by

Trustaan

Julie 13, 2010 in Sonder kategorie

Francois Bloemhof bespreek vandeesweek in Die Burger die nuwe roman deur Chris Karsten, Abel se ontwaking. ‘n Netjiese, bondige resensie – positief in aard, met punte van kritiek wat daarvan getuig dat die resensent ook ‘n gepubliseerde skrywer is van speurverhale en weet waarvoor om op te let.

Tog moet ‘n mens jou dadelik afvra of Bloemhof hom nie liefs aan hierdie resensie moes onttrek het nie.

Op Bloemhof se webwerf openbaar hy dat hy in ‘n dispuut gewikkel is met NB-Uitgewers. Chris Karsten of Abel se ontwaking het niks met die dispuut te make nie, maar NB-Uitgewers, onder wie se vlerke Abel se ontwaking verskyn het, is volgens sy webwerf in sy visier met hierdie dispuut.

Bloemhof het hom nog altyd in sy resensies openbaar as ‘n ewewigtige resensent met baie deernis vir skrywers. ‘n Mens lees nooit sy resensies en vermoed ‘n verskuilde agenda nie. Sy bespreking van Abel se ontwaking is ‘n bewys daarvan dat hy oor die boek en niks anders as die boek skryf nie.

Maar wat sou hy gedoen het as hy Abel se ontwaking ‘n ellendige roman gevind het? Hoe sou hy hom dán kon vrywaar van beskuldigings dat hy ‘n ander agenda het?

Kyk ‘n mens na wat hy op sy webwerf skryf oor sy verhouding met NB-Uitgewers, en sy onsekerheid oor sy toekomstige bande met dié uitgewer, dan sou dit wys wees om hom vir tyd en wyl te onttrek aan resensies van hul publikasies. Dit sal gewoon sy onkreukbaarheid bevestig.

Sodra die dispuut afgehandel is, kan hy maar lostrek.

***

Joan Hambidge skryf in dieselfde koerant oor Jeanne Goosen se Plante kan praat. Vergelyk mens dié resensie met die een wat Riette Rust in Rapport gepubliseer het, is dit dadelik opmerklik dat Hambidge uit die akademiese hoek kom, maar dat sy ook té sterk onder die invloed van die verhale se inhoud gekom het om by ‘n suiwer literêre analise van die bundel te bly, en dus soms in die rigting van Rust se soort aanpak beweeg.

Sy slaag goed daarin om in die geheel te verduidelik waarom Goosen in elke verhaal die leser boei. Trouens, haar analise het my herinner aan Italo Calvino se opsomming van Kafka se trefkrag: “Die ware uitdaging vir ‘n skrywer is om te praat oor die verwronge gemors van ons tydvak, en die taal só deursigtig te gebruik dat die leser dink hy hallusineer.”

Nietemin het ek met die herlees van Hambidge se resensie besef dat die leser sal moet soek vir die sin, of sinne, waarin Hambidge haar mening oor die bundel wegsteek. Ek meen ek het hulle gevind: “Met só ’n gedugte skrywer is die leser altyd geneig om tekste te vergelyk met ’n hoogtepunt en dan leesplesier te versmaai.  Dit sal ’n fout wees om hierdie boek met ander Goosen-tekste te wil vergelyk.”

My afleiding hiervan is dat Hambidge voel Plante kan praat steek af teen die beste in Goosen se oeuvre.   Sy gaan dan ook voort om te sê dit is “besonderse, eenvoudige verhale”, baie soos haar rubrieke in By.

Ek vind hierdie opsoming van die kwaiteite en waarde van die bundel uiters problematies – omdat ek Goosen se By-rubrieke swak en uiters vervelig vind. Of is dié byhaal van die By-rubrieke juis Hambidge se manier om die mindere waarde van hiedie kortverhale finaal te sinjaleer?

***

Otto Liebenberg se bespreking van Handelsryk in die Ooste: Die wêreld van die VOC 1619-1685 deur Karel Schoeman (in die Volksblad) is ‘n foliant van ‘n resensie.

Waar mens hom krediet moet gee daarvoor dat hy nie die voor-die-hand-liggende gedoen het en verwys het na die sokkerstryd tussen Spanje en Nederland ‘n dag later nie, wonder ek tog of hy nie sy verwondering en bewondering vir die outeur in sy skrywe effe moes getemper het nie.

Veral omdat dit sekere formulerings in die rigting van cliché druk: “die ikoniese Karel Schoeman”, “sy magistrale verwysingsveld”, “sy bronnemeesterskap”, “verbluffend skeppende skryfstyl” en so meer. Liebenberg oeloeleer selfs oor die register van terminologie.

Die oordaad aan ophemeling en grootogige pluimstrykery laat vrae ontstaan oor die resensent se kritiese ingesteldheid. Ek glo nie dit sal sommer gebeur nie, maar wat sal Liebenberg doen as iemand hom daarop wys dat die keiser nie klere aanhet nie?

Lof het nie trompetgeskal nodig nie.

3 antwoorde op Trustaan

  1. crito het gesê op Julie 13, 2010

    @Francois via MaanKind: Dankie vir die agtergrond. Ek begryp dis ‘n moeilike situasie waarin jy verkeer en dat die presiese tydbepaling van wanneer die resensie verskyn, nie in jou hande is nie. In hierdie geval was daar geen skade na enige kant nie, maar gestel jy het “Abel” te lig gevind? Ek glo nie dit sou bygedra het tot die vinnige oplossing van die dispuut nie!
    Maar ek het baie simpatie – en ek hoop dat jy meer Afrikaanse boeke wil resenseer ná die turbulensie.
    Interessante gedagte oor die kies van eweknieë as resensente. Moet digters ander digters se werk bespreek? My eerste reaksie is: Hoekom nie? Dit is wanneer die verskuilde agendas oorhand begin kry oor gesonde verstand dat sulke resensente mens hinder. Dit gebeur gelukkig nie te dikwels nie, net ongelukkig dat sommige van die agendas al so in die oopte is dat ons selfs hier op Stellenbosch daarvan gehoor het.Dan lees mens die resensies maar met ‘n oog vir die humor daarin.

  2. crito het gesê op Julie 16, 2010

    @Lo-Ammi: Dit lyk my nie of die saak opgelos sal word alvorens al die betrokkenes mekaar in die oë kyk nie. My vriende in die uitgewerswese sê vir my dat NB (en sy voorgangers) nog altyd ‘n uitgewer was wat skrywers besonder billik behandel het in hul kontrakte. Ek neem aan dat hulle baie hard sal probeer om dié beeld te beskerm. Marinda Engelbrecht moet eweneens ook haar kans kry om behoorlik te reageer. Daarna sal mens eers werklik weet of hier skade berokken is wat nooit ongedaan gemaak kan word nie – na alle kante toe, vermoed ek.

  3. crito het gesê op Julie 20, 2010

    @Lo-Ammi: Volgens Francois Bloemhof se Faceboek-inskrywing is die saak nou in der minne geskik. As ek die saak so bekyk, is die enigste mense wat sleg daarvan afgekom het, diegene wat kwetsende opmerkings op Francois se Facebook-inskrywings gemaak het.
    @ Francois: Gaan meer detail bekend gemaak word? Nou hou ek net duim vas dat jy aan die skryf sal bly!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.