by

Jags al dan nie

Augustus 7, 2012 in Sonder kategorie

Daar het nog nooit ‘n resensie oor ‘n bundel Afrikaanse erotiese verhale verskyn waarin die resensent pront verklaar het dat dit die kol getref het nie. Ek het deur my knipsels van ou resensies (waaronder Lyfspel/Body Play en Die dye trek die dye aan) geblaai en hulle het almal een ding gemeen. Dít is resensente wat verseg om te erken dat enigiets in die bundels die bekende onrus in hul lendene laat roer het.

Daarom is ek glad nie verbaas dat Bloots (saamgestel deur Karin Eloff en Peter van Noord, in Boeke24 bespreek deur Welma Odendaal en Jan Taljaard en in Rapport Boeke deur Riette Rust) nie staande ovasies gekry het nie.

Welma Odendaal sê dis die slim geskrewe verhale wat die beste is, nie die blatant erotiese verhale nie. Jan Taljaard sê in sy opskrif die verhale is geil, dog die aanslag is te bewus literêr. Rust maak dubbel seker dat haar lesers weet dit gaan in Bloots om erotiek en nie om pornografie nie.

Maar as mens Taljaard se resensie gaan lees, sien jy dat hy eintlik net bedoel het die tyd is ryp vir geil leestof. Geil is natuurlik die woord wat in Nederlands en Duits gebruik word om dieselfde toestand aan te dui wat in Afrikaans deur jags aangedui word.

Voor ek verder gaan, net een gedagte tersyde. As mense liefdesverhale resenseer, word dit gemeet in terme van die emosie en dergelike gevoelens wat die verhale wek. Dit ontroer, voer mee, bring ‘n groot emosinele ontlading en so meer. Spanningsverhale gryp aan, hou jou betrokke, sleur mee, bou groot spanning op by die leser, en so meer.

Waarom, in die name van Yoni en Lingham, wil ‘n mens dan erotiese verhale gaan staan en meet aan enige ander maatstawwe as die mate waarin dit katoolsheid by die resensent ontketen het?

Nou, dis wat ek mis. Kan die resensente dit nie vir almal makliker maak en sommer net reguit sê “Hier is nou ‘n klomp lekker katoolse stories” of “Hierdie bundel het nie eintlik lekker jags stories nie”?

Ja, ek weet, ek weet. Ons resensente is ook op ons privaatheid gesteld. Seksuele prikkeling is nie ‘n toeskouersport nie …

Maar dit sou gehelp het as Odendaal, Taljaard en Rust net so ‘n bietjie skietgegee het en reguit gepraat het. Ek “koop” Odendaal se argument. Ek kan sien waarvandaan Taljaard kom met sy siening. Ek hou van die manier waarop Rust die verhale benader. Sy is duidelik die een wat die meeste genoegdoening uit die verhale geput het, en die eiesoortigheid daarvan probeer takseer het. Of was Taljaard net skugter?

Maar asseblief, volgende keer laat weet tog net van die jagsheid! Al dan nie. En as die sub-redakteurs die woord nie wil toelaat nie, wat mens seker kan verwag, vind ‘n manier om dit te sê. Hierdie drie resensies laat mens dink aldrie skrywers het nie eens een ou diep asemsnakkie beleef nie …

***

Nini Bennett resenseeer in Rapport Boeke die kortverhaalbundel Bloedfamilie van M.S. Burger. Op die webwerf is daar geen aanduiding van wie die uitgewer is nie – Rapport ag dit seker nie belangrik nie.

As mens wil weet wat in hierdie bundel aan die gang is, is daar seker nie ‘n beter aanvangspunt as Bennett se resensie nie. Dit is egter jammer dat sy nog toelaat dat buite-literêre sake haar negatiewe reaksies aanvuur. Wie is die sensitiewe lesers wat sy probeer beskerm teen kru taalgebruik en eksplisiete verwysings na gewelddadige seks? Op watter vlak lê die steurings weens die skrywer se persoonlike bemoeienis met familiekonflik en psigiatriese probleme?

Dis beslis nie oorwegings wat haar tog uiteindelik laat besluit het dat Bloedfamilie ‘n sterk bundel is nie.

