by

Briljant

November 13, 2012 in Uncategorized

J.M. Coetzee: ‘n Geskryfde lewe. Resensent: Helize van Vuuren. (Boeke24)

Hier’s nou die ideale kandidaat vir Boeke24 se twee-resensie benadering, maar die nuwe redakteur, Jo Prins, het besluit om te waag met net een. Die geluk is aan sy kant. Helize van Vuuren se resensie is briljant – ‘n uitvoerige, besondere bespreking van ‘n boek wat in sy omvang enige rersensent sal laat terugsteier. Superieur, om ‘n woord te gebruik wat sy al self in’n artikel gebruik het. Van Vuuren se resensie is só deeglik dat dit eintlik doodgewoon vitterig sal wees om te kla oor haar kortlikse hantering van Summertime en Coetzee se ander outobiografiese werke, en hoe dit ‘n Geskryfde lewe raak. Haar styl is nie onnodig akademies nie. En volpunte vir die klein foutjies wat sy kon uitsnuffel. Twee daarvan. Ek is seker Kannemeyer glimlag daar waar hy nou is.

 

Die vrou in die vuur: ‘n Keur uit die verhale van Riana Scheepers, saamgestel deur Adriaan Meyer. Resensent: Erika de Beer. (Boeke24)

Dit klink asof hierdie versameling nie put uit Riana Scheepers se meer “volkse”-kortkuns nie. Erika de Beer maak die punt dat dit nie ‘n lekkerlees-boek is nie, wat my laat aflei dat dit haar meer literêre skeppings is wat hier versamel is. Maar is dit? De Beer kon die punt sterker gemaak het. Wat my ook laat wonder, is wat sy probeer sê met die opmerking oor dinge wat Scheepers sê in die inleiding. Gaan dit daaroor dat Scheepers die inleiding geskryf het? Of het haar seun, die samesteller, die inleiding geskryf, en sy ma aangehaal? Meer vrae word gewek as wat billik is vir enigiemand wat moet besluit of hy die boek wil koop.

 

Labirint, deur Chanette Paul. Resensent: Annari van der Merwe. (Boeke24)

Kan nie onthou dat ek Van der Merwe al ooit boeke sien resenseer het nie. Maar haar toetrede tot dié veld is welkom. Netjies, op die punt af.

 

Die vloek, deur Johan Kruger. Resensent: Francois Bloemhof. (Boeke24)

Dis soms ‘n lekkerte wanneer een skrywer ‘n ander se werk resenseer – skrywers sien dikwels leemtes raak wat gewone lesers nie dadelik optel nie. Hiedie resensie – oorwegend positief – se waarde lê veral in die twee groot gebreke wat Bloemhof raaksien. Dit sal sekerlik nie die leser se leesgenot bederf nie, maar Bloemhof leer wel vir die skrywer Kruger ‘n belangrike les.

 

 

 

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.