by

Iets om na uit te sien

September 7, 2010 in Sonder kategorie

Miskien moet ek dit nie te hardop sê nie, maar ek begin nou uitsien na Jeanette Ferreira se resensies. Dit is bedrieglik eenvoudig geskryf, soos nou weer haar bespreking van Riana Mouton se Spoorloos in Die Burger – maar daar is besonder skerp kritiek binne daardie eenvoud en die getroffenes sal sekerlik weet wie hulle is weens daardie hol gevoel wat hul kroppe getref het by die lees van die resensie.

My vermoede is dat Ferreira uit die staanspoor besluit het dat een van die funksies van ‘n resensie oor ‘n speurverhaal dié is van die verhaal beknop saamvat sodat koerantlesers kan besluit of die gegewe hulle boei. Sy gee aan die einde van die samevatting genoeg van ‘n prikkel om die koerantleser sy keuse te kan laat maak, sonder om die kat heeltemal uit die sak te laat.

Daarna kom haar kritiek, soms ietwat ellipties aangebied, maar nogtans helder.

Ferreira kritiseer die uitgewer vir die onwaarheid wat op die flapteks verkondig word (Riana Mouton word voorgehou as die eerste Suid-Afrikaanse speurverhaalskrywer, terwyl dié eer Eleanor Baker toekom).

Sy tree ook in gesprek met ander kritici deur pront te sê dat dit oormoedig van ‘n resensent sal wees om Spoorloos as uitmuntend te bestempel.  Haar opmerking kan ook slaan op die reklameteks wat die uitgewer vir die boek geskep het, waarin Spoorloos bestempel word as “’n naelbyter van internasionale standaard”.

Ferreira ag die boek nie só hoog nie. Sy het waardering vir baie van die dinge wat Riana Mouton doen om haar verhaal spannend en verwikkeld aan te bied, en noem dit ook.

Haar waarskuwing aan sowel uitgewer as haar mede-kritici kan egter nie geïgnoreer word nie: Moenie met hiperboliese reklame en taksering verwagtinge skep wat die leser nie uiteindelik verwesenlik gaan kry nie.

Daarom dat ek haar slotparagraaf so skerp vind. Sy sê dat die boek toereikend sal wees vir mense wat wil ontspan met die boeiende ontrafeling van ‘n misterie.

Niks meer nie, niks minder nie.

***

Die boek is nou wel in Engels, maar ek wil tog melding maak van Wium van Zyl se resensie van Encounters with André P. Brink (saamgestel deur Karina Magdalena Szczurek) in Die Burger.

My agting vir Van Zyl is welbekend, en in hierdie resensie het hy weer iets gedoen wat die leser laat voel hy/sy is in veilige hande. Van Zyl vertel presies wat alles hy aan hierdie versameling voortreflik vind, en dan kom hy by ‘n punt waar hy besef dit sal nodig wees om te kontroleer wat verder gebeur het (dit handel oor ‘n verlies aan inkomste vir Brink weens sy uitgewer se dreigemente oor sy politieke dade).

Hy wend om dan tot Brink se memoirs, ‘n Vurk in die pad, en kry die nodige gerusstelling. Hoekom is dit belangrik? Omdat Brink se uitgewer van destyds, Koos Human nie werklik bekend was as ‘n sensuur-meeloper nie. Van Zyl sou nog verder kon gaan en verdere agtergrond in Human se Lewe met boeke gevind het, maar Brink se memoirs bevat genoeg om hom gerus te stel oor Brink én Human. Hy besef nietemin baie goed hoe bitter só ‘n betrekhou vir Brink moes gewees het.

***

Danila Liebenberg skryf deeglik en waarderend oor Andries Bezuidenhout se Toeris in Hillbrow (Beeld). ‘n Herlees van haar resensie, en ‘n terugkeer daarna ‘n paar uur later, en ek was steeds onderrompel daardeur. Sy sê al die regte dinge, maar op só ‘n bedeesde manier dat mens uiteindelik voel dat selfs ‘n uitroepteken aan die einde baie sou gedoen het om ware opgewondenheid te suggereer.

Maar ek is bevrees Jakob sal nog ‘n verdere sewe jaar vir Laban moet gaan dien voordat ek hierdie resensie gaan uitbring by die suiwer genot wat Bezuidenhout se bundel vir hierdie leser gegee het.