Miskien illustreer dit net daardie ou opvatting dat Afrikaners se default-posisie dié van dominee of onderwyser is.

***

Dineke Volschenk se eerste resensie sedert sy die basilisk met die snaakse oë gesien het, is ‘n baie knap bespreking van Wilna Adriaanse se roman ‘n Klein lewe (Rapport Boeke). Dit is interessant om hierdie bespreking te vergelyk met dié deur Corina van der Spoel en Saartjie Botha (onlangs op Boeke24). Volschenk kan die roman dadelik plaas binne ‘n groter publikasiespektrum, maar beskryf ook hoe Adriaanse se bestekopname uitkring tot ‘n meer universele verhaal.

Ek het ‘n Klein lewe ná Botha en Van der Spoel se resensies gekoop, gelees, en vind dat Volschenk se bespreking ná die lees vir my die beste saamvat wat ek met die leesproses ervaar het.

Hopelik raak sy nou ‘n regular. Haar aanpak van die resensie getuig van jare se ondervinding met boeke – die belangrikste vir my is die gewilligheid om die inhoud van die boek krities te takseer sonder om dit geniepsig of neerbuigend te doen.

***

‘n Ander boek kry ook die Esmé Euverard-behandeling op Boek24: Geskiedenis van Suid-Afrika – Van voortye tot vandag, wat onder redakteurskap van Fransjohan Pretorius staan. Die een resensie is geskryf deur André Wessels, die ander deur Albert Grundlingh.

Die twee resensente verskil eintlik nie baie van mekaar nie. Een sou foto’s waardeer het, die ander wonder hoekom sport en kultuur nie ook aan die bod kom nie. Albei aanvaar Pretorius se standpunt dat daar ‘n korrektief nodig is op die swart struggle-sentriese geskiedskrywing (ná jare van wit apartheid-sentriese geskiedskrywing). Onder meer.

Die boek het 22 medewerkers, en albei laat na om inligting oor hul identiteit te gee.

In die algemeen is dit egter nie resensies wat onderwerp kan word aan fel kritiek nie – albei is baie verantwoord aangebied en die gevalle van vitterigheid kan mens maar toeskryf aan provinsiale klemverskille.

Die vraag het wel by my opgekom of dit nie veel meer sin sou gehad het – as mens dan die tweevuis-benadering tot resensies wil volg – om ‘n swart geskiedkundige vanuit die swart struggle-sentriese kamp te kry om een van die resensies te skryf nie.

Of andersins die filosoof en denker Dan Roodt. Hy sou sekerlik ‘n mening hê.

Skakels:

http://www.rapport.co.za/Boeke/Nuus/In-die-taal-van-die-lyf-20120803

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Eenvoud-moet-wagwoord-bly-20120805

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Geil-dog-aanslag-te-bewus-literer-20120805

http://www.rapport.co.za/Boeke/Nuus/Om-tot-verhaal-te-kom-20120803

http://www.rapport.co.za/Boeke/Nuus/Net-n-gewone-lewe-smag-sy-20120803

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Besonderse-Afrikaanse-bydrae-tot-die-eindelose-diskussie-20120805

http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Afrikaanse-historici-laat-stem-hoor-20120805

5 antwoorde op Jags al dan nie

  1. Oubaas49 het gesê op Augustus 7, 2012

    Crito, ek het in die middel-90’s Afrikaas geswot en ‘n kursus gevolg in resensieskryf. Het ons maar daai tyd jou blog gehad… dis required reading oor hoe om resensies te skryf, en ook oor hoe om ander se resensies te oordeel.

  2. dankie vir jou resensies van die resensente …. dit help vreeslik baie om [hier in die agterkant van die beskawing]te besluit of die geresenseerde werk die moeite werd is om aan te skaf..

  3. “Miskien illustreer dit net daardie ou opvatting dat Afrikaners se default-posisie dié van dominee of onderwyser is.” Hoor, hoor, dit maak my ook gatvol. Dankie.

  4. nice pos oor die jagsgeit.

    Maar dit gaan nie gebeur nie, ons praat mos nie daaroor nie…

    🙂

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.