noem dit nie. Wel lofwaardig is sy kapsie teen die versagting van ras-pejoratiewe. Mense wat intelligent genoeg is om Marais te lees, sal ook weet hoe mens sulke ras-pejoratiewe binne historiese konteks moet sien.

 

‘n Bekkersdal-marathon – en ander voorkamerstories, deur Herman Charles Bosman, vertaal deur Francois Griebenou. Resensie: Charles Smith. (Boeke24)

Charles Smith weet baie goed van die groot debat oor Bosman se taalkeuse, en sekerlik ook van vorige pogings om sy werk te vertaal. Maar die proef van die poering lê in die proe, dit weet hy ook. Twee stories lank sukkel mens om gewoond te raak daaraan, en dan is jy reg vir die plesier. Ek self soek nie Bosman in Afrikaans nie, maar Smith se resensie maak die deur oop vir diegene wat nie só stuurs is nie.

 

1 antwoord op Speknekke en ander misdadigers

  1. Bosman in Afrikaans?

    Vir wat?

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.