by

Te veel opwinding

Januarie 18, 2011 in Sonder kategorie

Die linkerhand weet skynbaar nie by koerante wat die regterhand doen nie.

Pas afgelope Saterdag kon ons in By lees wat skryf Carla van der Spuy oor die chemiese en hormonale dinge wat verliefdheid onderlê. Sy gee ‘n lang lys web-verwysings, maar niks na die boek wat al sedert Oktober verlede jaar in Afrikaans presies hierdie onderwerp en heelwat eenvoudiger Afrikaans as hare uiteensit nie.

En Maandag bespreek Johanna van Eeden daardie boek in Beeld: Kan ek maar aan jou selluliet vat? van André le Roux.

Mens sou sekerlik kon aflei dat Carla van der Spuy nie Afrikaanse boeke lees nie, of dat nie alle Beeld-medewerkers ewe goed ingelig is nie. Maar Johanna van eeden hét gelees.

Van Eeden se bespreking vloei uit haar metaforiese aanpak: die lees van ‘n boek is vir haar soos ‘n verhouding. Skynbaar het die lees-seratonien en –dopamien eers teen hoofstuk drie of vier by haar ingeskop en daarna toor Le Roux met haar. Maar soos ‘n oordentlike Afrikaanse meisie protesteer sy vreeslik en is skaam-kwaad vir ‘n vale terwyl die dopamien-trip haar in lekkerlees-gloede laat uitslaan.

Een stukkie spyker slaan sy wel op die kop: Dis ‘n misleidende titel vir ‘n boek en die subtitel is baie nader aan die waarheid: “Hoe mans se koppe werk (indien wel)”

Interessant ook dat die resensie met fris paragrawe begin, net om driekwartpad deur oor te gaan in eensin-opmerkings.

Dalk het die opwinding té veel vir Van Eeden geword.

***

Retoriese vrae smeek om beantwoord te word. Jeanette Ferreira (Die Burger) vergelyk twee boeke (Piet Steyn se Tou, Pieter Aspe se Die vierkant van wraak), en merk ten slotte op dat Afrikaanse uitgewers voortaan meer uitsoekerig gaan wees wanneer dit kom by vertaalde misdaadfiksie soos Aspe s’n.

“En dit is darem goeie nuus – of hoe?” vra sy.

“Nie vir Daniel Hugo nie,” is ‘n moontlike antwoord. Hugo het Aspe se roman uit Nederlands vertaal.

Dis ‘n interessante resensie, dié. Ferreira vind voortreflikhede in haar vergelykende studie, maar wat vir my veel meer beteken is die manier waarop sy vir die uitgewers sê dat hulle drooggemaak het met die redigering, en die wyse waarop sy les bes ook ‘n standpunt inneem ten gunste van die plaaslike produk eerder as die vertaalde produk.

Dit is nogal iets wat mens verwonderd laat – is daar só min plaaslike misdaadskrywers dat ons nou uit die lae lande moet romans invoer?

***

Dit is verrassend om in Marthinus Beukes se resensie van Lina Spies se Tydelose gety (Rapport) te lees dat daar sprake van liefde, die ouerwordende liggaam en die dood in haar jongste verse is.

***

Marius Crous (Die Burger) en Neil Cochrane (Beeld) het dit oor Mari Grobler se digbundel Toe dit nog vroeg was.

Cochrane trap in die slaggat om aan die Khoi en San te dink as één (“Khoi-San”), met ‘n vreemde en “kultuurspesifieke aard”, maar Crous waag geen kans nie en praat strykdeur van die Khoi-verwysingsveld in hierdie digbundel. (Op sy webwerf is die uitgewer self vaag daaroor – was die Khoi en die San albei aan ons Suidkus?)

Wat mens van albei resensies opval, is dat hulle sterk positief is en nogtans nooit werklik geesdriftig is in hul betoog nie.

Crous sluit skielik af met “Dit is gestroopte, gevoelige verse oor ‘n mitiese tyd”

(mities, hè?) en Cochrane sê erg besadig dis ‘n bundel “waarvan Afrikaanse poësieliefhebbers kennis behoort te neem”.

As mens ‘n toon aan albei kan toeskruif, is dit die fluistertoon.

1 antwoord op Te veel opwinding

  1. Crito, ons het nou n deeglike handvol misdaadskrywers, en goeies ook. EK stem saam dat hiedie een van Pieter Aspe nie noodwendig die beste keuse was nie- maar dit was wrintiewaar ook nie veel vrotter as Tou nie. Die groot probleem, selfs met die groeiende getal misdaadskrywers? Demand always outstrips supply. Dit neem Deon Meyer om en by 18-20 maande om n nuwe boek op die rakke te kry (daardie powere versameling kortverhale uitgesluit)- en vir my is dit skaars 3 ure se vermaak.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.