by

‘n Nuwe hebried en vooroordele

September 28, 2010 in Sonder kategorie

Dis ‘n nuwe hebried wat Rapport Boeke aanbied oor Dan Sleigh se Afstande – iewers tussen artikel en resensie. Die skrywer is Francois Verster, Naspers se argivaris, vir my ‘n nuwe naam is op die resensiefront. Dis ‘n aangename kennismaking.

Mens kan die mate waarin hy ‘n artikel geskryf het, takseer aan die feit dat hy nie eens die boek se uitgewer of ander besonderhede verskaf nie. Daarby haal hy fluks aan uit dit wat Petra Muller by die boek se bekendstelling gesê het, asook dinge wat Sleigh self oor die boek gesê het. Normaalweg is dit oorwegings wat nie in ‘n resensie geld nie – die resensent se eie mening en siening is wat saak maak.

Maar sy artikel wil ook resensie wees – hy gee ‘n oorsig van die inhoud, en pak uiteindelik die relevansie van die werk vir die leser uit. Verster was sekerlik bewus daarvan dat koerantlesers sal wil weet, in hierdie tye van politieke realisme en die skemertyd van engagé literatuur, wat op aarde hulle gaan wen by die lees van ‘n roman oor die tydsgleuf tussen die Ou en Nuwe Testament.

Dit gaan vir Verster in hierdie roman oor die mensdom se gesamentlike ontwikkelingstog – of mens gereed is om dit te erken of nie, daardie deel van elkeen se bouwerk wat terugstrek na tallose geslagte terug.

Mens sou feitlik alle menslike geskiedkundige ver-beelding (verskoon die Brinkiaans!) op hierdie manier kan beskou, maar vir die oomblik kan mens Verster die voordeel van die twyfel gee.

***

Sonja Loots se resensie van dieselfde werk (op LitNet) het die moontlikheid gehad om iets substansieels te wees, maar is uiteindelik ‘n verspeelde kans. ‘n Reusagtig verspeelde kans.

Loots bevind haar in die wonderlike posisie dat sy die Anabasis, die vertelling deur die soldaat Xenophon oor gebeurde van vier eeue voor Christus, en waarop Dan Sleigh sy roman grond, reeds gelees het en duidelik baie goed ken.

Haar slotsom, halfpad deur die resensie geformuleer, is dat Afstande “baie vleis aan die been” het, maar dat die murg weggekook is. Hóé en hoekom die murg weggekook het, verklaar sy egter nie in detail nie.

Ek vermoed dat Loots se resensie moontlik baie lesers van die boek nog sal help om die agtergrond te ontsluit – maar dit sou soveel meer kon gewees het. Wat my uit die staanspoor gehinder het, is die tekens wat sy gee dat sy die boek met ‘n negatiewe gevoel benader het. Die lengte, die lengte … Dit laat haar in ‘n stadium selfs terugdink aan die tome wat sy op skool moes deurworstel. “Gaap” – die ultieme adolesente oppervlakkige reaksie.

As ‘n resensent ‘n sielkundige blokkasie het teen lang leeswerk, dan weet die resensent tog sekerlik dat hy/sy dit moet vermy. As mens nie so ‘n blokkasie het nie, en jy vind ‘n stuk leeswerk dan lank en vervelig en uiteindelik sonder genoegsame betekenis, sal jou opmerkings daaroor wel baie geldig wees. Die manier waarop Loots die aap uit die mou gelaat het oor haar probleme met dik boeke maak juis hierdie beswaar van haar minder geldig. ‘n Resensent behoort gevat genoeg te wees om nie sy/haar vooroordele te verklaar nie.

Loots kom wel uit by die dinge wat ‘n mens verwag van ‘n resensent wat reeds die Anabasis gelees het, maar sou dit nie wonderlik gewees het as sy haar analise van Afstande kon uitbrei en dit in meer diepte bespreek het nie! Sy moes uitgebrei het op haar opmerking oor Sleigh se gebrekkige karakterbeelding, sy kon haar uiteensettings in haar laaste drie paragrawe substansieel uitgebrei het deur by wyse van vergelyking te vertel wat in Afstande gebeur en hoe dit afsteek by die bron.

Sy sou gewen het aan inhoud as sy slegs Dan Sleigh se opmerking, wat sy aanhaal,  “Afstande is bedoel as iets nuuts. Vreemd van inhoud, tyd en plek,” analiseer het aan die hand van die roman en die vergelyking daarvan met sy bron.

 

Dit deug nie om Francois Verster se koerantmatige artikel/resensie met Loots se resensie te vergelyk nie. Hulle het verskillende lesers in gedagte. Wat ek wel kan sê, is dat mens nie by Verster dieselfde indringende delwery verwag as by Loots nie.

 

En daarom stel Loots mens teleur. Sy skiet haarself in die voet deur uit die staanspoor haar blokkasie te verklaar, en dan nie die kennis en insig wat sy het van die Anabasis te benut om Afstande te analiseer nie.

