by

Godsdiens en seksualiteit

Maart 29, 2011 in Sonder kategorie

Godsdiens is nie iets waarmee ek ‘n probleem het nie. Ek is gelukkig in my geloof. Boonop is ek gevestig in my seksuele uitlewing. Die ideale lewe sou een wees waar almal soos ek voel. Dan kan ons rustig, soos volwassenes betaam, met mekaar sit en oor godsdiens en seksualiteit gesels.

Maar die ideale lewe is ‘n droom.

In ‘n droomwêreld sou dit nie nodig gewees het vir boeke soos die Gaums se Praat verby grense om geskryf te word nie. Dit sou nie vir Pieter Cilliers nodig gewees het om ‘n Kas is vir klere op te volg met Soeker nie.

Die kern van die saak is dié van blinde vooroordeel teen gays by ‘n groot deel van die kerkgemeenskap. Ondanks die moed wat gays geskep het uit die publikasie van ‘n Kas is vir klere destyds, en die werk van Koos Prinsloo voor hom, veral Die hemel help ons, het daar wesentlik nie veel verander nie.

In Suid-Afrika is die grondwet nog aan die gays se kant, as mens dit só kan stel. Kyk jy na wat in die praktyk gebeur, veral met die bykomende vooroordeel teen gays uit groot dele van die swart gemeenskap, is dit duidelik dat die stryd op alle fronte beslis nie gewone is nie.

André Bartlett se resensie van Soeker in Beeld is ‘n baie mooi, begrypende en vir my oortuigende bespreking. Tog voel ek ook dat hy nie die regte argument uitlig nie.

Hoe so?

Soos Bartlett in sy resensie opmerk, is Cilliers nie daarvan oortuig dat al die prosesse en gespreke wat in die vaarwater van ‘n Kas is vir klere gekom het, op die lange duur veel opgelewer het nie. Die kerklike pastoraat is steeds daarop gerig om die gay te verander, en sekere kerkbesluite oor die hantering van gays in gemeentes is lafhartig.

Die vraag is dan mos of Soeker, wat ‘n bygewerkte heruitgawe van ‘n Kas is vir klere is, nie ook in ‘n groot mate tydmors gaan wees nie. Vir sommige lesers sal dit, soos Bartlett ook sê, die bevrydende waarheid oopvlek. Diegene wat die eerste uitgawe gelees het, sal weer gekonfronteer word met “die kompleksiteit van die proses om diepgesetelde oortuigings en vooroordele te verander”.

Bartlett, wat leraar van die NG kerk se Aasvoëlkop-gemeente is, sê hiervan dat daar heelwat getuienis is wat op die teendeel van Cilliers se negatiewe opvattings dui. Dit is duidelik dat Bartlett begrip het vir Cilliers se dilemma en hom sonder enige vooroordeel aanvaar – maar vir elke André Bartlett is daar iemand wat Levitikus plunder vir Bybelse verdoemensgronde teen gays.

Dit is egter vir my nie die argument wat Praat verby grense, ‘n Kas is vir klere en Soektog onderlê nie. Waaroor dit vir my gaan, is die behoefte van gelowiges om deur hul mede-gelowiges gerespekteer te word. Seksualiteit en geloof is die aanvaarde gegewes. Daar kan ander wees ook: misdaad, politiek, ras.

Die denkfout wat in hierdie proses begaan word, is dié dat die gevestigde kerke die enigste verband is waarbinne ‘n mens jou geloof kan uitlewe.

Mense met vooroordele sal altyd met ons wees, nes die onnoseles. Terblanche Jordaan het al gewys hoe dit moontlik is om die gevestigde kerkverband te verlaat en ‘n gemeente van enersgelowiges te vind. Die mense met vooroordeel agter te laat, te vergeet van hulle.

Is dit nie tyd vir mense soos Pieter Cilliers om die proses op sy kop te keer nie? Om te vergeet van ‘n sendingpligtigheid jeens mense met vooroordele? In plaas van boeke te skryf oor die verwerping wat hy ervaar het, ‘n boek te skryf of ‘n proses aan die gang te sit om die mense wat hy respekteer en wat hom respekteer, in ‘n nuwe kerkverband bymekaar te bring?

Iewers moet mens die streep trek! Die gemeenskap van gelowiges is veel groter as die Afrikaanse susterskerke.

3 antwoorde op Godsdiens en seksualiteit

  1. Neander het gesê op Maart 29, 2011

    Ek dink jy verwar seksualiteit met seksuele oriëntering.

  2. Neffertiti het gesê op Maart 29, 2011

    Wat van seksuele seleksie?

  3. maaifoerie het gesê op April 3, 2011

    Crito, skryf asseblief ‘n slag oor Rapport se boekebylae wat die eerste Sondag van elke maand verskyn. Dit is vir my ‘n skreiende skande dat hulle bitterbittermin artikels en resensies oor Afrikaanse boeke plaas. Dit bestaan altyd 90% uit artikels oor oorsese boeke en skrywers. Dis regtig goor.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.