by

Welkom, Cilliers van der Berg

September 15, 2010 in Sonder kategorie

Wie is Cilliers van der Berg?

Volksblad dui soms by boekresensies aan wat die resensent se nering of status is, maar by Van der Berg se bespreking van Jeanne Goosen se Plante kan praat is dit weggelaat.

Die rede hoekom ek vra: Dit is sonder twyfel een van die beste Afrikaanse boekresensies wat nog vanjaar gepubliseer is. As dit nie was dat rugbyskrywers die woord “skitterend” deur misbruik van alle semantiese krag gestroop het nie, sou mens dit graag aan hierdie resensie wou koppel.

Hy skryf sonder die emosionele reaksie wat Riëtte Rust en Joan Hambidge se besprekings van dieselfde bundel gekenmerk het. Sy aanpak is direk en eenvoudig, sonder die dofsware lading van ‘n akademiese benadering – en tog sou mens sy resensie kon tipeer as een wat duidelik uit ‘n akademiese sfeer kom.

Waar hy wel van die gebruiklike patroon van Afrikaanse “akademiese” resensies wegbeweeg, is wanneer hy nie ‘n aftellysie gee van verhale wat goed is, verhale wat net gelees kan word, en verhale wat swak is nie (en met die gebruiklike tematiese analise daaraan gekoppel).

Sy opsomming van die bundel is eerlik en reguit: “Die verhale is nie almal van gelyke gehalte nie en sal oor die algemeen dus nie ná ’n herlees noodwendig opnuut ontsluit kan word nie.” Het ‘n mens nodig om enigsins meer te sê in ‘n koerantbespreking? Beslis nie.

Wat leer die koerantleser uit só ‘n bespreking? Van der Berg se boodskap kan nie verkeerd geïnterpreteer word nie: As jy voorheen van Goosen gehou het, sal jy nou weer, moet net niks nuuts verwag nie.

As ek die opskrif van die resensie mag eggo: Eenvoud laat Van der Berg-resensie uitstaan.

***

Die gebroeders Gaum se Praat verby grense is in Beeld bespreek deur Riëtte Grobler. Sy voel nie, soos Jan Lubbe in sy Volksblad-resensie, ‘n groot element van gemaaktheid in die e-pos gesprek tussen vader en seun aan nie. Sy het wel waardering vir die feit dat daar só ‘n gesprek plaasvind, al bring dit nie “klinkklare oplossings vir vraagstukke waarmee die kerk, sy leraars, lidmate én diegene wat verstote voel, worstel nie”.

Sy sou wel kon gevra het of hulle die regte vraagstukke beet het. As jy aanvaar dat homoseksualiteit is, dan is al vraagstuk wat oorbly dié van hoekom die kerk en sy mense probleme daarmee het. Ek neem aan dis op ‘n manier wat Praat verby grense behels.

Daarom dat die aanhaling wat Grobler gee van iets wat Gaum Sr skryf só bemoedigend is: “God [kan] nie vasgevang word in ons definisies en dogmas nie.” Dit is die woorde van iemand wat reeds ‘n enorme stap gegee het weg van mensgemaakte edik.

Dankie, Douw Wessels …

***

Sarel van der Walt bespreek Christiaan Bakkes se Stoffel in Afrika in Beeld. Dit is ‘n resensie wat ‘n goeie sub-redakteur nodig gehad het.

Dit deug om mense te prikkel met ‘n relaas van een van die aangrypende vertellings in die boek, maar daarna herhaal Van der Walt die soort inligting oor Bakkes wat mens al tot satwordens toe gelees het in resensies oor sy vorige publikasies.

En om mee af te sluit haal Van der Walt ruim aan uit ‘n onderhoud wat op LitNet met Bakkes verskyn het, oënskynlik met die doel om Bakkes se woorde oor die Blou Bulle aan te haal. Goed en wel, maar dit laat mens wonder oor presies wat Van der Walt voel.

Te veel bladvulling, te min oorspronklike siening.

***

Thys Human en Louise Viljoen se besprekings elders van Die begunstigde van Dirk Winterbach word in Beeld opgevolg met Marius Crous se bespreking van dié boek. Dit raak vir my al hoe meer interessant presies hóé resensente op hierdie roman reageer.

Crous doen wat Human en Viljoen vermy het om te doen (die boek in verband te bring met Etienne Leroux), maar sy gevolgtrekkings stem ooreen met dié van Human en Viljoen.

Net op een plek lok Crous ‘n glimlag uit. Wanneer hy vra, “O ja, en hoekom die redakteur agterop dit beskryf as ’n ‘verbluffende sielkundige riller’, begryp ek nie te lekker nie” besef mens dat selfs van die beste resensente nie altyd die vermoë het om buite die kassie van die cliché te dink nie.

 

***

Ek was nuuskierig om te sien wat Afrikaanse resensente maak van John Clare se Captured in Time – Five Centuries of South African Writing. Tot dusver het Joan Hambidge (Rapport) en Chris van der Merwe (Die Burger) daaroor geskryf.

Hambidge se resensie het nie baie om die lyf nie, maar Van der Merwe het gelukkig ‘n meer kritiese benadering. Hy sien die problematiese subjektiwiteit van die samesteller raak en merk dan ook op dat dit jammer is dat John Clare slegs gebruik gemaak het van tekste wat in Engels beskikbaar is.

Maar enige kritiese leser sal die massiewe leemtes in Clare se betoog dadelik raaksien: Geen A.C. Jordan, R.R.R. Dhlomo, Breyten Breytenbach, L.H. Meurant, Benedict Vilakazi en vele, vele meer nie. Hoe deeglik is ‘n “literêre geskiedskrywing” as dit nie draaie maak by A Season in Paradise, Ingqumbo Yeminyanya of An African Tragedy nie? Nie een van die twee resensente het dit genoem nie.

Sal maar moet wag om te sien wie volgende oor die boek skryf.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.