***

Terug na Rapport Boeke, waar twee resensente, Cas Vos en Marthinus Basson, twee besonder goeie resensies lewer van onderskeidelik Martina Klopper se Nadoodse ondersoek en Tom Gouws se Ligloop. Die twee besprekings word saam aangebied.

Op Rapport se webwerf, waar ek hulle gelees het, het daar vermoedelik van die inligting wat op die gedrukte bladsye van die koerant was, weggeval. Inligting soos wie die uitgewers is en wie Beukes is (Vos word wel bekendgestel as synde ‘n digter).

Daarbenewens het die redaksie ‘n skakelparagraaf geskep vir Beukes se resensie, en ‘n opmerking gebruik wat hy laat in sy resensie maak. Vir die leser is dit uiters hinderlik, omdat dit ‘n taamlike negatiewe toon het en eintlik glad nie die res van die resensie reflekteer nie.

Mens moet seker maar net die kop skud. As ‘n koerant dan soveel moeite doen om baie knap resensies te kry, hoekom hulle vir die lesers bederf? Ek besef koerante is in’n oorlewingstryd en ag hul papier-uitgawes hoër as hul internet-uitgawes. Sulke argelose omgaan met inhoud noop mens allermins om die papier-uitgawe te gaan koop.

***

Een van die vreemdste verskynsels wat mens opmerk wanneer jy kyk na watse soorte boeke in Afrikaans gepubliseer word (godsdienstige boeke buite rekening gelaat), is hoe baie digbundels daar is en hoe realtief min kortverhaalbundels.

Ek wens die uitgewers wil vir ons uitspel hoekom dit só is – is daar werklik meer digters as verhaalskrywers in ons land? Of is dit so omdat meer mense digbundels koop as kortverhaalbundels? En hoekom is daar so bitter min dramas – is dit omdat daar so min Afrikaanse teater is?

Nietemin, op Die Burger se Boekeblad het daar vandeesweek ‘n omvattende, deeglike resensie verskyn, deur Louise Viljoen, van ‘n debuutbundel kortverhale: Maal, deur Nicole Jaekel Strauss.

Oor Viljoen se resensie wil ek eintlik nie veel sê nie – dit is op haar kenmerkend hoë peil. Wat wel genoem moet word, gedagtend nou aan Sonja Loots se bespreking van Afstande, is hoe uiters seldsaam dit is dat mens by Viljoen opmerkings sal vind oor hoe sy as mens nou eintlik voel. Ek kan my nie herinner aan ‘n enkele keer wat sy ‘n vooroordeel gesinjaleer het nie.

Nou kan mens seker toegee dat dit juis haar verbete fokus op die boek onder bespreking is wat haar akademiese aanslag vir ‘n koerantleser ietwat dor maak. Die feit van die saak is egter dat haar resensie van Maal mens se aandag end-uit boei en nie werklik dor leesstof is nie – dit is koerantmatig genoeg geskryf.

Dit is die soort bespreking wat mens uitknip en voor in jou eksemplaar van Maal bewaar – die eerste taksering van ‘n bundel, en waarskynlik die taksering wat in die toekoms die swaarste gewig oor die bundel sal dra.

***

Fanie Olivier bespreek in dieselfde koerant Andries Bezuidenhout se Toeris in Hillbrow. Die toonaard van die resensie is gedemp (soos in teenstelling met ekstaties) dog uiteindelik baie positief.

Iets wil egter vir my wysmaak dat Olivier se aandag nie volledig by die resensie was nie. Hy is ‘n digter van formaat en daarom vermoedelik iemand wat swak skryfstyl onmiddelik sal raaksien. Hy het sekerlik nie die moeite gedoen om hierdie paragraaf van hom weer ‘n slag te lees nie: “Net hier en daar is die slotsom werklik verrassend: Ek dink byvoorbeeld dadelik aan die verrassende einde van ‘Hoe om ’n land te verlaat’ …”

***

Erika de Beer bespreek in Beeld dieselfde bundel van Nicole Jaekel Strauss as wat Louise Viljoen in Die Burger doen.

De Beer se resensie is duidelik met goeie aanvoeling vir die koerantleser se behoeftes geskryf: kort paragrawe, iets oor inhoud, iets oor trefkrag, hoogtepunte geïdentifiseer, en ‘n slotsom wat mens laat vermoed dat die resensent effe ongemaklik voel met die uiteindes van sommige van die vertellings.

Maak laasgenoemde persoonlike reaksie saak – gedagtend aan die Loots-resensie (hierbo)?  Sekerlik! De Beer se hele aanpak is een waardeur sy bruisende geesdrif oordra vir die bundel as geheel, maar ‘n vooroordeel is tog implisiet in haar slotoordeel dat sommige verhale ‘n vrank smaak in die mond laat. Kyk mens terug in haar resensie, besef jy dat De Beer smag na gelukkige eindes, en die feit dat Strauss dit nie gee nie, is verantwoordelik vir die vrank smaak.

Hoekom anders jou lesers dan waarsku oor die vrank smaak? Is dit omdat die resensent voorsiening maak daarvoor dat daar mense mag wees wat nie met haar saamstem nie?

Net De Beer sal weet.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.