by

Aucamp oor Krige en Aucamp

September 21, 2010 in Sonder kategorie

Resensies oor nuwe Afrikaanse publikasies is maar skraps vandeesweek. Beeld spog met een oor ‘n boek oor Mathys Roets. Volksblad het, te oordeel na hul webblad, geen boekeblad die afgelope week gehad nie. In Die Burger is daar ‘n bespreking van ‘n heruitgawe van twee ou Philip de Vos-boeke, en een oor ‘n nuwe publikasie van Uys Krige se briewe uit Frankryk en Spanje.

Laasgenoemde is geskryf deur Hennie Aucamp.

Ek het dié resensie talle kere herlees die afgelope dag, en al hoe sterker begin voel dat dit een van daardie kuriositeite is wat mens moet uitsny en in ‘n plakboek bewaar.

Om mee te begin is daar kwalik ‘n meer bekwame mens as Aucamp om ‘n boek soos Briewe van Uys krige uit Frankryk en Spanje te bespreek en aan te toon presies wat mens daaruit kan put wat jou kennis van Krige as mens én skrywer sal verbreed.

Dit is ook ‘n resensie wat mens telkens meer van Aucamp vertel as van Krige – so al asof dit geskryf is met die bykomende doel dat dit eendag gebundel sal word in ‘n bloemlesing van soortgelyke skryfwerk deur Hennie Aucamp.

Soms lewer dit groot koddighede op: “Ek stem nog volkome saam met myself wanneer dit by uitsprake oor die leerjongenskap van Krige kom …” Dit is werklik belangrik om dit te weet, net jammer dat ons nie weet waar en wanneer hy hom voorheen oor die leerjongenskap van Uys Krige uitgelaat het nie. Sal maar moet wag vir die Aucamp-bloemlesing.

Later in die resensie, wanneer hy skryf oor die politieke integriteit van Uys Krige, sê hy: “Ek waardeer nog altyd die poësie in Die dieper reg van N.P. van Wyk Louw, maar kan my nie meer met die ideologie van dié Nasionale geleentheidstuk vereenselwig nie.”

Ek wens só dat hy nie daardie “meer” gebruik het nie!

***

Jonathan Frantzen se nuwe roman, Freedom, word só hoog aangeslaan deur Amerikaanse akademici, uitgewers en skrywers dat dit reeds bestempel word as die “groot Amerikaanse roman”. Die New York Times plaas die finale stempel van goedkeuring en loftuiting daarop deur die redakteur van hul boekeblaaie, Sam Tananhaus, die resensie self te laat behartig. Hy bestempel dit as ‘n meesterstuk.

In Rapport skryf Paul Cilliers oor dieselfde boek en sê dit is vir hom die teleurstelling van die eeu. Cilliers is ‘n hoogleraar in filosofie aan die Universiteit van Stelenbosch.

Sit Cilliers die pot mis? Of mislei Tanenhaus ons? Ek glo nie antwoord op enige van die twee vrae is bevestigend nie. Dit is vir my ‘n kwessie van perspektief. As jy in Amerika sit, die samelewing ken sover dit moontlik is, sal jou siening van wat die groot Amerikaanse roman is, aansienlik anders wees as dié van iemand wat jou samelewing van buite bekyk.

Cilliers sou sekerlik anders na Afrikaanse romans kyk as Tanenhaus, as hy Afrikaans magtig was. En dit is wat ek eintlik op afstuur: Hoekom gebruik Afrikaanse dagblaaie en die een Sondagkoerant nie vir Cilliers meer om oor Afrikaanse boeke te skryf nie?

Ek sou wat wou gee om te hoor wat hy oor die Winterbachs (Ingrid en Dirk) se werk sê, of wat hy dink van Marlene van Niekerk of Dan Sleigh se boeke. Ons sit met ‘n besonderse resensent in ons midde, maar hy skryf nie oor Afrikaanse publikasies nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.