by

Die kuns van ‘n positiewe resensie

Julie 27, 2010 in Sonder kategorie

Dit is veel moeiliker om ‘n baie positiewe resensie te skryf as wat dit is om ‘n negatiewe een te lewer. As jy negatief oordeel, is dit maklik om dinge soos sarkasme, humor, ironie en goed verdoeselde beledigings te gebruik om te sê wat jy voel gesê moet word.

Maar daardie retoriese wapens is nie werklik tot jou beskikking wanneer jy die slag goed positief wil wees oor ‘n boek en sy skrywer nie. Nóú moet jy maniere vind om absoluut opreg te klink, om lesers te oortuig dat die boek ‘n groot indruk op jou gemaak het, dat dit vernuwend is binne sekere kontekste, dat dit literêr aan sekere standaarde voldoen, dat daar nie werklik negatiewe aspekte aan die publikase verbonde is nie.

Selfs wanneer jou resensie ‘n akademiese inslag het, stel dit hoë eise ten opsigte van motivering en die omseiling van blomryke formulerings.

Ek het reeds gewys op die twee maniere waarop Riette Rust en Joan Hambidge besluit het om hul resensies van Jeanne Goosen se Plante kan praat aan te pak. Toast Coetzer (in Beeld) het hom gewend tot ‘n kreatiewe oplossing vir die probleem.

Hy skets ‘n situasie waarin hy en sy vriendin na Johannesburg vlieg. Die resensie word dan ‘n verslag, aanvanklik, van hoe hy op die bundel reageer teenoor sy vriendin, maar dié inligting verminder namate hy sterker onder die indruk van die bundel kom en daaroor skryf.

Sy verslag is ‘n opregte reaksie op die dinge wat hierdie bundel van Goosen anders maak. Wanneer sy reis verby is, kontroleer hy iets wat sy vriendin oor Jeanette Winterston gesê het, wat hom dan voer na dieselfde opmerking waarop Hambidge in haar resensie se slot gesinspeel het: “Hulle noem my Jean”.

En wanneer hy dan sluit met ‘n enkele sin (“Dis ’n puik versameling hierdie, met stories wat jou gaan laat lag en huil, vinnig laat omblaai en soms lank, lank, laaaank op een bladsy gaan laat watertrap.”) dan klink elke woord daarin opreg, uit die hart uit. Ons leef in ‘n tyd waarin rugbyskrywers woorde soos “puik” besoedel deur dit met die spel van vrot slotte te verbind. Dit kos iemand soos Toast Coetzer om ‘n resensie te skryf waardeur hy daardie woord weer sy volle lading laat verwesenlik.

 

Joan Hambidge het in kort opeenvolging twee baie positiewe resensies in Volksblad gepubliseer – die een oor Judasoog – ‘n Keur uit die gedigte van Johann de Lange, en die ander oor Die honger reisiger – reisverhale met resepte van Marié Heese. 

Eersgenoemde is ‘n oortuigende betoog ten gunste van die bloemlesing waarin Hambidge die belangrikste kenmerke van De Lange se oeuvre belig aan die hand van wat ingesluit is. Dit is die soort resensie wat sy besonder knap kan hanteer en ‘n mens is daarvoor dankbaar.

Haar bespreking van Marié Heese se boek is weer een van haar swakstes nog. Ek vermoed dat as sy dit in die vorm van ‘n artikel of rubriek gegiet het, sy meer tyd sou spandeer het aan die plasing van skakels om paragrawe te verbind en ‘n betoog wat haar skryfwerk van voor tot agter sou bind en rig.

Maar nou is dit ‘n resensie en ofskoon dit positief is, kry mens uit die resensie die gevoel dat die resensent nie werklik slaags geraak het met dit wat sy gelees het nie. Die eerste ses paragrawe (met insluiting van ‘n aanhaling uit Uys Krige) is ‘n rubriekmatige aanloop, en dan versplinter haar aandag.

Die resensie bestaan van hier af (“Heese kan skryf ….”) uit paragrawe wat só selde met mekaar bind dat sy sonder vrees ‘n bietjie kon geskommel het daaraan en die volgorde verander het. Dit is blertse los gedagtes, diverse reaksies.

Van geen hulp vir die leser nie, want die persoon Hambidge kom staan tussen jou en die boek. Al waarna sy soek, is aanknopingspunte om opmerkings oor haarself te maak.

Ronel Nel se bespreking van Kissmas in Mosambiek is eweneens ‘n besonder positiewe resensie. By die eerste lees daarvan het sy my oortuig oor die boek – na analise van die resensie wonder ek of sy nie meer moes gewerk het aan haar skryfwerk nie.

Die grootste fout wat sy maak, is om in die tweede paragraaf die boek voor hande te vergelyk met die wenner van verlede jaar se Exclusive Books Boeke Prize, naamlik Relf Larsen se The Selected Works of T.S. Spivet. Hoe seker kan mens wees alle lesers sal só ‘n vergelyking positief ervaar? Dis ‘n berekende waagstuk om so-iets te doen, want jy weet dadelik dat jy ‘n groot deel van jou leespubliek gaan laat wegdeins, al is jou argument hóé goed.

Daarna wend Nel haar tot ‘n retoriese styl wat dadelik dui op die krag waarmee die boek tot die resensent gespreek het: Kort sinne, soms net ‘n paar woorde, vaart, dinamiek. Dan, wanneer sy by haar slotopmerkings en samevatting kom, ontspan die resensent in langer sinne in, voordat sy weer blitsinne gebruik om te sluit.

Die liggaam van die resensie oortuig mens dermate dat Nel die Spivet-vergelyking vergewe kan word. Wat sy wel kon gelaat het, is die slot: “En die titel? Lees en vind uit …” Dit sal miskien deug in ‘n skoolopstel, maar nie in ‘n dagblad-resensie nie. Alles wat sy daarmee wou bereik, is reeds implisiet teenwoordig in die manier waarop sy jou leesritme gemanipuleer het, en wat sy daartydens gesê het. Overdaad!

2 antwoorde op Die kuns van ‘n positiewe resensie

  1. abrham het gesê op Julie 27, 2010

    nice, net ‘n vinnige vragie
    wat het jy teen slotte

  2. crito het gesê op Julie 30, 2010

    @abrham: Nee, ek’s mal oor daardie Victor Matfield en die Van Zyl van die WP. En Bakkies Botha as hy skoon speel. Hou net nie van vuil spelers nie.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.