***

Mense met kinders op skool (of kleinkinders, laat ek nie nou die gryses misken nie) sal weet hoe sterk die “leuen van evolusie” deur sommige van ons land se pedagoë bestry word. Daar is ook heelwat onplesierigheid aan die gang tussen ouers wat hul kinders een ding leer en onderwysers wat die strydbyl teen die evolusionisme opneem.

Teen hierdie agtergrond is die verskyning van Willie Esterhuyse se Die God van Genesis sekerlik baie tydig. Tot tyd en wyl die boek by die boekwinkels uitkom (ja, ek het gesoek) is ‘n resensie soos dié van Johannes Wessels in Beeld ‘n werklik nuttige verwysingspunt.

Wessels stem met Esterhuyse saam, en sy resensie wys tekens dat hy weet hy gaan uit die oord van die anti-evolusionisme baie kritiek kry oor hierdie resensie. Trouens, dit voel vir hierdie leser asof Wessels hom doelbewus in toom gehou het, en ek vermoed dat hy taamlik sterk aangesteek het by Esterhuyse.

Dit is goed om te sê dat “mens wonder hoekom dié onkunde hoegenaamd nog bestaan”, met verwysing na anti-evolusioniste wat Genesis letterlik lees. Dit is goed om te noem van Esterhuyse se verduideliking van die kloof tussen wat dominees aan kweekskool leer en wat hulle preek.

Maar hoekom nie die verdere stap neem en reguit sê dat die moderne Afrikaanse leser nie van die skooldae af geleer is hoe om ironie te snap nie, hoe om humor te sien (veral wanneer daar geen kru taal gebruik word nie) in ‘n teks, hoe om allegorie en metafoor te erken en te dekodeer?

Hoe leer mens vir kinders (en volwassenes!) dat iets nie letterlik opgeneem moet word as  baie onderwysers en skoolhoofde nie in staat is om dit self te snap nie?

Kortom: Wessels se resensie is gaaf, maar hy was nog te veel in die ban van Esterhuyse om die groter konteks en die tekstuur daarvan ook onder die loep te neem in sy bespreking.

***

Danila Liebenberg moet miskien by Erika de Beer kers opsteek oor hoe mens geesdriftig kan klink oor ‘n bundel. De Beer kry volpunte vir die opgewondenheid wat straal uit haar bespreking van Annemarie van der Walt se Talisman teen troosteloosheid (Beeld), ‘n versameling van rubrieke wat in Beeld verskyn het.

Die enigste negatiewe opmerking wat sy maak handel oor die omslag, wat wel troosteloosheid oordra. De Beer, ‘n joernalis by Beeld, duld ook nie die klompie spelfoute en slordige redaksionele werk nie.

Maar verder is hierdie ‘n bruisende relaas van die wonderlikhede wat in die bundel aan te tref is, ‘n aftellysie van die “woordmusiek” wat De Beer daarin aantref.

Net helfte daarvan, Danila!

***

Ek is bevrees ek begin nou gewoond raak aan die patroonmatigheid van Stoffel Cilliers se resensies. Ek skat ek moet bekommerd raak daaroor. Ek weet nie waar kom die geduld vandaan waarmee ek nou lees deur ‘n saai bespreking soos dié wat hy van Chris Karsten se Abel se ontwaking in Volksblad gelewer het nie.

Maar lees het ek gelees, en sal graag in Stoffeliaanse styl my opregte waardering daarvoor wil uitspreek, om nie te praat van my hoed hoog lig nie, vir die wyse waarop Cilliers geen steen onaangeraak gelaat het nie.

Grappies op ‘n stokkie. ‘n Resensent wat belese genoeg is om waardering te hê vir “diepgaande karakterisering, oortuigende situasieskildering vanweë verrassende feitelike beskrywings, gemaklike natuurlike dialoog en heel dikwels, onverwagte wendinge” behoort ook sy resensie oor die kap te kan gooi van ‘n ontleding van hoe populêre skryfwerk soos hierdie ‘n nuwe faset van die Afrikaanse letterkunde word.

 

Chris Karsten is besig om onder die oë van resensente te gebeur en hulle sien dit nie raak nie.

 

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.