by

Geloofsake

Mei 10, 2011 in Sonder kategorie

Watter boeke verkoop die beste in Afrikaans?

Hang af na wie mens luister. Verlede week vertel ‘n boekhandelaar van Menlyn my dit is godsdienstige boeke. ‘n Verskynsel wat sy “Inspirationals” noem.

En die swakste, wou ek weet.

Digbundels.

Behalwe, vertel sy, as mens die slag iemand kry wat geloofsverse maak. Nie ernstige digkuns nie, maar digkuns wat gelowiges kan verstaan. Ideale geskenkboeke.

Sou dinge anders wees elders in die land? Ek twyfel.

Ek noem hierdie saak omdat dit my afgelope Sondag, toe ek Rapport Boeke oopslaan en Chris Jones se resensie van Om te mag twyfel: ‘n Gelowige se reis deur Julian Müller lees, dadelik laat dink het aan hoe min resensies van boeke met ‘n godsdienstige tema daar op die Afrikaanse boekeblaaie is.

En hoe verskriklik baie resensies van digbundels.

Is die boekeblaaie besig met ‘n dapper stryd om digbundels te red? Skenk hulle so min aandag aan godsdienstige boeke omdat hulle dink daardie boeke het nie reklamehulp nodig nie?

Toemaar, dis retoriese vrae. As mens hulle gaan probeer beantwoord, kom jy dalk agter wat agter die samesmelting van boekeblaaie lê.

Terug by Jones se resensie. Mens hoef nie ‘n skerpsinnige leser te wees om te besef dat ‘n geweldige stryd en spanning agter die boek lê, en dat die resensent self op eiers loop nie. Julian Müller het gevestigde kerkbelange ‘n bietjie laat wankel deur hul dogma-onderbou te skud.

‘n Mens kan moedswillig wees en sê dat ‘n kerk wat só ‘n kritiese benadering as bedreiging beskou in elk geval wankelmoedig is. Chris Jones beweeg katvoet daaromheen met taalgebruik wat distansie tussen hom en Müller plaas: “Twyfel word positief gehanteer …” ‘n Bietjie later twyfel hy oor die “certainties” wat Müller vind.

Maar net wanneer mens begin dink Jones se afstand is oordadig, doen hy die onverwagte. Hy haal ‘n klomp kwessies by wyse van vrae op – en omdat dit nie duidelik is of dié vrae van Müller afkomstig is of van homself nie, moet ‘n mens aanneem dat die resensent hom volkome met die skrywer se standpunte vereenselwig.

Jones analiseer daarna die huidige situasie (“In die tyd waarin ons leef …”, “Die Afrikaanse teologie staan voor ‘n groot uitdaging …”). Is hy nog besig om Müller se woorde te parafraseer of neem hy weer afstand ten einde die resensie met ‘n beoordeling te kan afsluit? Dis nie duidelik nie, en daarom bewonder ek Jones vir die vernuf waarmee hy die bespreking tot sluiting bring.

By die herlees van die resensie val dit my op hoe argumenterend dit is, hoe netjies die oorgange tussen paragrawe, en hoe deeglik die resensent probeer het om nie bo die vuurmaakplekke van gewone koerantlesers te skryf nie – en nogtans nie gedaal het tot die vlak van teologiese babataal nie.

Dit wil gedoen wees!

Dieselfde kan gesê word van Helize van Vuuren se resensie van Die beginsel van stof, Breyten Breytenbach se nuwe digbundel (LitNet). ‘n Siniese persoon sal moontlik sê dat mens net substansieel kan reageer op ‘n digbundel wat self iets om die lyf het, maar Van Vuuren se bespreking vind ek so bevredigend omdat sy die dinge raaksien wat ander resensente raaksien, en dan nog soveel meer.

Haar opmerkings oor Breytenbach se “gesprek” met sy voorgangers in ander tale is reeds genoeg om heelwat proefskrifte te lanseer.

Wat ek nou graag sal wil weet (en ek noem dit omdat ek weet daar is geen antwoord op hierdie vraag nie) is hoeveel mense Van Vuuren se resensie gelees het en hoeveel Jones s’n.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.