by

Goggas en ander dinge

April 12, 2011 in Sonder kategorie

By gebrek aan ‘n fassinerende resensie wat vandeesweek bo die ander uitstaan, ‘n paar kort opmerkings:

Goggagids, deur Erik Holm en Ansie Dippenaar-Schoeman (geresenseer deur Neels Jackson, Beeld)

Een baie interessante opmerking oor die menslike liggaam wat gasheer speel vir ‘n groot aantal myte. Sou ‘n baie boeiender resensie gewees het as Jackson vertel het wáár en wat hulle op ons lywe doen.

Visums by verstek, deur Joan Hambidge (geresenseer deur Neil Cochrane, Die Burger)

n Pragtige ontleding van hierdie bloemlesing. Ek wens net Cochrane wil die verskil tussen “weens” en “danksy” insien. Sien sy opmerking oor Hambidge se gedigte oor New York. Kan emosionale skerpte en strenger dissipline ‘n negatiewe oorsaak wees hoekom sekere gedigte as die beste in hierdie versameling beskou moet word? 

Wat die oog gesien het, deur Christine Barkhuizen-le Roux (geresenseer deur Erika de Beer, Beeld)

Die vraag wat by ‘n mens opkom wanneer jy ‘n resensie soos hierdie lees, is hoe ‘n bundel met soveel gebreke as wat De Beer identifiseer by publikasie uitgekom het. Word manuskripte nie meer gekeur nie?

Toorwoorde roep my, deur Valiant Swart (geresenseer deur Andries Bezuidenhout)

Bezuidenhout haal Danie Marais goedkeurend aan oor Valiant Swart se lirieke wat goed genoeg is om in die Groot Verseboek opgeneem te word. Mens sou graag dié oordeel aan meer wil takseer as die enekele stukkies lirieke wat hy aanhaal. Mens aanvaar Marais en Bezuidenhout se oordele, maar jy wil darem ook stawende getuienis sien.

Biografie van ‘n bende, deur Annie Klopper (geresenseer deur Pieter Bezuidenhout)

Groot pret om hierdie resensie te vergelyk met dié oor Valiant Swart se boek. Andries Bezuidenhout soek na substansie en gehalte in lirieke, terwyl Redelinghuys vir Fokkofpolisiekar eerder as kulturele en vermaak-fenomeen beskou. Sy resensie konsentreer dan ook meer op die manier waarop Klopper se boek die groep se lede by hul bewonderaars uitbring. Krediet word aan een van die groep se lede, Wynand Myburgh, gegee vir sy bemarkingsvernuf – ongelukkig sê Redelinghuys nie of die boek ook verklap of die groep ‘n eie Svengali het nie.

2 antwoorde op Goggas en ander dinge

  1. Modigliani het gesê op April 12, 2011

    Ek lag nou heerlik vir die Goggagids opmerking 🙂
    Dit maak nogal sin dat hy by die “basics” sou hou… die wie, wat, waar, wanneer (ons het dit dan al op laerskool geleer?)

  2. jeanettef het gesê op April 14, 2011

    Wat Erika de Beer se oog nie gesien het nie, is dat “verbykom” kontreitaal is wat, soos so baie ander kontreitaal, uit ‘n Engelse frase ontstaan het.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.