by

‘n Kwessie van toon

November 6, 2012 in Uncategorized

Tik, deur Piet Steyn. Resensent: Jonathan Arendt. (LitNet)

Ag, die plesier van onbeperkte ruimte! Ander resensente het hierdie speurverhaal in mindere en meerdere mate goed gevind. Arendt het waardering vir die vlyt van Steyn, maar is nie beïndruk nie. Of jy nou saamstem of nie, daar’s geen manier waarop jy Arendt se uitgebreide analise kan afmaak nie. Piet Steyn behoort vir hom dankie te sê: iemand wat die roman ernstig genoeg benader het om sy argument baie deeglik uiteen te sit.

 

Duiwelsklip, deur Mika le Killian. Resensent: Nini Bennett. (LitNet)

Verduiwels! Wie is Mika le Killian? Nini Bennett is baie tevrede met Le Killian se debuutwerk. ‘n Spanningsverhaal met post-modernistiese byvoegsels en te oordeel na Bennett se beskrywing is dit boonop die ene kopstukke oor gierigheid, korrupsie en geweld. ‘n Slim roman, skynbaar, deur n oud-joernalis. Die vraag wat my pla, is hoekom só ‘n boek onder ‘n skuilnaam publiseer. Bevat dit dalk wesentlike geheime oor die donker agterstrate van die diamanthandel?

 

Die blou van onthou, deur Marita van der Vyver. Resensent: Christell Stander. (Rapport Boeke)

Stander is onder die indruk dat Die blou van onthou opsluit probeer meeding met ‘n roman soos Hierdie lewe (Karel Schoeman) en die epiese skryfwerk van Marlene van Niekerk, André Brink, Etienne van Heerden en Elsa Joubert. Waar kom sy daaraan? Kan só ‘n persoonlike opvatting ‘n evaluatiewe middel word? Beslis nie. Andersins ‘n netjiese resensie, met een groot leemte: Sy (soos ander resensente) ignoreer die betekenis van die naam Colette binne die roman.

 

Skaduwee, deur Carel van der Merwe. Resensent: Malene Breytenbach (Rapport Boeke)

Arendsnes, deur Dirk Jordaan. Resensent: Malene Breytenbach. (Rapport Boeke)

Twee baie interessante resensies, hierdie. Breytenbach is self ‘n skrywer, en fokus byna uitsluitend op die verhale van die twee boeke. In albei gevalle is haar kritiese respons ondergeskik aan haar waardering vir die inhoud en die meevoering van die leesproses. Die evaluasie is albei kere ‘n paragraaf lank. Dit sal moeilik wees om voortdurend hierdie benadering te volg en as resensent interessant te bly. Ek sal graag meer wil weet wat Malene Breytenbach van die skrywerlike dinge dink.

 

Onse vaders, deur Karin Brynard. Resensent: Dineke Volschenk. (Rapport Boeke)

Wat beteken dit wanneer ‘n resensent vir jou sê “En soms … het dié leser gewens die storie beweeg net éffens vinniger”? Wil sy op ‘n sagte manier sê die boek het vervelig geword? Of wil sy te kenne gee dat sy meen sy is dalk die uitsondering omdat sy só voel, maar die pas is té traag? Volschenk skryf onderhoudend, met minder rumte aan die vertel van die storie afgestaan as aan ‘n ontleding van die implikasies en die uitwys van goeie en slegte hoedanighede. Jammer dan dat sy punte van skerper kritiek probeer deflekteer. Ek het die boek reeds aangeskaf en begin lees, en die resensie is vir my net begeleiding; ander sal dit sekerlik ‘n aansporing vind.

 

Kwart voor ‘n bloedbad, deur De Wet Potgieter. Resensent: Eleanor Momberg. (Rapport Boeke)

Eleanor Momberg skryf ‘n neutrale resensie (in toon) oor ‘n boek wat duidelik verskeie wesentlike kwessies aanspreek. Die belangrikste daarvan is dat die eietydse geskiedskrywing nie na behore aandag gegee het aan die opstand in Afrikaner-geledere ná FW de Klerk se 2 Februarie 1990-toespraak nie. Momberg gee wel ‘n blik op die omvang daarvan. Hieruit alleen is dit vir enige leser van haar resensie duidelik dat Kwart voor ‘n bloedbad een van die werklik belangrike publikasies van die jaar is.

 

Seks: Wat is die eintlike storie? Deur Nicki Spies. Resensent: Chris Jones. (Rapport Boeke)

Die eintlike storie is seker dat dit lekker is. Chris Jones maak hom nie skuldig aan ligsinnighede soos die uwe nie, en verduidelik op bondige, direkte wyse hoekom hierdie ‘n besonder belangrike publikasie is. Uiteindelik ‘n Afrikaanse skrywer wat op volwasse, wyse wyse na seks kyk.

 

Onse vaders, deur Karin Brynard. Resensent: Jaco Botha. (Boeke24)

Hy’t gesukkel om aan die lees te kom, maar toe hy eers aan die gang was … Baie nuttige resensie. Ewe veel aandag aan storie, karakterisering, tekstuur van die skryfwerk, en al deins Botha nie terug van ou clichés nie (die arms …) voel mens dat die resensent te vertrou is. Lees in samehang met Dineke Volschenk s’n in Rapport – en jy kom onvermydelik by die versugting uit dat dit jammer is dat Boeke24 nie ‘n twee resensent ook aangekeer het vir hierdie boek nie. Die boek is belangrik genoeg daarvoor.

 

Madeliefies van staal, deur Pat Stamatélos. Resensent: Marida Fitzpatrick. (Boeke24)

Wag ‘n bietjie! Fitzpatrick sien ernstige gebreke in die roman raak (rondom die Koreaan Dae-Yung). Die uitwys daarvan, en die manier waarop sy dit doen, is vir my genoeg om oortuig te word van Fitzpatrick se insig en skerpheid. Maar hoekom dit dan ondergrawe deur te kenne te gee dat dit “kleinighede” is? Dit is nie ‘n kleinigheid nie, en enige redakteur en skrywer sal dit kan bevestig. Dit is nodig dat ‘n skrywer van Stamatélos se statuur tot verantwoording geroep word oor die strategie wat sy volg by anderstalige karakters.

 

Vlieger en die gevare van die close dance, deur Harry Kalmer. Resensent: Dineke Volschenk. (Boeke24)

Volschenk was tot onlangs nog ‘n uitgewer, en die begrip waarmee sy alle aspekte van Kalmer se versameling kortkuns bespreek, wys dat die ou deeglikheid nie maklik afgeskud kan word nie. Die probleem is net dat haar resensie in sommige opsigte soos ‘n keurverslag lees, met die noodwendige afstandelikheid; inhoudelik is die resensie dawerend positief, in toon is daar egter nie bruisende geesdrif nie.

 

 

 

 

 

2 antwoorde op ‘n Kwessie van toon

  1. Hi Crito

    Dankie vir jou kommentaar, net ‘n klein regstelling: my van is Amid en nie Arendt nie.

    Groete
    Jonathan

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.