by

‘n Hoender van ‘n ander veer

April 19, 2011 in Sonder kategorie

Groot soos die versoeking ook mag wees, kan ek nie ‘n hele blog afstaan aan die enigmatiese Hannelore F. Bekokstoker wat pasende naweek in BY soveel pret gemaak het met ‘n resep vir ‘n hoendergereg nie. Ek weet, ek weet, daar is mense wat sê hulle verstaan dit nie. Dis seker dieselfde mense wat nie Die raklewe van Anastasia W verstaan het nie. Maar dit gaan ons nie aan nie.

Wat wel genoem kan word, is dat Hannelore se missief, so pragtig gerig aan “Meneer die Koerantbaas”, oor maniere waarop geld ingesamel kan word om die boekredakteur-dilemma te bowe te kom, en dan nog wat, so ‘n bietjie deur tyd ingehaal is.

Die “Meneer die Koerantbaas” kan mens seker identifiseer as mnr. Francois Groepe, hoof van Media24 toe die besluit geneem is om die oggendblaaie se boekeblaaie onder een redakteur te plaas. Ongelukkig vir Hannelore hoor die goegemeente toe pas die dag voor BY se verskyning dat mnr. Groepe hom tot die opvoedkundige uitgewerswese wend, en dat sy plek as hoof van Media24 gevul word deur me. Esmaré Weideman.

Me. Weideman is seker die beste bekend vir haar onderonsies, in haar hoedanigheid as redakteur van Huisgenoot, met sangers met uiteenlopende agtergronde, Steve Hofmeyr en Jurie Els. Met haar as vaandeldraer het Huisgenoot Skouspel die Afrikaner se eie Bayreuth geword.

Wat nie oral in die boekbedryf bekend is nie, soos Charles Malan onlangs uitgevind het, is dat Huisgenoot ook die tuiste is van ‘n besonder goeie boekebylaag. Hierdie bylaag het tot stand gekom onder die wakende oog van me. Weideman, en met me. Elna van der Merwe as redakteur.

Danksy dié bylaag kan Huisgenoot daarop aanspraak maak dat van alle Afrikaanse boekeblaaie hulle die wydste Afrikaanse leespubliek bedien.

Me. Weideman voel waarskynlik heelwat anders as mnr. Groepe oor boekeblaaie en die redakteurs daarvan. Boonop is die redakteur van die nuwe eenvormige boekeblad me. Elmari Rautenbach, met wie me. Weideman baie nou saamgewerk het die afgelope jare.

Hier is ‘n ander hegemonie aan die kom, broers, dit moet julle weet!

Maar terug na Huisgenoot se boekebylaag. Die vernaamste rede hoekom dit tot my spreek, is omdat dit die beste voorbeeld bevat van skryfstyl wat gerig is op die publikasie se lesers. Ek het al in die verlede hieroor gesanik: Boekeredakteurs dra nie genoeg sorg dat hul resensente op ‘n manier skryf wat sal inpas by die koerant se algemene aanbod nie.

In Huisgenoot se boekebylaag kan mens sien hoe dit gedoen kan word sonder dat daar ‘n verlies aan substansie is. Al Hannelore se trilletjies sal hierdie resensies kan lees en verryk weggaan.

In die jongste uitgawe plaas me. Van der Merwe agt boekresensies. Ronel Scheffer bespreek Welma Odendaal se Vreemdeling, Jacolette Kloppers skryf oor Esta Steyn se Droomdelwers, Edna Isaacs skryf oor Die mooiste sprokies van Grimm, Willem Möller bespreek Jonny Seinberg se Little Liberia, Pieter van Zyl het dit oor Hanlie Retief gesels met, Glynis O’Hara skryf oor Alexander McCall-Smith se The Saturday Big Tent Wedding Party, Marelize Barnard bespreek Truida Heymann se Reis na binne en Sophie Wilhelm resenseer The Needlecraft Book.

My eerste reaksie is dat daar nog te veel Engelse publikasies is, waarvan een geen konneksie met Suid-Afrika het nie. Maar die resensies van Afrikaanse boeke is werklik vernuftig hanteer. Nie een van die resensente se name lui by my klokkies nie, maar hul besprekings vergelyk goed met dié wat in die oggendkoerante verskyn het.

Die rede hiervoor lê sekerlik by die publikasie en die formaat: die resensies moet bondig wees, en dadelik by die punt kom. Die resensente het nie die luukse van hul koerant-eweknieë nie, hulle kan nie ‘n lang, literêr verantwoorde aanloop neem en uiteindelik vergeet om te sê of hulle dink die boek is goed of swak nie.

Mens kan sekerlik hiervan aflei dat Me. Van der Merwe as redakteur meer as die oggendkoerante se boekeredakteurs ingryp om die materiaal te skaaf en te slyp tot Huisgenoot-styl, sou die resensente nie uit die staanspoor self aan haar eise voldoen nie. Sy verdien ‘n klop op die skouer vir dít wat sy hier vermag het.

Dié benadering het ongelukkig wel ‘n negatiewe sy – in die nuutste nommer is geen indringende, negatiewe resensies nie. Ek sal graag wil vasstel of dit ‘n deurlopende tendens is. ‘n Boekebylaag met net positiewe resensies gaan nie lank interessant bly nie.

Die goeie hand van die subredakteur is elders in die bylaag op te merk. Die onderhoude met skrywers (Helena Gunter en Helene de Kock) is insiggewend, subtantief en gekonsentreerd, terwyl die bladsye wat op voorgeskrewe literêre werke konsentreer, van baie hoë gehalte is.

As daar hoegenaamd van van ‘n grootste gemene deler sprake is in hierdie bylaag se benadering tot boeke, sê dit eintlik omgekeerd heelwat van die lesers se peil. Hannelore se nagmerrie waarin elke moontlike bevolkingsubkultuur sy eie hyglektuur kry, is nog nie naby aan ‘n werklikheid nie.

Nou kan mens net hoop dat Huisgenoot ‘n weeklikse verskynsel van die boekebylaag maak. Ons perde en ons leghorns kan mos nou kekkel en galop.

3 antwoorde op ‘n Hoender van ‘n ander veer

  1. omdar ek die Huisgenoot net eenmaal met elke blou maan koop, was ek nie bewus van hulle boekeblad wat nogal heel indrukwekkend klink

  2. KôKôK skyf:
    Hoe seker is jy daarvan, Crito, dat Bekokstoker in BY met “Meneer die Koerantbaas”” mnr. Groepe kón bedoel het? Binne ‘n hele hoenderhok maatskappye is een se hoof nie noodwendig die Koerantbaas (wat – volgens die gevleuelde outeur – ook kan aanbeveel dat “Naspers plus Media 24 Sjina toe” verskuif!) nie. Onthou, Rabelais was ondanks die Barokke gebruik daarvan ook ‘n fyn kenner van die woord.

  3. Ag nee moenie van my verwag om Die Snertgenoot te koop nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.