by

Om oor te vertel of nie

November 20, 2012 in Uncategorized

Hartland, deur Deon Opperman. Resensent: Nico Geldenhuys (Boeke24)

Geldenhuys se uiteensetting van die inhoud van Hartland bring ‘n aspek van resensies na vore waaroor ek al vantevore geskryf het: In watter mate moet die resensent die verhaal vertel? Meestal is die antwoord eenvoudig: So min as moontlik. Daar moet verrassings vir die leser oorbly. Hier is dit andersom. Geldenhuys probeer die temas van die verskillende verhale uitlig, en daardeur die boek takseer. Ek moet toegee dat dit hier noodsaaklik is en werk – omdat die resensent uit die staanspoor die geheel geevalueer het.

 

Die pes, deur Albert Camus, vertaal deur Piet de Jager. Resensent: Eben Meiring. (Boeke24)

Drie jaar lank het ek aan prof. Meiring se voete gesit om Frans te leer. Hoeveel male het hy die naam van Camus nie genoem nie! Heeltemal die ideale resensent om hierdie vertaling van La peste te beoordeel. Sy slotsom is effens voorspelbaar, want ek vermoed hy sal sê enige vertaling uit Frans behoort die Afrikaanse vertaalskat te verryk. Waarin ek meer belang stel, en waaroor hy ons inligting skuldig bly, is die kritiek wat hy het op die gehalte en aard van die vertaling. Hy gee ‘n klompie voorbeelde – maar bied nie die korrekte vertaling aan nie, buiten by “histrion de’sarticule”. Die korrekte vertaling van die twee uitgebreide voorbeelde sou nuttig gewees het vir vergelyking.

 

Die kruppel engel, deur Zenobia Kock. Resensent: Joan Hambidge.

Bondige en saaklike resensie, met net een vraag wat oorbly. Waarna verwys Hambidge in haar slotopmerking: “Dalk die werk by die destydse NG Sendingkerk?” Ek lei af sy vermoed dat die boek outobiografies is omdat die outeur in die verlede by die NG Sendingkerk gewerk het. Dié inligting is nêrens voorheen ter sprake nie (dalk op die omslagteks?), wat Hambidge se vraag moeilik maak om te verstaan.

 

Katryn: Vrou van die Richtersveld, deur Jan Huisamen. Resensent: Janice Keogh. (Boeke24)

Mens moet hierdie resensie vergelyk met die een oor Hartland. Hier gee die resensent ook, ná ‘n kort inleiding, ‘n samevatting van die verhaal. Sy verklap nie die afloop nie. Maar sy vervang ‘n evaluerende taksering met ‘n opmerking oor die emosionele reaksie wat sy op die verhaal gehad het. Uiteraard maak die felheid van haar reaksie mens nuuskierig, maar daardeur kul sy ook. Haar opsommende opmerking is vir my ietwat niksseggend – meeste romans bied vir lesers ‘n manier van ontvlugting.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.